top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


SOSIALE KWESSIES: SESDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19-7:12)


GEBEDSVERHORING (4) – MOENIE TOU OPGOOI NIE, NADER IN AFHANKLIKHEID TOT GOD!

(Luk. 11:9-13)


Matt. 7:7; 11b – “Vra, en vir julle sal gegee word; ... hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?”


Vergelyk ook Rom 8:25 – “Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.”


Ons moet aanhoudend bid en moet nie tou opgooi nie! Dit moet deel van ons leefstyl wees. En ons moet glo dat God ons hoor en dat Hy gebede binne Sý wil beantwoord. Tog weet ek dat ons self nie altyd op ’n lekker plek is wanneer ons bid nie. Daar is selfs tye wanneer ons nie eens woorde het om te bid nie. Weet egter dat God verstaan en weet waar ons is.


En bid aanhoudend, al voel dit asof jy niks meer het om aan vas te hou nie, asof jou lewe sonder ‘n handvatsel is. Hou aan “hoop op wat jy nie sien nie, wag daarop met volharding.” Maak ook seker dat jou gewete skoon is en daar nie êrens iets is wat in konflik teenoor jou staan nie. Dis jou verantwoordelikheid om te sorg vir harmonie en om met ‘n Christushart te leef. Hoor mooi wat sê Paulus: “As julle saambid, hef julle hande tot God in gebed op met ‘n skoon gewete, vry van onmin en twis” (1 Tim. 2:8).


Dis nie reg om sommer net weg te val in gebed sonder om eers na jouself te kyk nie. Ons moet gaan soek na die dinge wat nie reg is nie en dit dan uitsorteer. Ons moet selfondersoek doen, onsself beoordeel en as ons iets kry waar daar onmin of iets verkeerd is, moet ons dit gaan uitsorteer. Wanneer ons met God praat, staan ons op heilige grond. Hy klop aan ons hart, die Heilige Gees praat met ons, ons moet net luister. Dit is dikwels die geval dat ons met selfondersoek, ontdek dat dit nodig is om ons weer in die regte verhouding met die Here te bring: “Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan U woord” (Ps. 119:67).


Ek kry hierdie mooi verwerking van die Onse Vader Gebed. Dit beeld pragtig uit wat ons anders kan doen as ons bid:


Ek kan nie bid ONSE as ek net vir myself leef nie.

Ek kan nie bid VADER as ek nie Sy kind geword het nie.

Ek kan nie bid WAT IN DIE HEMEL IS as ek nog aardgebonde is nie.

Ek kan nie bid LAAT U NAAM GEHEILIG WORD as ek dit ydellik gebruik nie.

Ek kan nie bid LAAT U KONINKRYK KOM as ek nie Sy Woord uitdra nie en ek nog op my eie troontjie sit nie.

Ek kan nie bid LAAT U WIL GESKIED as ek altyd my eie sin wil hê nie.

Ek kan nie bid om my DAAGLIKSE BROOD as ek spandabelrig lewe nie.

Ek kan nie bid VERGEEF ONS ONS SKULDE as ek nie berou het nie.

Ek kan nie bid SOOS ONS ONS SKULDENAARS VERGEWE en met 'n wrok rondloop nie.

Ek kan nie bid AAN U BEHOORT DIE KONINKRYK as ek Jesus nie dien nie.

Ek kan nie bid EN DIE KRAG as daar nog vrees in my hart is nie.

Ek kan nie bid EN DIE HEERLIKHEID as ek my lewe regeer nie.

Ek kan nie bid TOT IN EWIGHEID as ek nie Sy koms verwag nie.

Ek kan nie sê AMEN as ek nie kinderlik glo nie.


Lees dit nog ’n keer.


Sjoe, dis mooi, maar dadelik besef ek dat ek te sondig is om eers te begin bid, want daar kom tye wanneer ek net aan mysélf dink en nie soos ’n kind wil wees nie. Dalk is dit dieselfde aan jou kant. Ons sukkel om binne God se riglyne vir ons lewe te bly en dikwels is ons net nie bereid om ons eie aandeel in ’n saak te erken nie. Biddeloosheid het die geneigdheid om vas te steek en so kan ek aangaan om plekkies in ons lewens te kry waar ons nog nie ge-arriveer het nie. Ja, selfs tot by ons geloof waar ons sukkel om soos ’n kind te glo.


Mag ons dan nou nie meer bid nie? Moet ons eers, en amper wil ek sê, ’n super-Christen word voordat ons mag bid? Nee, vir seker nie. As ons moet wag tot al die mooi dinge in plek val voordat ons kan bid, sal ons nooit kan begin bid nie. God verstaan ons haakplekke en weet dat ons nie sélf die mas kan opkom nie. Daarom gee Hy nie om as ons as sondaars laag voor Hom kom buig nie. Hy gee nie om hoe ons lyk nie, solank ons net opdaag vir gebed.


Kom ons bid, aanmekaar en orals, sonder tou opgooi – en terwyl ons so bid, laat ons bereid wees om te luister wanneer God vir ons wil wys waar dinge is wat pla, sodat ons ook besef dat Sy trou ons handvatsel is in die lewe: dat Hy ons vashou as alles uit ons hande gly; dat Hy ons dra wanneer dinge ondraaglik raak; dat ons sal besef “hoeveel te meer ons Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra.” Geen gebed is tevergeefs nie. Hou aan om te bid, en laat die res aan God oor. Die Here het vir elke sonde, vir elke mislukking, vir elke tekortkoming, ‘n geneesmiddel as ons net genoeg bid; as ons “gedurig bid” (1 Tess. 5:17); “as ons altyd aanhou bid sonder om moedeloos te word” (Luk. 18:1).


“Bid aanhoudend, en laat God dan omgee wat word” (Martin Luther).


Gebed: Vader, ek weet ek staan op heilige grond wanneer ek met U praat. Ek wil nie hê U moet wegkyk wanneer ek naderkom nie. Wees my genadig en hoor my gebed. Onderskep my sug met U Gees. Wys my waar ek moet verander en help my om in gehoorsaamheid aan U die veranderinge te maak. U trou is nou my handvatsel in die lewe. Dankie dat U my vashou wanneer my hande gly …, dat U my dra wanneer ek nie meer kan “cope” nie en dinge vir my ondraaglik raak. Dankie Here dat U ‘n geneesmiddel het vir elke sonde, vir elke mislukking, vir elke tekortkoming, vir die totale ek as sondaar-mens. Amen.


N.S. - WEENS DIE HOEVEELHEID E-POS KENNISGEWINGS VAN E-KERK LESERS WAT MET VAKANSIE IS, STAAK ONS VANDAG DIE VERSENDING VAN DIE DAGSTUKKE VIR DIE FEESGETY. VOLGENDE VERSENDING SAL DV 6 JANUARIE 2020 WEES. DAARMEE HET ONS AAN DIE EINDE VAN ONS REIS VAN 2019 GEKOM. ONTHOU EGTER, ONS IS NOOIT MET DIE LEWENDE GOD VAN DIE BYBEL KLAAR NIE, OMDAT DIE LEWENDE GOD VAN DIE BYBEL NOOIT KLAAR IS MET ONS NIE. GENIET JULLE VAKANSIE EN REIS VEILIG! JESUSVREDE, -LIEFDE EN -VREUGDE.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page