top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Feb 22, 2022
  • 4 min read

Dinsdag, 22 Februarie 2022

Koos Espach


Jesus het opgestaan (5)


Jubel in Sy opstanding


Joh. 20:9-13 – “Petrus en Johannes het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moes opstaan nie. Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan. Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. Hulle vra toe vir haar: ‘Mevrou, waarom huil jy?’ Sy antwoord hulle: ‘Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.”


Vergelyk ook Ef. 1:18-20 – “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet ... hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek het ...”


Maria Magdalena se wêreld het skynbaar ineengestort. Sy kan nog duidelik die dag onthou toe Jesus haar van duiwelbesetenheid verlos het en sy daarna besluit het om Sy toegewyde volgeling te word (Luk. 8:2). Sy was uit liefde, een van die laastes by Jesus se kruis en eerste by Sy graf om Sy liggaam met speserye te balsem, en nou het iemand oënskynlik Sy liggaam gesteel. Nadat Sy vir Petrus en Johannes vertel het van die oop graf, volg sy hulle daarheen terug. Met haar aankoms by die graf, het die dissipels intussen teruggekeer huistoe. Petrus en Johannes was nou van Jesus se opstanding oortuig, want hulle het gesien en geglo.


Blykbaar, sonder om van die dissipels te verneem dat hulle oortuig is van die opstanding van Jesus, bly Maria by die graf waar sy in droefheid huil oor die wegraak van die liggaam van haar Here. Sy kyk nou in die graf in en sien nie die doeke nie maar twee engele in wit klere. Maria sien presies waar elkeen sit en neem alles nugter waar. In Jesus se opstanding het die hemel op ‘n spesiale manier oopgegaan. Die teenwoordigheid van die engele beklemtoon die betrokkenheid van God by Jesus se opstanding: “Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op-en afklim na die seun van die mens toe” (Joh. 1:53).


Terwyl sy in wanhoop snik oor haar onherstelbare verlies, spreek die engele haar beleef aan en vra: “Mevrou, waarom huil jy?” Met dieselfde woorde as haar boodskap aan die dissipels, hou sy vol dat Jesus se liggaam deur vyande gesteel is en nou op ’n onbekende plek begrawe is. Haar droefheid hang ook saam met haar voorneme om Sy liggaam behoorlik te versorg vir die begrafnis, en nou kon sy daardie voorneme nie uitvoer nie. Daarom treur sy.


Maria Magdalena het haar Here gaan soek en bevind haar voor Sy leë graf. Soos Maria moet ons ook soek na ons Here, is dit miskien ook nodig om in droewige, hartverskeurende tye, tye wanneer niks sin maak nie en dit voel of my en jou lewe verkrummel, weer in die leë graf van Jesus in te kyk. Mis ons ook ons Here gedurende Paasfeeste of is Hy ook dalk weggeneem uit ons huise, ons harte, uit die lewe van die jeug, uit intellektuele kringe? Raak ons nie dalk te besig tydens Paasfees met ons eie dinge, eie sake, eie belange, terwyl die grootste gebeurtenis ooit in die geskiedenis van die wêreld besig was om voor ons af te speel nie?


Het ons, terwyl ons in die leë graf ingekyk het, weer in geloof saam met Jesus die lydenspad gestap? Laat Goeie Vrydag ons weer besef hoe lief God ons werklik het sodat Jesus vir ons moes sterf aan die kruis? Juig ons Paassondag saam met die engele omdat God vir ons die ware lewe gegee het?


Elke keer wanneer ons in die leë graf in kyk en opreg na ons opgestane Heer soek, sal ons ‘n verrassende ontdekking maak: Dit is ‘n verlate graf wat ons hoop gee. Die leë graf belowe dat niks, selfs nie eers die dood nie, die koninkryk van God laat onherstelbare verliese ly nie! Paasfees beteken nuwe lewe, Godgegewe lewe, want God lewe! Jesus Christus lewe! Ons kan jubel in Sy opstanding! Solank daar nie geloof in die opstanding is nie, is daar alleen maar droefheid. Omdat Jesus ja gesê het vir Sy pad van lyding, is die kruis kaal en Sy graf leeg. Daarom bruis daar lewe tot anderkant die dood vir jou en my, en daarin kan ons jubel en die Naam van die Drie-enige Here prys!


“Die opstanding word nooit vir ‘n mens ‘n werklikheid totdat die opgestane Here in jou hart lewe nie”

(Peter Marshall).


Gebed: Opgestane Here en Verlosser, dankie vir die leë graf. Dankie vir hierdie geskenk van die lewe. Dit is vanuit die verstaan van U kruis en opstanding, waar ek my onvermoë, my geestelike armoede, besef. Wanneer ek in U leë graf in kyk, weet ek dit is waar my geestelike krag vandaan kom en ook die plek waar die misleiding van die bose, maklik onderskei kan word. As Christen het ek steeds swakhede, maar U krag word in my swakheid volbring: “U genade is vir my genoeg. U krag kom juis tot volle werking wanneer ek swak is” (2 Kor. 12:9). Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Vrydag, 18 April 2025 Koos Espach Annas en Kajafas verhoor Jesus   Elke dag ‘n getuie van Jesus   Joh. 18:19-21 – “19 Die hoëpriester...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Donderdag, 17 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Die...

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page