top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 14 Junie 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (34)

Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (19)


Jesus se lig skyn altyd in ons donkerte


Hand. 13:46-47 – “Paulus en Barnabas het reguit vir hulle gesê: ‘Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie, 47 want so lui die Here se opdrag aan ons: Ek het U gegee as ‘n lig vir die nasies, sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.” (4)


Vergelyk ook Joh. 1:4-5 – “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5 Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”


Jesaja het eeue gelede beskryf hoe God as die Lig in die donkerte van Sy volk Israel geskyn het: "Die volk wat in donkerte geleef het, het 'n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het 'n lig geskyn" (Jes. 9:1). Net so het Jesus as die Lig van die evangelie na ons wat in die donkerte van sonde gehul was, met ‘n uitnodiging gekom – “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh. 8:12).


Indien ons die uitnodiging van Jesus sou aanneem, verander baie dinge. In plaas van donkerte van verderf, het ons die Lig van vrede en seën; die ewige donkerte van die dood word vervang met die Lig van die ewige lewe; die donkerte van onkunde, verander in die Lig van kennis en insig; die donkerte van die sonde word vervang met die Lig van genade en redding en hierdie redding veroorsaak ‘n totale ommekeer in ons lewe.


Al is die donkerte so dig dat dit spreekwoordelik “voelbaar” is, kan dit nie eers ‘n klein kersvlammetjie uitdoof nie – wat nog te sê van die lig wat Christus aangesteek het – “die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” Daardie lig skyn aanmekaar in die duisternis. Dit is veelseggend – toe die Lig op Golgota gekruisig is, was daar vir drie ure totaal en al duisternis. Die son het opgehou om te skyn, want die Lig was dood! En sonder die Lig was die wêreld verlore! Daarom is elke Sondag opstandingsondag, die fees van die Lig, waarin ons herinner word dat Jesus opgestaan het, dat die Vader in al Sy grootheid die Lig vir ewig weer kom “aanskakel” het!


Jesus wil vandag binne my en jou hart en ons lewe kom staan soos Hy in die tempel gaan staan het en ‘n uitnodiging gerig het: “... wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh. 8:12). Hy wil kom staan daar waar dit donker mag wees. Hy gaan ons vooruit en gaan wag daar waar Hy weet dit dalk vir ons nag en donker kan raak, daar waar die dood is! Hy gaan staan in my en jou donkerte om dit lig te maak. Hy wil Sy plek kom inneem in elke mens se lewe waar donkerte heers en wat smag na Sy lig.


Paulus wat eens op ‘n tyd soos ‘n besetene die volgelinge van die Here bedreig het, se lig skyn nou in alle rigtings. Net so het die apostels, eenvoudige vissermanne, die lig van die evangelie geplaas waar almal dit kon sien en hoor. Hulle verkondiging van die evangelie het daartoe bygedra dat die Christendom van ‘n handjievol na ongeveer twee biljoen gegroei het in 2 000 jaar!


Hoe skyn ons ligte? Is dit sigbaar in alle rigtings sodat almal dit kan sien? Sal ander die Here aanneem as ons voorbeeld gevolg word? Jesus het belowe dat “ons krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom en ons Sy getuies in die wêreld is” (Hand. 1:8). Ons as Christen gelowiges moet dus daardie lig vir die wêreld laat skyn want die Heilige Gees het ons verander om in Jesus te glo (Ef. 5:8). As ons al die ligte in die huis afsit en ons steek ‘n kers aan, dan maak dit mos lig daar waar ons staan en kan ons rondom ons sien. Maar die lig van die kers gaan nie help as ons die kers in die kombuis los terwyl ons badkamer toe loop nie! Ons moet die lig saamvat! Voor ons uithou. En as ons die lig voor ons uithou sal ons kan sien waar ons loop.


’n Dissipel van Jesus is iemand wat nie die lig Sondae in die kerk los nie, maar dit Maandag tot Saterdag, voor hom uithou! ’n Dissipel van die Lig is iemand wat elke dag die Lig kies! Kies om die lig, die mooie, die goeie, die genade, in die donker raak te sien omdat ons Jesus raaksien! As mense van die Lig het ons ’n doelbewuste keuse gemaak teen die donker van sonde en verleidings van die wêreld omdat ons die Lig wil volg, wil saamvat, voor ons wil uithou, want “in Hom (is) daar lewe, en dié lewe (is) die lig vir (my en jou).” Jesus gaan staan op die plek waar dit donker is, of waar dit miskien eendag donker mag raak, “al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20b). Ek en jy moet net sorg dat ons Hom daar ontmoet!


“Een mens se gloeiende persoonlike getuienis van ‘n ontmoeting met die Here is net so goed soos ‘n biblioteek vol abstrakte argumente” (Vance Havner).


Gebed: Jesus, Lig van my lewe, dankie dat U vir my wag waar dit donker is om dit vir my lig te maak. Ek wil U lig volg, voor my uithou sodat ek nie in die donker kan val nie. Help my daarmee asseblief Jesus. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page