Gedagte vir Vandag
22 Okt 2020
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.
(Matt. 16:21–25:46)
JESUS KONDIG DIE EERSTE KEER SY DOOD EN OPSTANDING AAN (2).
(Mark. 8:31-33; Luk. 9:22)
ROTSMAN OF SATAN – SLEUTELDRAER OF STRUIKELBLOK?
Matt. 16:22-23 – “Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: ‘Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.’ Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: ‘Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”
Vergelyk ook 1 Pet. 2:6-8 – “Kyk, Ek lê in Sion ‘n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie. Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die woorde: ‘Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword’ en: ‘’n klip waaroor ‘n mens struikel en ‘n rots waarteen jy jou stamp.”
Jesus se optrede tydens Sy aardse omswerwinge was só buitengewoon dat selfs Sy dissipels nie van die begin af begryp het wat aangaan nie en dikwels verkeerde afleidings gemaak het. Dit is presies wat met hulle nou weer gebeur het. Petrus, wat weer as segsman oorneem, kon die logika en sin van lyding deur die “Seun van die lewende God” nie begryp nie en probeer dit verhoed. Petrus voel hom genoodsaak om Jesus reg te help – as U die “Seun van God” is, kan U ‘n leërskaar engele gebied om U te beskerm teen lyding. Hy moet Jesus daarop wys dat die gedagtes van lyding en dood nie by die Joodse opvatting van die Messias pas nie. Hy wat pas die Christus-belyer was, is nou die Christus-teenstander. Die leerling wil optree as leermeester, en stel hom daardeur in die diens van Satan.
Jesus reageer skerp op Petrus se berisping. Eerstens wys Hy Petrus, die rotsman van so pas, hier met dieselfde woorde af as vir die duiwel in die woestyn (Matt. 4:10). Petrus wil net soos satan Hom versoek om die maklike pad te laat loop, ‘n soort van kompromie aangaan – die versoeker het Jesus herinner dat die “Seun van God” alles kan besit wat Hy wil: Gee mense brood; voorsien aan hulle materiële behoeftes; gee hulle sensasie, wonderwerke; verminder U standaarde en hulle sal U volg. Dis nie nodig om te ly wat selfs na U dood kan lei nie.
So in my geestesoog sien ek Petrus hoe vat hy Jesus om Sy skouers en “neem Hom opsy terwyl hy Hom berispe.” Hoe kan U as “die Seun van God” sulke onbesonne dinge kwytraak? Ek kry hom eintlik jammer toe Jesus hom so skerp antwoord dat hy nie in “Sy pad moet staan nie!” Dit is weliswaar ironies dat die rotsman, satan word; die sleutel-draer, nou meteens ’n struikelblok word. Waar God Petrus se belydenis (v. 16) geïnspireer het, is dit sy menslike opvattings oor Jesus, wat Petrus Satan se rol as versoeker (v. 22) laat inneem. Helaas hét Petrus wel met God se Seun te make, en dan geld ander beginsels!
Markus skryf Jesus het “omgedraai en vir Sy dissipels gekyk terwyl Hy Petrus berispe” (Mark. 8:33). Jesus draai weg van “satan” af en plaas Sy struikelblok agter Hom! Hoe draai ek en jy weg van ons menslike denke wanneer ons met “die Seun van God” te doen het? Ons getuig immers net soos Petrus dat “Jesus die Christus, die Seun van die lewende God is”. En ons weet dit is iets wat van God af kom. Iets wat ons nie noodwendig kan verklaar nie, maar hoe begin ons om soos Jesus te dink en ons struikelblokke agter ons te plaas? Paulus skryf ons “moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat ons moet doen” (Ef. 5:17). En dit raak moontlik wanneer ons dit deur die Heilige Gees op God se manier doen en nie “wat die mense wil hê nie.”
Die enigste manier om bogenoemde vrae te beantwoord en ontmoedigende ondervindings te vermy, is om God se leiding te soek in álles. God is nie net beperk tot Sondae in ‘n kerkgebou nie, feit is dat Hy betrokke is by elke omstandigheid van my en jou lewe deur sy Gees. Wanneer ons meer tyd deurbring in die stilte van Sy teenwoordigheid, groei ons om ‘n meer sinvolle geestelike lewe te ontwikkel. Elkeen is verantwoordelik vir sy eie verhouding met ons lewende Here. Ons is maar baie kwesbaar en weerloos, maar wanneer ons deur die Heilige Gees die totale beheer van ons lewe oorgee in die hande van Jesus Christus, ondervind ons ‘n nuutgevonde sekerheid dat Hy ons op die regte pad van oorwinning sal lei. Wanneer Jesus beheer oorneem verander ons van satan na rotsman, struikelblok na sleuteldraer!
“Jesus het vir Sy volgelinge gesê die Heilige Gees sal vir altyd by ons wees. Dis geen wiegelied vir die lafhartige nie, dis ‘n bloedoortapping vir ‘n oorwinnende lewe” (E Paul Hovey).
Gebed: Christus my Here, niks in hierdie lewe is so ontmoedigend as wanneer my goed uitgewerkte plannetjies nie wil realiseer nie. Ek meen, ek tref nougeset reëlings vir my gesinslewe, my sportlewe, ag, feitlik enigiets in my lewe, maar dit neig telkens na teleurstellings. Dankie Here dat U nie moed opgee met my nie, maar in my bly werk deur U Gees. Dankie Gees dat ek U met vrymoedigheid kan vra om Leidsman van my lewe te wees. Vul my met liefde, hoop en krag sodat ek kan wees wat U wil hê ek moet wees. Maak my ‘n rotsman, ‘n sleuteldraer van God se koninkryk en staan my by dat ek nie ‘n struikelblok vir ander sal wees nie. Amen.
Opmerkingen