Gedagte vir Vandag
- 1 hour ago
- 4 min read
Maandag, 1 Junie 2026
Koos Espach
Deur die genade van ons hemelse Vader is ons vandag weer gereed om saam met Paulus te reis. Dankie vir julle geduld!
Riglyne vir die Christelike lewe (2)
Agapé liefde in die gemeente
Rom. 12:9-10 – “Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. 10Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.” (2)
Vergelyk ook Matt. 5:43-46 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ 44Maar Ek (Jesus) sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, 45sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers Sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. 46As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle nog verwag?”
Ons het verlede Maandag genoem dat Paulus vir ons in verse 9 tot 21, tien kort maar kragtige riglyne gee hoe om ons genadegawes prakties uit te leef in die gemeente. Hy beskryf eintlik vir ons uit ‘n ander hoek, hoe God se liefde lyk. Hierdie paar verse klink ook baie na ‘n kort samevatting van Jesus se bekende Preek (Bergrede) op die Berg van Saligsprekinge (vgl. Matteus hoofstukke 5 tot 7). Wanneer Paulus hier praat van die “liefde wat opreg moet wees,” wys dit hoe goed hy die mens ken. Dit was wel gerig aan die Romeinse Christene van sy tyd maar kan vandag steeds toegepas word.
Om te “verafsku wat sleg is,” beklemtoon hy dat ons alle onopregtheid en valsheid die stryd aansê. Wanneer die “liefde opreg is,” is dit liefde wat nooit ophou nie. Dit is ware liefde wat blywend is – agapé liefde – liefde wat nie iets terug verwag nie – God se soort liefde! Selfs wanneer die omstandighede waarin ek en jy ons bevind dit moeilik maak om vir ‘n ander persoon lief te wees, hou ware liefde aan om liefde te gee. Ja, dit is nie altyd maklik om liefde uit te leef nie – so dink baie van ons – maar baie van ons is verkeerd. God het dan sy liefde binne-in ons uitgestort: “ … God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het” (Rom. 5:5). En Hy help ons om, as ons kies om vir ons naaste, en selfs ons vyand lief te wees, daardie liefde uit te leef.
Wie is ons naaste? Dit is beslis nie ‘n keurlysie van mensename van ons keuse, en die res is vyande nie. Is die meeste van ons se naamlys van mense wat ons nie van hou nie, nie dalk langer as ons “Keurlysie van ons Naastes” nie? Dit is al die mense wat ons bloeddruk laat styg – die regering, verkragters, moordenaars, verkeersmanne, taxibestuurders, mense wat my sleg behandel het, almal wie ek nie kan vát nie! Want ... “Ek is nou maar eenmaal so gemaak en so laat staan.” Daardie gesegde dra nie water nie want God het nie ‘n “fout” geskep nie! Ons kán nie deel wees van daardie “so-gemaak-en-so-gelaat-staan” mense nie. Ons is na God se beeld gemaak (Gen. 1:26).
Jesus gee ‘n opdrag aan ons om ook ons vyande lief te hê en te bid vir hulle. Hierdie liefde verwys na die Bybelse agapé-liefde. Dit is ‘n onvoorwaardelike liefde aan die persoon vir wie ons lief moet wees om sodoende Jesus se opdrag na te kom. Dit is liefde in aksie en is gewoonlik nie van wederliefde afhanklik nie. Dit is om liefde te gee ten spyte van die ander persoon se reaksie. Daar is geen ruimte vir voorwaardes nie. Op Golgota het Jesus die angs van die hel verander sodat ons as sy dissipels in sy genade en vrede ingesluit kon word! As nuwe mense dink ons nuut oor ander en alles en tree ons in liefde, nuut op!
Ons moet steeds Jesus se opdrag nakom, al voel dit soos ‘n verdoemende handeling. Ons moet steeds liefde betoon aan almal, nie oor hulle verkeerde dade nie maar om hulle persoon. Hierdie opdrag van Jesus is bindend en kan nie halfpad tegemoet gekom word nie. Om net dié lief te hê wat my liefhet, is nie die antwoord op Jesus se versoek nie. Ons kindskap maak die verskil al is dit ook hóé moeilik. Dit is nie ons plig om te oordeel nie. Elkeen moet self vir sy of haar verkeerde dade verantwoordelikheid aanvaar. “Lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig” (Ef. 4:24). Dít maak ons anders! ‘n Goeie voorbeeld ontbloot die duisternis en bring ons “vyande” ook in die lig.
“Moenie tyd mors om te wonder wie jou naaste is en wie jou vyand is nie. Tree op asof jy hulle liefhet dan sal jy ontdek dat jy hulle liefkry” (C.S. Lewis).
Gebed: Almagtige Vader, my liefde is só ontoereikend! My verskille teenoor ander word gemeet aan kleredrag, kultuur, tradisie, verskil in taal, velkleur, ag, en sommer nog baie ander verskonings om hulle nie as my naaste te aanvaar nie. Kortom Here, skenk my asseblief daardie fyn aanvoeling sodat ek kan onderskei om die regte ding te sê, te doen en te bid – selfs vir hulle wat my as hulle vyand beskou. Here, maak my ‘n instrument van U vrede, waar daar haat is, laat ek liefde saai. Laat ek mense liefhê ten spyte van hul houding teenoor my. Amen.
Comments