Gedagte vir Vandag
- 20 hours ago
- 3 min read
Maandag, 9 Maart 2026
Koos Espach
Aan God die eer (1)
Wié is hierdie God wat my en jou liefhet?
Rom. 11:33a – “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!”
Paulus kom sluit nou die laaste slot oop van Romeine 9 tot 11 met ‘n loflied in die laaste vier verse van hoofstuk 11. Teen hierdie tyd sou ons verwag dat Paulus ’n treurlied oor sy volksgenote sou sing, maar hy doen dit nie. Hy breek uit in ’n loflied waarin hy God prys. Die loflied waarmee Paulus afsluit, kom aan die einde van drie hoofstukke waarin hy oor die lot van sy volksgenote gewroeg het. Hulle het ál die geleenthede gehad om God se uitverkore volk te wees, maar het dit verbeur omdat hulle nie die Messias wat God gestuur het, herken het toe Hy onder hulle geleef het nie (Joh. 1:11).
Paulus skryf ‘n lofprysing oor die glorie van God! Alles vir die evangelie. Alles vir die Here! Alles vir God se koninkryk wat kom. Hy het ’n hoogtepunt bereik ten spyte van sy wroeging en kom tot gevolgtrekking dat ons as mense, die misterie van God se raadsplan nooit ten volle sal verstaan nie. Dit stop ons egter nie om saam met Paulus hierdie loflied oor God te sing oor die “diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God” wat bodemloos, onuitputlik, en onpeilbaar is; ‘n loflied te sing van die “rykdom” van God wat eie is aan die volheid van sy heilswerke; te sing oor die “wysheid” van God want alles wat Hy doen, is doelgerig, sinvol en onverbeterlik, in die besonder sy heilsplan met die uitverkiesing; te sing van God se volmaakte “kennis” van alles wat is en wat was en wat kom.
Elkeen wat saam met Paulus hierdie loflied sing, kan ervaar dat God ons metgesel is op ons lewenspad, al verstaan ons nie aldag sy werkswyse nie. Johannes Calvyn het gesê ons moet “kyk hoe die voëltjies oor God sing; hoe die diere sy sorg verkondig; luister hoe God se majesteit in die klowe weerklink, die riviere en stroompies sy lof besing, en die gras en blomme van die veld glimlag van God se goedheid.” Hoor jy dit? Sien jy dit? Ervaar jy dit? En om te dink daar is ‘n menigte mense wat die Christelike geloof as vervelig beskou?
Paulus kon nie anders as om hier in aanbidding oor te gaan nie. God is die onvergelyklike. Sy gang is onpeilbaar deur die wêreldgeskiedenis. Niemand kan God se “rykdom en wysheid en kennis” peil nie. Ds. Jaco Thom vat dit pragtig saam: “God is anders as wat ons dink. God pas net eenvoudig nie gemaklik in, in ons denkraamwerk oor Hom nie. Net wanneer jy dink, nóú verstaan ek, doen Hy iets wat buite ons raamwerk val. Daarom moet ons die raampie wat ons óm ons begrip oor God trek, liefs met ’n ligte potlood trek, en boonop ’n uitveër byderhand hou. Want vir seker gaan jy jou denke oor God met die loop van tyd moet verruim, en dit wat jy van Hom weet, herbedink. God laat Hom eenvoudig nie inperk in wat óns Hom toelaat om te wees nie. Kom ons wees eerlik. God is vir ons ’n misterie. Hy is te klein. En te groot. Te ver. En te naby. Te sag. Te geduldig met mense.”
Om besig te wees met God is nie opsioneel nie. Ja wel, ek dink ons gaan baie tyd nodig hê om God se grootheid waarlik te begryp. As ons God egter die eer gee wat Hom toekom en as ons geloof sterker word deur die kennis van wat ‘n wonderlike en magtige God ons aanbid, sal ons gedring voel om in nederige aanbidding voor ons Almagtige God te kniel. Ek nooi jou graag uit om saam met my te bid: “Grote God aan U die eer. Saam met Paulus wil ek U grootheid besing. Neem my asseblief heeltemal in besit sodat ek saam met al U kinders kan sê: U is my sterkte!” Die beste plek is laag op ons knieë voor God. En die beste woorde is om Hom te loof en te aanbid.
“Geen ‘rykdom, wysheid en kennis van God’ kan oor ‘n toonbank gekoop word nie, dit is dié dinge wat jy, terwyl jy lewe, dóén wat jy op jou sterfbed sal wens jy hét gedoen” (Jeremy Taylor [1613-1667]).
Gebed: Hemelse Vader, leer my deur U Gees en in U groot genade om nooit op te hou om te sê: “Die Here is die magtige God. Ek wil in eerbetoon voor U neerval, voor U buig, voor U kniel my Here en my Skepper. Amen.
Comments