top of page

Gedagte vir Vandag

  • Jun 3
  • 4 min read

Woensdag, 3 Junie 2026

Koos Espach


Riglyne vir die Christelike lewe (3)

 

Kinders se liefde vir hulle ouers

 

Rom. 12:9-10 – “Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. 10Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.” (3)

 

Vergelyk ook Eks. 20:12 – “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.”

 

Die tweede riglyn handel oor “hartlike broederliefde” wat ook geld vir Christene se onderlinge verhouding binne die huisgesin. Daar bestaan geen inniger liefdesband as dié tussen die lede van die huisgesin van God nie. Dit is seker enige Christenouer se droom: ‘n huis wat die Here dien! Daar is min dinge wat ‘n mens se hart so bly maak soos huisgenote wat saam voor God buig en sy Naam bely.

 

Mans wat hulle vroue domineer en verkleineer, ouers wat hulle kinders voortdurend net kritiseer, kinders wat hulle ouers disrespekvol en liefdeloos behandel, vroue wat hulle mans knaend afbreek, handel nie in die gees van liefdesbetoon en “eerbied teenoor mekaar” nie. As Christene moet ons liefde eg en suiwer, sonder geveinsdheid en bymotiewe wees. Ons is immers almal Koningskinders!

 

“Eer jou vader en jou moeder” is die eerste gebod wat handel oor verhoudings tussen mense. Dit is eerste, juis omdat dit die belangrikste is, en dis ‘n bevel van God af! Dit raak die verhouding wat die heel naaste aan die mens kom, dié tussen kind en ouer. Die eerste verhouding waarmee ons hier op aarde te make kry, is die verhouding met ons ouers. Elke kind het allereers met sy pa en ma te make. Om jou pa en ma met respek te behandel is om te doen wat God vra.

 

Tuis, by pa en ma, begin in die reël, elke lewe. Pa en ma se gesag is die eerste en die mees fundamentele vir alle ander gesagsverhoudings. Dit is van onskatbare waarde vir alle ander gesagsverhoudings. Dáár, tuis by pa en ma, leer ’n mens wat respek en onderlinge liefde, wat “hartlike broederliefde” is en hoe jy daarteenoor moet staan. Daar moet respek vir ouers wees en “eerbied moet bewys word teenoor mekaar.” Dit is immers die hoeksteen, nie net van die gesinslewe nie, maar van die hele samelewing.

 

Dit is deur die genade van God om ‘n kind te wees. ‘n Kind kom in die wêreld, omring deur die sorg en liefde van sy of haar ouers; van hulle ontvang die kind die taal, kultuur, voorbeeld en respek van sy of haar bestaan. Deur die ouers word die kind kragtens God se genadeverbond, en in die uitvoering van die doopbelofte, na God toe gelei.

 

Waarom moet ‘n kind sy of haar ouers eer en liefhê? Want die Here verlang dit: “Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo” (Kol. 3:20). God soek ‘n gesindheid en houding van liefde teenoor ouers, vanweë hulle ervaring in die lewe, hul kundigheid, hul wysheid. En as die ouers nie kundig of wys is nie? Wat van die ouers wat moeilik leiding gee en hulle kinders nie onder tug kan hou nie? Wat moet ons dán maak met ouers wat minder kennis, wysheid of kundigheid as hulle kinders het? Daar is baie kinders wat vandag hulle ouers op allerlei terreine oortref.

 

En wat van ouers wat hulle kinders aanrand, seksueel molesteer, nie opvoed in die tug en vermaning van die Here nie, nie volgens Christelike beginsels opvoed en ‘n goeie voorbeeld stel nie. Geld die vyfde gebod dan nog? Ja, die vyfde gebod is algemeen en spreek alle kinders aan, ongeag hoe die ouers is. Om jou ouers te eer hang nie af van hulle kwaliteite nie, hulle is steeds God se aanstelling en Sý instrumente om kinders in die wêreld te bring.

 

Die manier waarop eer en respek aan swak ouers betoon word, sal anders wees as in die geval van gelowige ouers. Alle ouers is nie Christelik getrou daarin om hulle kinders op te voed in die tug en vermaning van die Here nie. Baie ouers gee hulle kinders slegs ’n wêreldse of materialistiese opvoeding. Maar, hulle is egter steeds deur God geroep tot die amp van ouer en dít moet ons bly respekteer. Selfs as ons ’n moeilike of slegte ervaring met ons ouers gehad het, moet ons hulle vergewe as hulle gestruikel het. “Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind; en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie” (Spr. 23:22).


Ons ouers is deur God aan ons gegee en al het hulle baie foute (net soos onsself), gee dit geen reg aan ons om hulle sleg te behandel of hulle af te skeep nie. “Eer jou vader en jou moeder.” Dis ‘n bevel, tensy ons kies om ons nie aan God se wil te steur nie.

 

“Daar is net een manier om jou kinders te leer om in Christus se voetspore te loop en dit is om dit self te doen” (Abraham Lincoln).

 

Gebed: Here, dit kan soms baie moeilik wees om inhoud aan die vyfde gebod te gee en tog weet ek dat ouers steeds hulle posisie van U ontvang het. Help my om hulle met respek en hartlike liefde te behandel. Dankie vir ouers wat U ken en ‘n verhouding met U het en my onderrig in U weë. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page