top of page

Gedagte vir Vandag

  • 2 days ago
  • 4 min read

Vrydag, 3 Julie 2026

Koos Espach


Riglyne vir die Christelike lewe (8)


Liefde vir familie

 

Rom. 12:9-10 – “Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. 10Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.” (8)

 

“Jou vriende kan jy kies maar ongelukkig moet jy jou familie aanvaar soos hulle is”. ‘n Welbekende gesegde wat deur menigte mense al ge-uiter is, maar Bybels natuurlik nie korrek is nie. “Die Vader het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (Ef. 1:3). Die verhouding in ons familie het ‘n groot invloed op ons. Dit is moeilik om met blydskap te lewe as ons nie oor die weg kom met die mense naaste aan ons nie. Ongelukkig is dit so dat baie mense se lewe gekenmerk word deur diep pyn van koudheid en selfs verwerping deur slegte familie-verhoudings. Baie probeer ‘n gelukkige front voorhou maar dikwels is daar groot hartseer agter geslote deure.

 

Hoe kan ons blydskap in die Here ervaar wanneer daar skynbaar net ongelukkigheid tussen ons familielede is? Daar is seker nie ‘n maklike oplossing vir ingewikkelde familieprobleme nie, maar ons kan beslis op die Here vertrou om vir ons die pad vorentoe te wys. God wil vir ons familie alles gee wat ons nodig het, álles. Ons kan dit egter net deur Jesus kry. In Efesiërs kom die term "in Jesus," sewe en twintig keer voor. God wil deur Paulus graag vir ons daaraan herinner dat ons seëninge en volheid net “in Jesus” kry, en deel van hierdie seëninge, is ons familie.

 

Wat het Jesus kom doen? Paulus skryf dat Hy vir almal wat in Hom glo, “deur die een Gees vrye toegang tot die Vader” (Ef. 2:18b) bewerkstellig het. Ons het as familie vrye toegang tot die Vader. God is vir almal Vader, wat nét deur Jesus na Hom toe kom. Jesus het Sélf gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh. 14:6). 

 

In die eerste plek geld dit vir die breë familie van God. Hy is nie Vader vir een kultuurgroep, volk, taalgroep of kerk, en nie vir die ander nie. Die Bybel kan dit nie sterk genoeg stel nie: geen mens, kerk of volk het alleenreg, of 'n groter reg as ander op die Vader nie. Nêrens in die Bybel kry ons enige plek waar God Hom eksklusief vir ‘n paar mense beskikbaar stel nie. Wanneer enigiemand deur geloof in Jesus Christus na God toe kom, is God volledig, in alle opsigte, sy of hulle Vader.

 

Dit geld ook vir ons familie! Jesus het die deur vir al die lede van ons familie na die Vader oopgemaak. Hoe die geskiedenis of samestelling of huidige situasie van ons familie ook al mag wees, kan ons weet: ons het deur Jesus ‘n Vader en ons het vrye toegang tot die Vader. Jesus se kruis wys ons hoe belangrik opofferende liefde, vergifnis vir wonde wat toegedien is en ‘n hand van vriendskap, ten spyte van ongenaakbaarheid is. Die kruis wys vir ons “die liefde moet opreg wees. Ons moet verafsku wat sleg is en eerbied teenoor mekaar bewys.”

 

Ons samelewing bestaan uit ‘n wye verskeidenheid families – kernfamilies (eerste huwelik ouers en kinders), saamgestelde families (tweede huwelike waar dit my, jou en ons kinders is), oupa en ouma families (beide ouers is dood en nou maak oupa en ouma hulle groot), enkelouers (waar ouers geskei is of waar een van die huweliksmaats gesterf het) en dan selfs “childheaded families” (beide ouers is dood en die oudste van die kinders, is dan in beheer van die familie. Hoe moet ons hieroor dink?  Dit maak nie saak nie, die vraag is eintlik hoe dink God daaroor? Hoe leef God verskeidenheid? In die eenheid en verhouding tussen die drie-Eenheid vind Christene ’n voorbeeld van wat dit beteken om aan mekaar verbind te wees en in verhouding tot mekaar te leef en te respekteer (Joh. 17).

 

God gee vir elke lid van ‘n familie ‘n besondere vermoë waarmee die lid die res van die familie moet respekteer, dien en ondersteun. Die belangrike is dat die Here ons hande en voete en mond gebruik om sy ondersteuning op aarde sigbaar te maak. Een van die mooiste dinge wat ons seker vir mekaar kan sê is: “Ek is daar vir jou. Dit maak nie saak hoeveel draaie die lewe met jou loop nie. Ek is daar vir jou.” Leef in liefde, dis die eerste, dis die beginsel, dis die wegspringplek. Wanneer ons met Jesus se liefde na ons familielede toe gaan, help dit ons op die pad na innerlike vrede!

 

“Die grootste geskenk wat jy vir jou familie kan gee, is ‘n stukkie van jouself” (Ralph Emerson).

 

Gebed: Here, oral waar ek gaan, laat ek vingerafdrukke agter: op die hande wat ek aanraak, deurknoppe, eie-familie, familie-in Christus – oral. Here, help my om vandag, waar ek ook al gaan hart-afdrukke na te laat. Hart-afdrukke van regverdigheid en deernis; van begrip en liefde; van barmhartigheid en belangstelling; hart-afdrukke van hartlikheid en vriendelikheid, van omgee en respek. Mag my hart vandag 'n ander hart aanraak en 'n afdruk laat van U liefde. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page