top of page
Search

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Mar 12, 2019
  • 4 min read

MOENIE JOU BROER VEROORDEEL NIE (4) – IS JY WIE JY BEHOORT TE WEES?


Rom. 14:7-9 – “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes.”


Vergelyk ook 1 Pet. 2:9 – “Julle, daarenteen, is die uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.”


Paulus voer die waarheid hier aan dat ons gelowiges nie meer aan onsself behoort nie, maar aan die Here – God het besitreg oor ons in lewe en in sterwe. As Christene stel ons God se belange voorop en ons eie eer en eie belang neem nou die laaste plek in, ons koninkrykie word vervang met die koninkryk van God! Met Christus se dood en opstanding het Hy die Here “van die dooies en van die lewendes” geword – Hy het ons vrygekoop van die slawerny van die sonde en ons verbind aan Hom in lewe en in dood.


Is dit nie wonderlik om te weet dat ons nou voluit kan lewe ten spyte van al die donkerte van die wêreld om ons nie? Ons is kinders van God en daarom kinders van die Lig want “almal wat Hom aangeneem het en in Hom glo, het Jesus die reg gegee om kinders van God te wees” (Joh. 1:12) – Jesus het deur Sy lewe en sterwe dit vir ons moontlik gemaak om deel van die gesin van God te kan wees! Dit is daarom tragies dat mense só bang is vir die dood, dat hulle bang is om te lewe en dan uiteindelik sterf sonder dat hulle werklik voluit geleef het. “Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here”, daarom maak dit nie saak of ons lewe of sterwe nie, wat saak maak is dat ons in geloof doen wat God van ons vra – deur nie te lewe asof ons besig is om dood te gaan nie, maar elke dag die lewe leef “tot eer van die Here.”


Ons kan dan só leef, ons beklee ‘n hoë status by God want Hy het ons “uit die duisternis geroep na sy wonderbare lig.” God het ons nuutgemaak deur Jesus Christus! Maar … is ons wat ons behóórt te wees? Is daar nie maar altyd spanning tussen dit wat ons ís, en dit wat ons behóórt te wees nie? Wat ons ís, is dat ons deur Christus verlos is maar sommige van ons dink steeds dit is nie wat ons behóórt te wees nie, want ons is sondaars. Wat ons dus IS en wat ons BEHOORT te wees, kom nie altyd by mekaar uit nie, en dit is wat Paulus en Petrus vir ons in die gelese verse hierbo wil sê: “Ons behoort aan die Here, ons is uitverkore, ‘n koninklike priesterdom, vir God afgesonder, die eiendomsvolk van God …”.


Ons is nuut gemaak, ons is nie meer dood in die sonde nie, ons is verlos! Ons IS nuutgebore mense want “ons BEHOORT aan die Here”. Nou is daar baie keer mense wat sê, so en so is ‘n wedergebore Christen. Is daar dan Christene wat nie wedergebore is nie? Is ‘n Christen nie maar ‘n Christen nie, ‘n mens wat deur geloof in Jesus Christus wedergebore is en nou bestem is vir die ewige lewe en nie gedoem is tot die ewige dood nie? Dan is daar ook dié wat sê dat so en so opreg-gebore Christene, of groot Christene, is! Daar bestaan nie so iets in die Bybel nie, ‘n Christen IS wedergebore, hy hoef dit nie te word nie – ‘n Christen is ‘n Christen.


Elke Christen IS wedergebore, dit is wat ons IS. Die verskil is egter, ons leef nie altyd so nie, ons IS nie altyd wat ons BEHOORT te wees nie. Baie Christene IS navolgers van Christus, maar nie dissipels nie, alle Christene is nie deel van “die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat ons uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig nie.” Om vir Christus te leef beteken “ons leef tog nie vir onsself nie,” dit beteken die toewyding van jou gees, liggaam en denke aan Hom as jou Verlosser en Saligmaker. Wanneer jy vir Christus leef, sal Hy in jou leef en jy sal die ekstase ken van ‘n lewe vir Christus – “want om te lewe, IS vir my Christus” (Fil. 1:21).


En dit is die ontsettende troos en hoop waaraan elke Christen kan vashou. Ons is nie uitgelewer aan enige bose magte of toeval wat buite ons beheer is nie, ons is nie uitgelewer aan mense wat ons lot in hulle hande hou nie, ons BEHOORT aan die Here!!! Goddank, ons behoort nie eers aan onsself nie en daarom kan ons nie met onsself maak net wat ons wil nie, ons lewe is in Christus se hande! Al loop die lewe soms met ons draaie en deur moeilike omstandighede en “obstacles,” moet ons onthou ons loop nie alleen nie. Omdat ons aan Christus BEHOORT, kan ons weet dat ons ompad, Sy oppad is. Hy verander soms ons rigting, maar nooit ons eindbestemming nie, en dit is wat ons in Christus IS!


“Sonder Christus is ons niks, verstaan ons niks van ons lewe of van die dood nie; nog minder wie God is en wie ons IS, wie ons BEHOORT te wees en wat ons kan word” (Blaise Pascal).


Gebed: Dankie Here dat ek nie aan myself behoort nie, maar in lewe en in sterwe, aan U. Maak my soos ek BEHOORT te wees – sagte hande om ander te versorg; vinnige voete om ander te help; skerp oë om ander se nood raak te sien; goeie en geopende ore om die sug van my naaste op te vang. Met blydskap wil ek U dank dat U my geskik gemaak het om deel te kan hê aan die erfenis wat vir gelowiges wag in die ryk van die lig. Amen.


 
 
 

Recent Posts

See All
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Vrydag, 18 April 2025 Koos Espach Annas en Kajafas verhoor Jesus   Elke dag ‘n getuie van Jesus   Joh. 18:19-21 – “19 Die hoëpriester...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Donderdag, 17 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Die...

 
 
 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page