top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 25 Mei 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (93)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (39)

(Matt. 21:1–22:46)


Die vraag oor die grootste gebod (2)

(Mark. 12:28-34; Luk. 10:25-28)

Liefde is nie ‘n “of-of” situasie nie, maar ‘n “en-en!”


Matt. 22:34-40 – “Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, en een van hulle, ‘n wetgeleerde, het Hom met ‘n vraag probeer vastrek. ‘Meneer,’ vra hy, ‘wat is die grootste gebod in die wet?’ Jesus antwoord hom: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”


Dit word 'n wedywering onder die volksleiers om Jesus met hul spitsvondige wysneusigheid vas te trek. Noudat Hy die Sadduseërs se gebrek aan Skrifkennis ontmasker het, wil die Fariseërs weer hulle bekwaamhede in die Skrifte tentoonstel. Dié situasie bring hulle by die derde vraag wanneer hulle probeer om Jesus vas te trek op Sy interpretasie van die Wet. Op hulle vraag wat die grootste gebod van die Wet is, laat Hy Hom nie vasvang in hulle oneindige gestryery oor hul selfgemaakte wette nie. Hy antwoord hulle eenvoudig met Deuteronomium 6:5 en Levitikus 19:18 van die Skrif.


Jesus se verwysing na die grootste en eerste (fundamentele) gebod is ’n aanhaling uit die sjema-gebed (Deut. 6:5) wat daagliks twee keer deur Jode gebid is. Dit beteken dat Israel geen vals gode mag aanbid nie en Jahwe alleen moet dien. Op tipies Joodse wyse moet dit kom “uit die hart” as die bron van die denke, gevoel en wil; en “uit die siel” as die setel van die begeertes en luste; en “uit die verstand” waardeur die mens as redelike, verantwoordelike wese handel. Die hele gerigtheid van die liefde tot God moet “met alle krag” en in volle toegewydheid geskied. In dié woord van liefde tot God is die eerste tafel van die wet van Moses saamgevat. Naas die eerste gebod stel Jesus ’n tweede wat ewe belangrik is, en wat die samevatting is van die tweede tafel van die wet, naamlik die gebod van liefde tot die naaste. Dit is nie ’n gebod tot selfliefde nie, maar fokus volledig op die ander persoon, wat ook die vreemdeling insluit.


Dat die Wet en profete so saamgevat word, vertaal dat die hele Wet en profete letterlik daarop berus, dat dit nie sonder vervulling van hierdie twee gebooie vervul kan word nie. Alles in die koninkryk draai om liefde tot God en die naaste. Liefde is nie bloot ’n emosie nie, dit beteken ook nie presies dieselfde in beide gevalle nie. Teenoor God behels liefde gehoorsaamheid, verering en toewyding. Maar teenoor die naaste omvat dit barmhartigheid, konkrete diens wat die naaste se welsyn en heil beoog, ongeag die naaste se inherente waarde. Hierdie eis van radikale liefde as vervulling van die wet is die wesenlike en allesomvattende liefde en getrouheid aan die wet wat meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs (Matt. 5:20).


Wie is ons naaste? Dit is beslis nie ‘n keurlysie van mensename van ons keuse, en die res is vyande, nie. Is die meeste van ons se naamlys van vyande nie ook dalk langer as ons “Keurlysie van ons Naastes” nie? Maar ... ek kán nie só lief hê nie! Ek kan nie my naaste en veral die moeilikes so liefhê soos wat Jesus verwag nie. Ek kan nie maar net anderpad kyk terwyl hulle bedrieg, steel, beswadder, moor en met ‘n verkeerde lewe voortgaan asof dit vir ewig gaan hou nie. Ek kan nie in liefde saamleef met mense wat my bloeddruk laat styg – die regering, verkragters, moordenaars, verkeersmense, taxibestuurders, mense wat my sleg behandel het, almal wie ek nie kan vát nie! Want ... “ek is nou maar eenmaal so gemaak en so laat staan.”


Daardie gesegde dra nie water nie want God maak nie foute nie. Ons kán nie deel wees van daardie “so-gemaak-en-so-gelaat-staan” mense nie. Ons is na God se beeld gemaak (Gen. 1:26) en as dissipels van Christus, kan niemand ons verander nie! Daarom wil Jesus die Joodse rabbi’s en ons naamlyste van haat, in liefde verander. Ons Koninkrykskinders is anders! Ons is nuutgemaak! In Getsemane en op Golgota het Jesus die angs van die hel verander sodat ons as Sy dissipels, in Sy vrede ingesluit kon word! As nuwe mense dink ons nuut oor ander en alles en tree ons in liefde, nuut op! As sagmoediges maak ons vrede want ons is dankbaar dat ons afhanklik kan wees van God en Sy genade!


Wat doen ons méér as die wêreld? Hoe kan ‘n mens in die regte verhouding met jou medemens kom wat anders is as die wêreld se voorbeeld? As genade-ontvangers, is dit ons plig om in liefde met almal te leef. Ons moet anders wees as die Fariseërs. Jesus waarsku: “As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie” (Matt. 5:20). En die wet is om met God en ons naaste in die regte liefdesverhouding te wees. Liefde vir die vyand is dan om iets van Gód se liefde vir sogenaamde vyande in ons optrede te wýs. Dit sluit natuurlik satan, ons grootste vyand, uit!


Jesus het nie ‘n onbereikbare ideaal gestel nie want Hy weet God kan hierdie ideaal van naasteliefde deur die werking van die Heilige Gees moontlik maak! Dit is nie ons plig om te oordeel nie. Die “moeilike mense” moet self vir hulle verkeerde dade verantwoordelikheid aanvaar. As dissipel van Jesus is ons radikaal verander deur die Gees. Dit gun ons om daagliks só te lewe om ‘n voorbeeld vir ander te wees, om hulle lewe deur ons voorbeeld te verander sodat hulle ook strewe om na die wil van God en Sy beeld, te wil leef. Dít maak ons anders! ‘n Goeie voorbeeld ontbloot die duisternis en bring ons “vyande” ook in die lig.


“Moenie tyd mors om te wonder wie jou naaste is en wie jou vyand is nie. Tree op asof jy hulle liefhet dan sal jy ontdek dat jy hulle liefkry” (C.S. Lewis).


Gebed: Here, maak my ‘n instrument van U vrede. Waar daar haat is, laat ek liefde saai. U het om my ontwil uit liefde uit, U lewe as ‘n offergawe gegee by Golgota daarom is dit makliker om mekaar uit dankbaarheid te ondersteun en in liefde teenoor mekaar te leef. Help my om U voorbeeld te volg. Laat ek mense liefhê ten spyte van hul houding teenoor my. Werk deur my Here, om in liefde met almal te leef want dit oortref alles in waarde. Amen.

Comentarios


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page