top of page

Gedagte vir Vandag

  • 3 days ago
  • 4 min read

Woensdag, 1 Julie 2026

Koos Espach


Ons is veilig terug van vakansie en reis graag verder saam met Paulus.


Riglyne vir die Christelike lewe (7)


Huwelikstrou en liefde – huweliksmaats = hou-maats

 

Rom. 12:9-10 – “Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. 10Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.” (7)

 

Vergelyk ook Matt. 19:4-6 – “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? 5Daarom sal ‘n man sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees. 6Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie.”

 

“Die liefde moet opreg wees,” veral in die huwelik. Die huwelik kan óf een van die heerlikste dinge in die wêreld wees – en dit is soos wat God dit bedoel het – óf een lang uitgerekte marteling. Alhoewel geluk in die huwelik van baie faktore afhang, kan onsself baie doen om van die huwelik ‘n liefdesfees te maak. Die mens het egter as gevolg van die sonde, uit pas geraak met God se bedoeling vir die lewe van die mens, wat die huwelik ook insluit.

 

Liefde vir mekaar as huweliksmaats, begin om aan die hand van die Bybel, God se beeld te verteenwoordig. Hoe doen ons dit? Kortom, deur na mekaar se harte te luister. Jesus verklaar dat die huwelik deur God ingestel is. God maak die reëls, nie mense nie. Maak nie saak hoe mense redeneer om God se instelling af te maak as ‘n eenvoudige romantiese uitvindsel, of metode van sosiale beheer nie. Dit was God wat hierdie verbinding tussen één man en één vrou moontlik gemaak het (Gen. 2:18). Dit was God wat Eva na Adam gebring het (Gen. 2:22). Dit kan nie na willekeur afgemaak word as “outyds” of redenasies van “dit werk nie meer so in die nuwe millennium nie.” Dit is redenasies téén God se wil en teenstrydig met respek vir die huwelik!

 

Die huwelik is ook ingestel tussen een man en een vrou “en hulle twee sal een wees.” Poligamie, homoseksualiteit of enigiets anders wat teen God se instelling van één man en één vrou, indruis, is die gevolg van sonde. Huwelike waar mense nie by mekaar aanpas nie of waar die liefde “gesterf” het, het nog nie misluk nie – die mens het misluk – “hartlike liefde teenoor mekaar; eerbied teenoor mekaar,” respek vir die huwelik het misluk. Dit is nie God se skuld nie. God huil saam met duisende mense wat die pyn van egskeiding moet verwerk.  

 

En wanneer ruwe storms dreig om ons huweliksbootjies om te gooi, weet ons mos waar om hulp te gaan soek. Ons Christene ken immers die Man wat op water kan loop en enige storm kan stilmaak! Ons moenie toelaat dat die son oor ons “storm,” oor ons woede, ondergaan nie. Paulus sê “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel ‘n vatkans gee nie” (Ef. 4:26). Om kwaad bed toe te gaan beteken satan het hierdie rondte gewen.

 

Dit beteken ook nie om te wag totdat die “storm” eers uitwoed voordat jy gaan slaap nie, na vier dae se wag vir die “storm om te bedaar,” begin mens nogal vaak raak. “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind” (Kol. 3:13).

 

Stephan Joubert sê “ons moet plek maak vir die Heilige Gees in ons huwelik.” Geesvervulde mense se huwelik staan onder hemelse bestuur. Geesvervulde egpare “bewys eerbied teenoor mekaar en is mekaar daarin tot voorbeeld.” Daar is slegs plek vir een Derde Persoon in so ‘n huwelik. En dit is God self. Waar God die eregas van ‘n huwelik is, word dit makliker om dit in ‘n stukkie paradys te verander.

 

Geesvervulde egpare dien mekaar met hulle woorde en dade. Hulle probeer nie mekaar domineer of mekaar se persoonlikhede onderdruk nie. Hulle gee mekaar genoeg lewensruimte en ondersteun mekaar. Iemand het gesê Geesvervulde egpare beskerm mekaar teen die stampe en stote van die wêreld en kyk nie wie hou die hef in die hand nie. Die storie word vertel van ‘n burgemeester en sy vrou wat eendag ‘n man raakloop waarmee die vrou lank terug in ‘n verhouding was. Die burgemeester sê vir sy vrou: “Dink net, jy kon nou die vrou van ‘n ingenieur gewees het as jy met hom getrou het.” Sy antwoord: “Nee. Jy is verkeerd. As ek met hom getrou het, was hy nou die burgemeester.”

 

Die ou mense het altyd gesê: “In die huwelik is daar na omtrent ‘n maand, redes vir egskeiding. Die geheim is om te soek en aan te hou soek na redes om getroud te bly.” Dit is belangrik om nie net die regte maat te kies om mee te trou nie, maar om die regte maat ook te wees. Het ons nog respek vir die huwelik? Is ons nog in staat om daardie basiese oorgawe aan God te maak voordat enige “ja maar” aangevoer word? Hou die betowering van die wittebrood in die huwelik. “Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld?” Die struktuur waaraan ons as huweliksmaats moet werk, is om as hou-maats biddend voor God te moet werk. 

 

“Die huwelik halveer probleme, verdubbel vreugde en verdriedubbel die uitgawes” (Engelse spreekwoord).

 

Gebed: Hemelse Vader, baie dankie vir die huwelik wat in die hemel gemaak is. Leer ons algaande deur die jare om mekaar nie net lief te hê en te koester nie, maar ook om mekaar as geskenke uit die hemel te beskou. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page