Gedagte vir Vandag
- Koos Espach
- Aug 27, 2019
- 5 min read

Jammer, ons kon nie gister die dagstukkie versend nie a.g.v. probleme wat ons met die Internet ondervind het. Ons plaas dan met liefde, gister se stukkie.
JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!
(Matt. 5-7)
JESUS SE EERSTE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET :
VERSOENING (1) – DRA JY BY TOT LEWENSBELEMMERING, OF LEWENSKWALITEIT?
Matt. 5:21-22 – “Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank.’ Maar Ek sê vir julle: ‘Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur…”
Vergelyk ook Jak. 1:20 – “’n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie.”
Jesus het pas vir ons gesê dat wetsonderhouding, “meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs” van destyds (v. 20). Dit omvat veel meer as die nakoming van ‘n lang lys bepalings en uiterlike reëls, wat hulle, vroom ook gesorg het dat almal daaraan gehoorsaam was. Dit beteken nie ons moet nog méér bepalings gaan byvoeg as wat die destydse godsdiensleiers reeds gehad het om sodoende geregtigheid by God te verdien nie, maar ‘n ánder tipe gehoorsaamheid daaraan koppel. As die Seun van God, het Jesus geweet wat God se geestelike betekenis van die gebooie is en watter tipe gehoorsaamheid, God sou behaag.
Jesus kom dan nou en leer ons deur Matteus, hoe om dié wet met liefde as beginsel, te gehoorsaam en toe te pas. In die volgende sestal voorbeelde, wat ook as teenstellings bekend staan, haal Jesus eers die godsdiensleiers se interpretasies van die wet aan, en daarna, bied Hy vir ons die ware betekenis daarvan aan “om hulle hulle volle betekenis te laat kry” (v. 17). Jesus herhaal telkens na wat gesê is in die “ou tyd”. Dit verwys natuurlik na dit wat die godsdiensleiers se tradisionele siening omtrent die wet was en aan Sy huidige luisteraars se voorgangers en voorouers, (die Sinaigeslag), gerig was. Dan volg Sý verduideliking daarvan. Dit was dus nie ‘n teenstelling van die wet nie, maar ‘n dieper geestelike betekenis daarvan. Sonder om te debatteer daaroor, bring Jesus kalm Sy boodskap en tot vandag toe, weerklink daardie liefdesboodskap steeds in ons ore.
Jesus se eerste voorbeeld handel oor die Ou Testamentiese sesde gebod wat moord verbied (Eks. 20:13) en die wetlike bepalings in hierdie verband (Eks. 21:12-14; Lev. 24:17,21; Num. 35:16-17). Jesus gaan nou veel verder en sê dat selfs woede – wat tog nie deur ’n hof beoordeel kan word nie – strafbaar voor die regbank is, waarskynlik God se regbank! Woede wat lei tot beledigende woorde soos gek en idioot, tas ‘n mens se reputasie aan en grens aan naamskending – Jesus sê dit is strafbaar met die ergste straf, want wie van ons durf met minagting kyk, en ‘n mens só behandel vir wie Christus gesterf het?
Die lewe is ‘n gawe van God. “Dit is Hy wat ons die lewe gee en nie toelaat dat ons struikel nie” (Ps. 66:9). God is dié Bron van die lewe en ook die Bewaarder daarvan. God sê ja vir die lewe daarom mag ons nie nee sê nie – eerder toevoeging van positiewe lewenskwaliteit, en nie negatiewe lewensbelemmering nie. Jesus kom nou en verbied die aantasting van die lewe van ‘n mens, nie net met openbare dade en moord nie, maar ook die verborge wortels daarvan.
Doodmaak is die grofste vorm van oortreding. Alle pogings tot moord en of opsetlike in gevaarstel daarvan, is moord. Jesus sê dat moord vroeër as die daad begin – dit is reeds teenwoordig wanneer ons iemand uit woede verwens en ‘n gek of idioot noem. Dit is nie net die uitwendige daad wat gepleeg word nie maar ook die innerlike gedagtes, woede en veragtende taalgebruik. Skinder byvoorbeeld, is miskien nie ‘n moordenaar in daad nie, maar ‘n moordenaar van hart, geestelike moord – dit lei na woorde wat ge-uiter word om God en ons naaste oneer aan te doen. Jesus stel dit duidelik dat nie net “moord” as daad nie, maar enige gesindheid van woede of bitterheid “met die helse vuur” strafbaar is!!!
Woorde wat spot, verkleineer of veronreg, maak seer, maak dood. Dit sny diep in mense se lewens in, dikwels mense naaste aan ons, ons kinders en selfs die een aan wie ons trou beloof het. Die apostel Johannes sê die verwonding van mense ter wille van genot is sonde – “Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie” (1 Joh. 3:15). Kwaad word en woede word nie deur die Heilige Gees begelei nie. Dit lei na woorde wat geuiter word wat God en ons naaste oneer aandoen – woorde wat ander aftakel en van sy menswaardigheid en lewensmoontlikhede beroof. Die wêreld is toegegooi met voorbeelde van mense wat as kinders verneder is en die letsels daarvan nooit ontgroei het nie.
Ons kan nog talle voorbeelde van geestelike moord noem, maar die punt is gemaak. Jesus se interpretasie van die gebod t.o.v. moord, én die toepaslike erger straf, lê op ‘n ander vlak as die Fariseërs s’n – Hy versoek ons om nie eers kwaad te word nie, om die beginsel van liefde toe te pas. As jy lief is vir iemand, sal jy hom of haar nie letterlik doodmaak nie, maar nog minder, ook nie eers geestelik of emosioneel nie. “Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie” (Jak. 1:19). Dit is deel van die optrede wat God van ons as gelowiges verwag. Ons het twee ore en een mond en kan daarom meer en beter luister, as om te praat! Om te gou te praat en kwaad te word, is om God in die rede te val met ons verkeerde dade. Kom ons, ek en jy, gaan leef liefde! Kom ons vermy oomblikke wat ons “ons tong wil afbyt.”
“Vir elke minuut van woede, verloor jy 60 sekondes van geluk” (Anoniem).
Gebed: Dankie Gees van God dat U nie met geweld werk nie maar eerder vermaan en berispe. Skoffel die grond van my hart skoon sodat die vuilheid en ongeregtigheid plek maak vir ‘n “inplanting” wat herskep en red. Weerhou my van impulsiewe- optredes en woorde en maak my kalm van gees. Woede verwoes en vernietig die intimiteit wat U van my eis – om U en my naaste lief te hê. Leer my om “maar te gewillig te wees om te luister, nie te gou praat nie en nie gou kwaad te word nie” en eerder ‘n sagte antwoord te gee. Amen.
Recent Posts
See AllDinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...
Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...
Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...
Comments