top of page

Gedagte vir Vandag

  • Jun 5
  • 4 min read

Vrydag, 5 Junie 2026

Koos Espach


Riglyne vir die Christelike lewe (4)

 

Ouers se liefde vir hulle kinders

 

Rom. 12:9-10 – “Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. 10Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.” (4)

 

Vergelyk ook Ps. 19:8-9 – “Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is. 9Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig.”

 

Om ‘n ouer te wees, is genade van God. Dit is ‘n voorreg om verantwoordelik te wees vir die welsyn, sorg en ordelike lewe van kinders. Die heel eerste opdrag wat God aan die man en vrou gegee het nadat Hy hulle geskep en geseën het, was: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit” (Gen. 1:28a). Daarom moet pa en ma hulle kinders tot eer van die Here grootmaak. Gesinsvorming is ‘n uiters verantwoordelike roeping van ouers en met die hulp van God moet hulle kinders opgroei sodat hulle “hartlike broeder- (en suster) liefde teenoor mekaar kan betoon en eerbied teenoor mekaar bewys en mekaar daarin tot voorbeeld kan wees.”

 

My persoonlike opinie is dat elke ouer dink en voel dat hulle kinders engeltjies is. Wel, kinders kán dalk so wees terwyl hulle nog klein is maar meeste verloor hulle “stralekransies en vlerkies” een of ander tyd. Maar, al is hulle nie onskuldige wesentjies nie, verryk hulle ons lewe. Elke ouer se diepste drome is om “volmaakte” kinders te hê. Ongelukkig is niemand volmaak nie. Almal is vol foute en tekortkominge en selfs die beste pogings om ‘n kind blink te poets, aan te moedig, te forseer, omkoop of ompraat, gaan nie altyd die resultate lewer wat ‘n ouer verwag het nie.

 

Kinders hoef regtig  nie ‘n kloon van hulle ouers te wees nie. Dit wat die ouers vermag of nie vermag het tydens hulle kinderjare, hoef nie op hul kinders oorgedra of afgeforseer te word om hulle in super-wesens te wil verander nie. Baie ouers wil só graag hulle kinders vorm tot “konings” van hulle eie aardse koninkrykies terwyl dit elke ouer se eintlike plig is om daagliks vir hulle te bid en God se wysheid te vra met hulle grootmaak proses. Kortom, ons moet sorg dat ons kinders by God uitkom, dat hulle reg leef op aarde en eendag hemel toe gaan.

 

Hoe gaan ek en jy dit regkry? Hoe verseker ons dat ons ons kinders tot eer van die Here grootmaak? Elke kind is tog sélf verantwoordelik om te verseker dat sy of haar eindbestemming die hemel is. Indien ons ons kinders as’t ware aan die Here wil teruggee, vra dit van ons om sélf seker te maak om die Here te verheerlik en vanuit sy woord te leef want “die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe!”

 

Ons moet bely dat ons nooit ons roeping sal kan verwesenlik vanuit ons eie kragte nie. Om kinders groot te maak, is altyd ‘n dure verantwoordelikheid. Ons moet eerstens ons saak met God regmaak, elke dag op ons knieë gaan en bid dat God ons wysheid sal gee met die grootmaakproses. ‘n Voorbeeld van ‘n lewende verhouding wat ek en jy as ouers met Jesus Christus het, is die heel kosbaarste erfenis wat ons aan ons kinders kan nalaat. Dít is dié voorbeeld wat tot ons kinders se geloofsekerheid kan lei.

 

Kevin Leman het ‘n paar reëls vir ons ouers opgestel om van kennis te neem: “Pappa, mamma, my beentjies is kort, loop asseblief stadiger; my handjies is nog klein, moenie kwaad word as ek nie ‘n bal kan vang nie; my oë ondersoek nog die dinge waarvan julle weet, gee my kans om dit ook te ontdek; wees geduldig wanneer julle my help met my skoolwerk; behandel my soos julle graag behandel wil wees, moenie onnodig heeldag met my raas nie; laat my toe om foute te maak sodat ek uit my foute kan leer; moenie dinge óór doen waar ek verkeerd was nie, leer my reg; moenie my met boetie of sussie of iemand anders vergelyk nie, ek het my eie persoonlikheid en Jesus het my lief net soos ek is; neem my saam kerk en kategeseskool toe, al sit ek nie stil nie, ek wil graag meer leer van God; ek is ‘n geskenk van God, koester my soos God wil hê, dissiplineer my met liefde.”

 

Nina Smit het ook ‘n paar lesse: “As ek en jy van ons kinders verwag om ons as ouers te eerbiedig, sal ons daardie respek moet verdien deur só te lewe dat ons inderdaad ons kinders se respek waardig sal word. Luister na hulle, ook wat hulle nie sê nie. Die manier wat ons na ons peuters luister, gaan bepaal hoe hulle as tieners openhartig met ons gaan praat. Dring aan op die nodige dissipline waarsonder géén kind ‘n verantwoordelike volwassene kan word nie. Leer hulle van kleins af van God, dan kan ons hulle met vrymoedigheid die lewe instuur wanneer hulle groot is.” My persoonlike bydrae: Bid elke dag vir elke kind (en kleinkind) by die naam!

 

“Deur die eeue was kinders nog nooit goed daarmee om na hul ouers te luister nie, maar hulle het nog nooit probleme gehad om hul ouers se liefde te aanvaar en hul voorbeeld te volg nie – goed en sleg”

(James Baldwin).

 

Gebed: Hemelse Vader, hoe dikwels het ek nie al vir U dankie gesê vir die kinders wat U aan my toevertrou het nie. Skenk my die geduld dat ek hulle met die nodige liefde en eerbied sal behandel – geduld en eerbied vir hul buie, hul gebrekkige begrip, die kere wat dit blyk dat hulle nie ore het nie. Skenk my die genade om hulle groot te maak in U weë, die krag en die wysheid om hulle te vertrou in hul vermoëns en met liefde, eerbied en respek hul foute ook te aanvaar. Maak van my ‘n ouer op wie my kinders trots en waarmee U tevrede sal wees. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page