top of page

Gedagte vir Vandag

  • 3 days ago
  • 4 min read

Woensdag, 10 Junie 2026

Koos Espach


Ons vertrek vandag met vakansie. Ons reis DV binnekort weer saam met Paulus. Shalom


Riglyne vir die Christelike lewe (6)


Liefde van die man vir sy vrou

 

Rom. 12:9-10 – “Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. 10Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.” (6)

 

Vergelyk ook Ef. 5:21-29 – “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. 22Vrouens wees aan julle mans onderdanig, ... 23Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. 25Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. 28Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief, 29want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie.”

 

Tydens Jesus se tyd op aarde, was die Joodse vrou nie as mens gesien nie en sy het baie min regte gehad. Die Grieke het hulle vrouens as slawe gebruik wat hom en sy gesin moes versorg. Die Romeine het weer geglo dat ontrouheid teenoor die vrou in die huwelik, die norm is. Vir baie van die hedendaagse mans lees Paulus se woorde in vers 22 hierbo, ook baie lekker en word “vrouens, wees aan julle mans onderdanig,” ‘n algemene aanvaarding dat die vrou ‘n tipe gebruiksartikel of slaaf van die man is. “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig (v 21), word gerieflikheidshalwe oorgeslaan. Christus herstel egter die vrou as die man se gelyke voor God. Onderdanig wees beteken nie dat een baas is en die ander klaas nie, dit is om mekaar uit liefde te dien, dat die een ter wille van die ander een, respek betoon en opofferings maak.

 

Hoekom het God die vrou geskep? ‘n Staaltjie word vertel toe Adam die eerste keer vir Eva gesien het, kon hy nie sy oë van hierdie pragtige vrou afhou nie! Hy vra toe vir God waarom Hy haar so mooi gemaak het, waarop God hom antwoord: “Sodat jý haar kan liefkry, Adam.” Toe Adam op ’n dag weer vir God konfronteer met die vraag oor hoekom Eva dan so dom is, het God hom geantwoord: “Sodat sy jóú kan liefkry, Adam!”

 

God het aan die man die hoofskap gegee waarmee hy sy vrou moet komplimenteer. Die man se hoofskap is om sy vrou te respekteer, vir haar te sorg, verantwoordelikheid te neem voor God en met haar ‘n lewenseenheid vorm. Paulus se opdrag aan ons mans is om ons vroue lief te hê soos Christus “Sy lewe uit liefde vir Sy kerk, daarvoor afgelê het”. Jesus se kruisgebeure dien as voorbeeld hoe omvattend ons liefde vir die vrou wat God aan ons gegee het, moet wees. Om só te kan liefhê, kan alleen geskied wanneer die Heilige Gees beheer oorneem en die gelowige man deur die versoeningswerk van Christus, nuut gemaak is.

 

Die liefde en respek waarmee ‘n man sy vrou moet liefhê, is nie gewone liefde nie. Dit is om jouself op te offer, dit is volgens ‘n bepaalde model: “soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.” Dit sluit vriendskaps- en seksuele liefde in maar is baie dieper en omvattender, ons is geestelik één! Iemand het gesê dat ons mans nie ‘n vrou moet probeer verstaan nie, ons moet net lief wees vir hulle! “Bewys ons eerbied teenoor mekaar en is ons mekaar daarin tot voorbeeld?”

 

As man moet ek met opofferende liefde en respek my vrou laat ontwikkel sodat sy meer en meer kan word soos wat God se bedoeling met haar was. Ek kan nie met vrymoedigheid voor God staan en my vrou, wat my ander helfte is, nie behandel soos wat God van my in die huwelik vra nie: “Mans, julle moet julle vrouens liefhê”, of bereid wees om my lewe vir haar af te lê en “verstandig met haar saam te leef” (1 Pet. 3:7), m.a.w. met wysheid, geduld, insig en respek te behandel.

 

Die storie word vertel van die man wat saans na elke dag se moeilike werksdruk wanneer hy tuis kom, eers buite by ‘n klein boompie in die tuin gaan staan, saggies daaraan raak en met die boompie “gesels.” Toe iemand hom uitvra oor sy daaglikse roetine met die boompie en wat hy vir die boompie sê, het hy geantwoord: “Dit is my probleemboompie. Ek hang elke dag se werksprobleme daaraan en vra vir God om dit verder te hanteer. Daardie probleme hoort nie in my huis nie, en snaaks genoeg, die volgende oggend is daar geen probleme meer aan die boompie nie! Jesus Christus het 2000 jaar gelede saam met al ons probleme aan die ‘boom’ by Golgota gehang en Sy lewe daarvoor afgelê, daarom is dit nie nodig dat ons enige probleem saam met ons in ons huise inneem nie.” 

 

Ek en jy kan vir ons ook ‘n probleemboompie skep. Ja, die Bybel sê “as ’n man ‘n vrou gevind het, dan het hy ware geluk gevind en geniet hy die goedheid van God” (Spr. 18:22). Behandel haar met respek. Wees cool teenoor haar. ‘n Sagte liefdeswoordjie, ‘n mooi bossie blomme, ‘n drukkie, ‘n gebed – gee gestalte aan jou liefde vir haar, pamperlang haar nie net op Moedersdag of spesiale dae nie, maar elke dag!

 

“As jy vrede in jou huis wil hê, maak soos jou vrou sê. Gee haar vlerke om te kan vlieg, behandel haar egter só, dat sy nie met daardie vlerke wegvlieg nie” (Anoniem).

 

Gebed: Here, dankie dat U vir my ‘n vrou gegee het om met liefdevolle en getroue versorging mee saam te leef. Ek bid vir haar rol as huweliksmaat – vrou-wees vir my, ma-wees vir ons kinders. Ek bid vir haar vrese en bekommernisse en gee my die tyd en geduld om daarna te luister, wanneer sy dit met my wil deel. Ek bid vir haar gesondheid, fisiese beskerming en krag. Ek bid dat sy haar skeppingsdoel en drome sal kan uitleef. Ek bid dat sy U vrede sal ervaar en U met blydskap sal dien. Dankie Here vir U genade en liefde. Seën haar met die keur van U seëninge, Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page