Gedagte vir Vandag
Woensdag, 26 Januarie 2022
Koos Espach
Jesus sterwe (1)
Jesus se laaste woorde terwyl Hy sterf – Sy eerste kruiswoord
Matt. 27:41-43 – “Net so het die priesterhoofde saam met die skrifgeleerdes en die familiehoofde ook gespot en gesê: ‘Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie. Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo. Hy het op God vertrou; laat God hom nou red as Hy dan behae in hom het. Hy het immers gesê hy is die Seun van God!”
Vergelyk ook Luk. 23:34 – “Toe sê Jesus: ‘Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Golgota, die Plek van die Kopbeen, net buitekant die stad Jerusalem, was Jesus se laaste bestemming daardie Vrydag. Teen negeuur die oggend is Hy wreedaardig vaskekap aan ‘n kruis, wat volgens die kerkleier Tertullianus (160-225 n.C.), die vorm herinner aan dié van ‘n man wat regop staan met uitgestrekte arms. Jesus het nie baie woorde oorgehad aan die kruis nie. Sy moeë en gebroke liggaam en gestorte bloed, was die regte woorde, ‘n taal wat oorgenoeg was vir alle gelowiges tot in die verste ewigheid. Vir ongeveer ses ure op daardie Goeie Vrydag, wat eintlik ‘n Swart Vrydag was, het Jesus aan die kruis gehang en kon Hy met ‘n sterwensasem, tóg sewe keer praat.
Asof Sy verskriklike pyn nie genoeg bygedra het dat die lewe stadig uit Hom begin vloei het nie, het die godsdienstige leiers vir oulaas ‘n draai kom maak om hulle “oorwinning” te vier en Jesus “ook gespot.” Hoe hartseer dat hulle só sonder begrip was. As hulle maar net geweet het dat Jesus op daardie oomblikke besig was om die sondes van die ganse wêreld op Sy skouers te laai. Te midde van die ergste lyding denkbaar, kon Hy steeds nie ophou doen waarvoor Hy aarde toe gekom het nie, naamlik om God se verlore eiendom te soek, te vind en te red.
Jesus se reaksie op “die priesterhoofde, skrifgeleerdes en die familiehoofde se spottery,” is nie woede en verbittering nie! In hierdie oomblikke van diepe smart, is Sy hart steeds vol vergifnis en demonstreer Hy sy opdrag aan die mensdom wat Hy tydens Sy Bergpreek gegee het: “Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg” (Matt. 5:44). Jesus bid in Sy bittere lyding eers vir ander, nie vir Homself nie. Hy het vergifnis gepreek en nou leef Hy vergifnis uit aan die vloekhout.
Wie is Jesus se vyande? Die maklike antwoord is “hulle” wat saam geskreeu het “kruisig Hom!” Of dalk die Romeinse soldate wat Hom met ‘n doringkroon verneder het en vasgespyker het aan die kruis; of Pilatus, Herodus, Kajafas en die Joodse Raad wat Hom tot die dood veroordeel het; dalk Judas en Petrus; almal wat Hom verneder het, geslaan en gespot het. Gerieflikheidshalwe word die vinger na hulle gewys, hulle is die “hulle wat Jesus vra Sy Vader moet vergewe want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Jesaja profeteer egter: “Hy het die sondes van baie op Hom geneem en vir oortreders gebid” (Jes. 53:12c). Paulus op sy beurt het gesê: “Ons het almal gesondig en is ver van God af” (Rom. 3:23). Jesus stel hier aan die kruis vir ons ‘n voorbeeld van die gebed wat Hy ons oor vergifnis geleer het: “Vader vergeef ons ons sondes, soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree (Matt. 6:12).
So pleit Jesus steeds vandag nog vir ons ook by Sý Vader in die hemel, en deur Sy offer het dit ook óns Vader geword (Rom. 8:34). Ons is dus deel van die “hulle”. Die kruis op Golgota is ‘n simbool van “vergifnis”, dit is waaroor die kruis gaan. Die regop paal van die kruis simboliseer God se vergifnis aan ons, (vertikaal van “Bo” na onder), en die dwarsbalk simboliseer ons mense se vergifnis aan mekaar. Jesus as die middelpunt op die kruis roep uit: “Vader vergeef hulle …”, en dan sê Hy eintlik aan ons in die eerste plek, dat ons ‘n gesindheid van liefde en genade moet hê: “Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het” (Ef. 4:32).
Tweedens sê Jesus dat vergifnis vryspraak is wat ek en jy teenoor ander moet verleen: “Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie” (Luk. 6:37). In die derde plek beteken vergifnis om onsself te bevry: “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredinge vergewe” (Mark. 11:25). Die liefde van die gekruisigde Jesus vra van almal wat in Hom glo, dat dit dieselfde liefde is wat ons lei in ons kontak met die wêreld rondom ons.
“Jesus se bloed by Golgota het vir altyd ‘n streep deur menslike bloedvergieting geplaas” (Stephan Joubert).
Gebed: Heilige Jesus, dankie dat U vir my gebid het lank voor my verlossing en nog steeds vir my intree by ons Vader. Dankie dat U juis intree wanneer ek so maklik deur my sonde U weer en weer aan die kruis vasspyker. U het om my ontwil uit liefde uit, U lewe as ‘n offergawe gegee by Golgota. Dankie dat U my met hierdie kruiswoord geleer het om nie net vergifnis te ontvang nie, maar om vergifnis ook te gee. Laat ek mense liefhê ten spyte van hulle houding teenoor my. Amen.
Commentaires