Gedagte vir Vandag
- 3 days ago
- 4 min read
Vrydag, 22 Mei 2026
Koos Espach
Die nuwe lewe in Christus (18)
Jou ‘flaw’ van onmoontlikheid is God se moontlikheid
Rom. 12:6-8 – “Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe is om God se boodskap te verkondig, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. 7As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. 8As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.” (2)
Vergelyk ook Rom. 16:22 – “Ek, Tertius, wat die brief neergeskryf het, stuur ... ”
Paulus het ’n reuse nalatenskap vir ons in die vorm van dertien briewe in die Nuwe Testament gelaat, feitlik die helfte van die inhoud van die Nuwe Testament. Dié werk was selfs van groter belang as die drie groot sendingreise wat hy onderneem het. Dertien van die Nuwe Testament se sewe en twintig boeke is deur Paulus geskryf! Dit het ’n onberekenbare groot invloed gehad in die lewe, nie net van die groeiende kerk van sy tyd nie, maar regdeur die eeue en tot vandag toe nog in die breë Christelike kerk. Ek weet nie of julle geweet het nie, maar Paulus het ’n sekretaris gehad wat sy briewe namens hom geskryf het. Sy handskrif was dalk nie so vars nie.
Ten spyte van sy handskrif, kan ons die waarde van sy briewe moeilik oorskat. Van sy briewe het hy darem in sy eie handskrif geëindig: “Nou skryf ek met my eie hand. Groete, Paulus. So teken ek elke brief. Dit is my eie handskrif” (2 Tess. 3:17). In my geestesoog sien ek Paulus agter die boekrol inskuif, die inkveerpen stewig vashou en seker sy tong so halfpad by sy mond uitdruk en dit vasbyt, terwyl hy die brief afsluit. Ek dink hy was nie so gemaklik met ’n klein inkveerpen nie. Sy vingers eenvoudig te dik, te dom om die fyn draaitjies en krulletjies te maak. Daardie hande was gewoond om growwe diervelle te bewerk as ‘n tentmaker van beroep.
Dit was eintlik ’n tekortkoming, ’n ‘flaw’ in Paulus se lewe. Dis hoe hy deur die lewe gekom het. Rof en grof, en skryf was nooit eintlik op die kaarte nie. As Fariseër en student van rabbi Gamaliël het hy seker sertifikate van verdienste verwerf terwyl hy nog Saulus was. Ondervinding het hy opgedoen deur diep spore as vervolger van gelowiges te trap en gereelde toeskouer was terwyl hulle gestenig of gegésel word. Maar ... hy het seker al sy skrif- eksamens met vlieënde vaandels gedop.
Eintlik was dit nie in die eerste gedeelte van sy lewe ’n probleem nie, want sy invloed by die hoëpriester en sy pogings om die kerk uit te roei (Hand. 8:3), is nie geken deur sy handskrif nie. Maar toe verander sy lewe. Hy loop hom vas teen die lewende God op pad na Damaskus en sy hele lewe verander. Hy word ‘nuut’, selfs sy naam verander na Paulus en hy word geroep om die Evangelie uit te dra na ’n wêreld waar Jesus se lig nog nie skyn nie.
Sy handskrif het egter dieselfde gebly, en deel van sy roeping was om briewe te skryf, sodat ons vandag nog die boodskap duidelik kan hoor. Wat nou? Paulus kon seker sê: “Ai Here, ek is so opgewonde om U boodskap te gaan oordra. My voete jeuk en ek wil graag gaan. Ek is nie bang vir die vreemde nie. Daar is net een dingetjie wat pla, dis die briefskrywery. U ken mos die gekrap ..., wil U nie maar iemand anders stuur nie?”
Nee, Paulus maak ’n plan met sy ‘flaw’, hy stel vir hom ’n sekretaris aan. En dit het heel waarskynlik nie so maklik gegaan met die dikteerdery nie. Dalk was hy gefrustreerd oor die mannetjie wat nie vinnig genoeg kon skryf nie, of dalk sommer sy eie woorde ook daar wil vaspen. Maar maak nie saak nie, Paulus het sy ‘flaw’ oorkóm. En vandag kan ek en jy en miljoene ander Christene soveel leer uit sy geskrifte.
Hoeveel keer het baie van ons nie al in ons lewe gesê: “Jammer, daai is nie my roeping nie, ek kan nie, dis eintlik ‘n ‘flaw’ wat ek het.” Dis ’n flou verskoning. God wil my en jou gebruik om ‘n verskil in die wêreld te maak. Hy wil deur ons werk. Die belangrike is nie hoe lank ons lewe duur nie, maar hoeveel daarvan ons gebruik om ‘n diens te lewer. Ons moet net bereid wees om ons hart en denke oop te maak vir God se genadige invloed en wysheid. Hy sal aan ons krag en geestelike insig gee sodat ek en jy ons roeping as verteenwoordiger van Christus kan vervul. Wat keer dat ek en jy God se roeping om Hom te dien met die “genadegawes wat God aan elkeen van ons gegee het,” toe te pas?
“Dink daaraan dat elke klein reëndruppel help om die see vol te hou – en hou dan op sê dat jou bydrae te klein of onbelangrik is. Doen jóú ding in die gemeente waar God jou geplaas het. Hy sal jou sê wat dit is”
(Hannah More).
Gebed: Vader, U het aan my gawes gegee om tot U eer te gebruik. Ek wil graag as lidmaat van U kerk, met al my ‘flaws’ betrokke wees. Dankie dat U elkeen vir wie U roep, sal bekwaam. Amen.
Comments