Gedagte vir Vandag
- 4 days ago
- 4 min read
Maandag, 8 Junie 2026
Koos Espach
Riglyne vir die Christelike lewe (5)
Liefde van die vrou vir haar man
Rom. 12:9-10 – “Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. 10Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.” (5)
Vergelyk ook 1 Pet. 3:1-2 – “Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ‘n woord te sê nie.”
Die vrou is deur God geskep om die man se hélper te wees. Die “vrou is die man se “gelyke” (Gen. 2:18), daarom kan sy uit God se hand dan ook haar eie lewe, eie aard en eie liggaam aanvaar. Sy is die unieke persoon wat uit Christus se verlossing dieselfde genade ontvang het wat die man ontvang het. Dit gee aan haar, haar eie selfstandigheid en is sy self ook verantwoordelik voor die Here. Sy het ook gawes van die Here ontvang en daarom moet mans vanuit die liefde van God dit so respekteer.
Die moederskap gee die vrou die groot taak van versorging. Sy bou die meeste die huis. Sonder haar samewerking gaan die man maar sukkel (vra my) – daarom “sal 'n man sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word” (Gen. 3:24). Die huwelik tussen man en vrou is vandag steeds die mees aanvaarbare verwantskap in die samelewing. Daar word baie hoë verwagtings aan die vrou gestel - sy moet meer kan gee as die man nie baie wil of kan gee nie. Hoe harder hy bedags werk, hoe moeër hy saans tuis kom, hoe groter is die onus wat op haar geplaas word om hom gelukkig te hou. (Wonder wat gebeur as sy ook werk?)
Sy moet beskikbaar wees, 'n stille hawe, 'n uitgeruste minnares, 'n wonderlike gasvrou met bakke vol kos, 'n goeie ma, planmaker, “dokter,” “sielkundige” en 'n goeie geselser. Sy is die gesin se kos, die man se ekstra kombers wanneer hy koud kry – “as twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word?” (Pred. 4:11). Sy is die een by wie manlief wil wees wanneer die lewe hom laat huil. Hy wil nie deur sy vrou gevorm word nie, kyk eerder hoe die vorm lyk wat jy op hom afdruk.
Die Bybel beskryf ‘n goeie vrou soos volg: "10Wie ’n goeie vrou het, het iemand wat baie kosbaar is. Sy is baie meer werd as die duurste juwele. 11Haar man reken op haar en sy beteken baie vir hom. Haar hele lewe lank is sy goed vir hom. 12Wat nodig is vir die huis, dit kry sy. 13Sy verrig haar dagtaak met vreugde. 14Sy sal selfs ook buite die huis gaan werk om nog beter vir haar gesin te sorg. 17Vir harde werk is sy nie bang nie! Wat sy aanpak, maak sy klaar. 20Vir die armes gee sy kos en die behoeftiges help sy. 23Omdat sy so bekwaam is, word haar man ook geëer. 28Haar kinders is dankbaar vir so ’n ma. 30Mooiheid bedrieg, skoonheid vergaan, maar ’n vrou wat die Here liefhet, moet jy vir altyd koester. 31Eer haar vir wat sy doen. Almal sal haar lof besing” (Spr. 31:10-31 – Die Boodskap).
God het immers die huwelik ingestel. Hy het ons in die huwelik bevestig, en aan man en vrou elkeen eintlik maar net een opdrag gegee om in die huwelik na te kom. Vir die vrou was dit om onderdanig te wees aan haar man en aan die man om sy vrou lief te hê – maklik né! Sy is die persoon wie die Here aan haar man gegee het om hierdie harde lewe ‘n bietjie draagliker te maak. Daarom dra sy haar man op haar hande!
Wat is ons vrouens vir ons werd? Sy is die sleutel tot ons mans se geluk! Sy is die een wat ons kinders daardie eerste gebedjie leer en hulle eerste van “liewe Jesus” vertel. Sy help ons kinders met hulle eerste woorde en treë. Sy gee ‘n soentjie en smeer spoegies op die seerplek wanneer daar geval word en vee die trane af. En ja, waar kan ’n gebroke en hartseer ou kinderhartjie die beste getroos word? Nêrens anders nie as teen die moederbors! Sy staan altyd gereed met kos en ander huishoudelike dinge, selfs al is sy ook hoe moeg. Ja, sy doen al hierdie dinge, maar word sy waardeer? Bewys eerbied teenoor haar!
“God kon nie orals wees nie toe maak Hy ‘n vrou vir haar man as hulp wat terselfdertyd ‘n ma vir haar kinders is” (Joodse spreekwoord).
Gebed: Here, dankie dat U my gesag gegee het om vir my man te kan bid. Ek bid dat U ons gedurig sal herinner hoekom ons getroud is. Ek bid dat hy tot U verbind sal bly, dat sy verbintenis tot my nie sal wankel nie, al woed watter soort storms ook. Ek bid dat ons liefde vir mekaar elke dag sterker sal word. Ek bid dat U hom van negatiewe emosies sal bevry. Ek bid dat U sy voetstappe sal rig om meer van U te leer en aan te hou om in U waarheid en op U weg te bly wandel. Vul hom met die kennis van U wil sodat hy goeie vrugte sal dra. Amen.
Comments