top of page

Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Feb 26, 2020
  • 4 min read

JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE – DRIE GENESINGS!

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34)


DERDE GENESING: DIE GENESING VAN PETRUS SE SKOONMA – DIE MOTIVERENDE KRAG TOT DIENS!

(Mark. 1:29-34; Luk. 4:38-41)


Matt. 8: 14-15 – “Toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy Petrus se skoonma siek lê met ‘n hoë koors. Hy het haar hand gevat, en die koors het haar verlaat. Sy het opgestaan en Hom bedien.”


Vergelyk ook Luk. 4:38-39 – “Toe Jesus die sinagoge verlaat, het Hy na die huis van Simon (Petrus) toe gegaan. Die skoonma van Simon het siek gelê met ‘n hewige koors, en hulle het Hom gevra om iets vir haar te doen. Hy het by die koppenent van die bed gaan staan en die koors bestraf. Dit het haar verlaat, en sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien.”


Jesus verlaat die sinagoge en kom aan huis van Petrus, wie se huis ‘n klipgooi, weg was van die sinagoge in Kapernaum. Daar het Jesus volgens Lukas se evangelie, “by die koppenent van die bed gaan staan en die koors bestraf.” In die destydse wêreld het mense geglo dat hoë koors ‘n teken is van een of ander demoon wat weer aan die werk is. Mense het ook geglo dat God mense straf met siekte omdat hulle gesondig het. Petrus se skoonma was letterlik en figuurlik in ‘n hoek, niemand kon vir haar iets doen nie. Sy sou wel moontlik die koors “uitsweet.”


Jesus weier egter om maar net gedwee haar koors te aanvaar en miskien sou sê soos mense geneig is: “Wel, dis nou so, ons moet maar wag en sien wat gebeur. Wees rustig, drink jou medisyne en weldra sal jy beter wees.” Jesus gryp in, Hy aanvaar nie maar gelate nie. Jesus gaan na die siekekamer en “gaan staan aan die koppenent van die bed.” Hy verwyt haar nie oor haar sonde nie, maar “bestraf die koors” asof dit ’n bose gees is, en die koors “verlaat haar.”


Die genesing is volkome, sodat sy ten spyte van die hewige koors wat haar verswak het, “onmiddellik opgestaan het en hulle bedien het.” Verbasend! Een oomblik lê sy nog met ‘n enorme koors en die volgende oomblik is sy in staat om die mense, volgens die eis van die destydse Joodse kultuur oor gasvryheid, te bedien! Hierdie gasvryheid was gebruiklik, en alhoewel die uitnodiging aan ’n leermeester selfs beskou is as ’n verdienstelike goeie werk, het vrouens geen sosiale voorregte of aansien in die samelewing gehad nie. Hulle was uiters kwesbaar.


Jesus kom egter en keer die ordes om. Met dieselfde gesag wat Hy die wil van God tydens Sy Bergpreek verkondig het, word daar nou beskryf hoe Hy sy Goddelike gesag met die genesingsdaad bevestig. Die lewende God en sy Seun is in aksie: Jesus wil genees. Hy wil mense se lyding versag. Hy wil dien en nie bedien word nie: “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense” (Mark. 10:45). God se wil is immers gesondheid, nie siekte nie.


Petrus se skoonmoeder dien vir ons as rolmodel van diens in kwesbaarheid. Die feit dat “sy onmiddellik opgestaan het en hulle bedien het”, vergeet sy van kwesbaarheid a.g.v. haar posisie as vrou en allerlei maniere wat die bose geeste ellende bring in die lewe van mense, ook in die vorm van siekte, en sy bedien hulle. Dit was nie sommer om net vir hulle ‘n potjie tee te maak nie, maar om dieselfde diens te lewer wat na Jesus se eie bediening verwys, volkome diens uit liefde.


Die begeerte om goed te doen, het soms verborge motiewe. Die dryfkrag agter baie mense se goedheid word deur waardering aangevuur. Hulle kan slegs funksioneer as hulle gedurig bedank word en daarsonder, kwyn en sterf hulle entoesiasme. Vir die Christendissipel soos Petrus se skoonmoeder, is die enigste motiverende krag van diens, egte onbaatsugtelike liefde. As Christene voel ons soms so nietig en ontoereikend en daarom volg gewoonlik ‘n magdom redes hoekom jy nie ‘n dienskneg in God se koninkryk kan wees nie. Daar is werk vir almal in Sy koninkryk en niemand hoef oorbodig te voel omdat hy/sy nie besondere gawes of vermoëns het nie. Die alvermoënde Christus kan wonderwerke verrig met die nederigste, gewillige dissipel.


Dit is só ‘n oneindige voorreg om Jesus Christus deur ons lewenswyse aan ander te demonstreer – “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Joh. 13:35). Diens beteken jou hart en hande moet uitgestrek wees in diens aan ander, dan is daar geen perke aan wat God deur jou as toegewyde en gehoorsame instrument kan doen nie. Jesus kan baie doen met min! Liefde in aksie beteken om iets vir jou naaste te doen, al is dit hoe gering. As jy elke dag met toewyding vir Christus leef, kan jy teen slaaptyd met vrede en vreugde van die Here gaan lê. Die duiwel se werk daarenteen, is om ons verhouding met die Here te versteur en hy wil hê ons moet moedeloos wees en nutteloos voel. Waarop fokus jy, aan al die koorsighede van jou lewe of op Hom op wie jy kan staatmaak vir genesing, genesing selfs van die bose?


“In a world bent on getting, the Christian is bent on giving, because he knows that what we keep we lose, and what we give we have” (William Barclay).


Gebed: Verlosser en Saligmaker, God van geleenthede, soms voel dit vir my of U my te veel daarvan gee. Ek voel soms so nietig en ontoereikend en dan vloei die verskonings van te veel werk, tyd maak vir my gesin, sosiale verpligtinge nakom en so nou en dan ontspan ook, oor my lippe. Laaste op my besigheidslysie is die kerk. Ek het net nie genoeg tyd en energie oor om nog die dinge wat U Evangelie van my vra, óók nog te doen nie. Here, vergewe my; verander my hart in ‘n Christushart; alles wat ek is en het kom van U, maak my betrokke en diensbaar, gebruik my soos, en waar U wil. Amen.


 
 
 

留言


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page