top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


GOD SE VERKIESING VAN ISRAEL (6) – LOF AAN GOD VIR SY GENADE!


Rom. 9:14-18 – “Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie! Vir Moses het Hy gesê: ‘Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.’ Dit hang dus nie af van ‘n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is. In die Skrif sê God immers vir die farao: ‘Juis hiervoor het Ek jou teen My in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.’ Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.”


Vergelyk ook Ef. 1:3-5 – Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In Sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.”


Uit die voorafgaande kom Paulus nou tot die gevolgtrekking dat die beslissing van uitverkiesing volkome van God afhang en nie van wat die mens doen nie. Maar is God dan nie onregverdig om almal wat vleeslik van Abraham afstam, in Sy guns te laat deel nie? Is dit ook nie onbillik dat God Hom in die onderskeid wat Hy tussen mense uit dieselfde nageslag maak, nie deur hulle kwaliteite of dade laat bepaal nie? Paulus wys dié vraag egter as iets lasterliks van die hand. Immers, God is Gód. Daarvoor beroep hy hom op die gesag van die openbaring aan Moses. “Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil” (soos byvoorbeeld die farao).


God se guns word nie deur die hoedanighede van mense bepaal nie. Dit is werklik vrye guns, barmhartigheid en ontferming, wat nie verdien word nie, maar onverdiend geskenk word. Omdat alle mense voor God skuldig staan, het niemand enige reg of aanspraak op God se guns nie. Daarom “hang dit dus nie af van ’n mens se wil of strewe” of God aan hom/haar guns bewys nie, maar enkel van God se eie barmhartige keuse, God se neerbuigende “genadegawe in Christus Jesus” (Rom. 6:23), wat geskenk word aan diegene wat hoegenaamd geen aanspraak daarop het nie.


Hierdie gedagte van God se soewereine bepaling van die verkiesing en verharding klink verwarrend. Laat dit dan nie by onsself ‘n verantwoordelikheid om vir God of teen God te kies nie? Met respek, dit klink amper asof God reeds voor die tyd besluit het wie vir die hemel en wie vir die hel bestem is. Indien dit so was, sou dit beslis onuithoudbaar vir ons gelowiges gewees het om te weet wie uitverkies of verwerp is – vir watter een van die twee bestemmings ek bedoel is? Selfs ‘n toegewyde lewe sou niks werd gewees het nie want alles rondom my uiteinde, is reeds bepaal. Selfs al die preke en oproepe tot bekering is verniet want wat help dit as daar reeds vooraf bepaal is waarheen elkeen op pad is.


Wanneer ons egter só redeneer, probeer ons om God in ons skematjies in te perk. Ons hoef nie bang te wees dat God onregverdig is nie, inteendeel, “Hy is getrou en regverdig” (1 Joh. 1:9b). Ons kan God loof omdat Hy ons geseën het met Christus se verlossing en ons met die Heilige Gees verbind: “Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (Ef. 1:3b). Ons wat in Christus is, behoort aan Hom want ons het deel aan Sy kruisiging en opstanding. Elkeen wat ‘n keuse gemaak het om in ‘n innige verhouding met Christus te lewe, kan met sekerheid weet dat hy/sy nie net “in Christus” is nie, maar dat Christus deur Sy Gees ook in hom/haar is.


Ons moet ook net nie probeer om hierdie teenstrydigheid van God se uitverkiesing en die mens se verantwoordelikheid probeer verklaar nie. Daar is nie ‘n hemelse bloudruk oor God se leer van die uitverkiesing, en wat op die aarde gebeur, is maar net die afloop van die hemelse program nie. Dit is ‘n geopenbaarde wonder van God, en die feit dat God ons die gawe van geloof geskenk het, het ons nie ‘n verklaring nodig nie, ons kan dit eenvoudig so aanvaar. Ons moet God dank vir Sy almag en regverdigheid, Hy bekyk Sy uitverkiesing vanuit die ewigheid terwyl ons uitsig aan die tyd, gebonde is. Die ewigheid is nie tyd plus tyd tot in oneindigheid nie, maar juis die totale afwesigheid van tyd. Wat God in ewigheid doen, kan nie in tyd verstaan of bepaal word nie, Sy Almagtigheid kan tegelyk ons uitverkiesing en verantwoordelikheid handhaaf sonder dat die twee bots.


Paulus gee in Efesiërs 1:4-14 ‘n lang lys van al die hemelse seëninge wat die Heilige Gees in ons waar gemaak het en die wonderlike hiervan, die uitverkiesing is heel bo-aan die lys!! Die uitverkiesing is die grondslag van ons geloofsekerheid oor ons verlossing en ewige lewe – God het ons nie uitverkies omdat nie, maar ten spyte van wie ons is, want God is groter as enige sonde! Die oorweldigende versekering is dus dat ons nie in knaende onsekerheid hoef te leef nie, ons kan saam met Paulus jubel en “lof aan God vir sy genade” sing (perikoop opskrif van Efesiërs 1:3-14). Ons gelowiges in Christus se uitverkiesing is nie ‘n vraag wat ons moet probeer beantwoord nie, dit is ‘n uitroep waarin ons beaam: “Waarlik, aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!”


“Om egte ruimte te skep vir God en sy soewereiniteit oor jou lewe is om jou handtekening op ‘n skoon vel papier te plaas en dit vir God te gee met die woorde: Here, wat U ook al daarop skryf, my handtekening bly” (Prof. Andrie du Toit).


Gebed: Here, ek kan maar net verwonderd voor U kom kniel en in diepe dankbaarheid prewel: Ek verdien dit glad nie, maar dankie dat U my uitverkies het in Christus Jesus, U genade is ontsaglik groot. As ek so na myself kyk, is daar nie veel wat ek U kan aanbied nie, en soms dink ek dat my verlossing dalk in die weegskaal is. Maar dan besef ek opnuut weer: dit is net ‘n liefdevolle genadige God wat my in my onverdienstelikheid kan aanvaar. Dankie Jesus Christus dat U deur U dienswerk my aanneming as kind van God bewerkstellig het – “vóórdat ek kon kies, kon vra, het U my vloek gedra. Ek kon vind U’t my gekry nog vóór ek nog my skuld bely” (Gesang 10). Amen.


 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page