top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Volgens oorlewering is hierdie rots (“Mensa Christi”; “Jesus se tafel”) binne “Petruskerk” waar ontbyt voorberei is.


JESUS VERSKYN NOG ‘N KEER AAN SY DISSIPELS (3) – JESUS BEKWAAM DIE ONBEKWAMES!


Joh. 21:9-14 – “Toe hulle aan land kom, sien hulle ‘n vuur brand en ‘n stuk vis daarop lê. Daar was brood ook. Jesus sê toe vir hulle: ‘Bring van die vis wat julle nou net gevang het.’ Simon Petrus het toe in die skuit geklim en die net op die land getrek. Dit was vol groot visse, honderd drie en vyftig, en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie. Toe sê Jesus vir hulle: ‘Kom eet.’ Nie een van die dissipels het sover gekom om vir Hom te vra: ‘Wie is U?’ nie. Hulle het geweet dat dit die Here is. Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en net so ook die vis. Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is.”


Toe die dissipels aan land kom, sien hulle nog ‘n wonderteken – daar is rééds ’n vuur met vis op die kole en brood ook. Jesus het deur Sy almag voorsiening gemaak vir ontbyt! Hy vra dat hulle ook van die vis bring wat hulle gevang het. Jesus, die Seun van God, maak ontbyt vir Sy volgelinge! “Dit is die Here” wat by die ete die plek van die Huisvader, die Gasheer inneem. Hy kom vorentoe, neem die brood en so ook die vis, en voed hulle met dieselfde hande wat aan die kruis deurboor is! En by die maaltyd vra niemand meer: “Wie is U?” nie. Hulle weet spontaan: “Dit is die Here” wat die dood oorwin het, die Een wat die stukkendheid en seerkry van die mens se aardse bestaan, kom heelmaak en omskep het in oorvloed! So, vier hulle opnuut 'Paasfees', vier hulle die teenwoordigheid van die Opgestane, die Here wat wonders doen!


Petrus staan by die koolvuur langs die See van Tiberias en onthou moontlik die dag toe hy Jesus die eerste keer ontmoet het. Dit was by dieselfde See van Tiberias waar Jesus drie jaar gelede die mense op die wal uit sý boot geleer het. Na die preek het Jesus destyds toe gesê: "Vaar uit na die diep water toe en gooi julle net uit om te vang." Hy onthou nog duidelik dat hy vir Jesus gesê het: "Meneer, ons het die hele nag geswoeg en niks gevang nie!" Hulle het egter geluister en soveel vis gevang dat die nette wou skeur en die bote wil sink. Petrus se reaksie was: "Gaan weg van my af Here, ek is 'n sondige mens!" Jesus het egter die teendeel gedoen: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang” (Luk. 5:1-11). Hy het daardie dag alles net so gelos en Jesus gevolg.


Die afgelope drie jaar het hy al só baie mislukkings gehad en foute gemaak. Die grootste mislukking in sy lewe, was die aand daar langs nog ‘n koolvuur by die hoëpriester se paleis waar hy in Jesus se uur van nood, ontken het hy ken Jesus. Vir Petrus voel dit onverskoonbaar, onvergeeflik. Nou, werp hy weer die nette uit op dieselfde see en vang honderd drie en vyftig groot visse – die beklemtoning van nog ‘n wonder – ‘n uitsonderlike getal groot visse is in die een net gevang, en tog het die net nie geskeur nie. Miskien het hy gedink om weer te sê: "Gaan weg van my af Here, ek is 'n sondige mens!" Weereens doen Jesus die teendeel, Hy voed hom met ontbyt na ‘n nag se mislukte geswoeg op die see, sonder enige verwyt.


Die roepstem van Jesus het nie verander nie. Petrus se erkenning dat hy sondig is, is geen rede om nie ‘n volgeling van Jesus te word nie. Dit is ook nie meer nodig om ons daaglikse werk, wonings en familie te verlaat om Jesus te volg, soos sy dissipels destyds nie. Dit impliseer eerder ‘n innerlike oorgawe van ons lewe aan Christus, om God op Sy woord te neem, al voel dit na ‘n onlogiese roete en heeltemal teenstrydig met ons mensgemaakte verwagtings. ‘n Innerlike oorgawe om Jesus te volg beteken om ‘n skoon breuk met sonde te maak. Dit beteken ook om die eie ek van die troontjie van ons lewe af te haal. As volgeling van Jesus gee ons vir Hom die besitreg van ons lewe, dit beteken om ons self te verloën en Hom die Here van ons lewe te maak!


Die Here wil teenwoordig bly. Daar was genoeg vis op die kole vir almal, maar Hy vra dat ons “van die vis moet bring wat ons gevang het.” Waarom moet ons vis by Sy vis gevoeg word? Hy het reeds gesorg vir alles en dit is genoeg! Selfs die groot vangs was immers ‘n wonderwerk wat Hý laat gebeur het, en tog sê Jesus: “wat julle gevang het” – asof dit net hulle werk is. Jesus versoek dat die ‘visse’, die gawes wat Hy ons gee, by Sy gawes bygevoeg word. Hy neem ons net soos wat ons is, met ons huidige beroep, as’t ware in diens. Jesus wil ons hande en voete, ons alles, gebruik om Sy werk voort te sit op aarde! Ons word geroep tot mede-arbeiders, met ons beperkte kennis van ‘visvang’, ons kundigheid, ons werk waarop Hy die vrug gee, sodat dit deel word van Sy werk! Ons daaglikse arbeidsveld gebruik Hy, skakel Hy in en en voeg Hy by om Sy triomfstog, die oorwinning van sy opstanding, die wêreld in te dra en Sy koninkryk op aarde te vestig.


“Gelukkig is hulle wat weet dat dissipelskap eenvoudig beteken dat jy uit genade leef en dat genade eenvoudig dissipelskap beteken” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Dankie Jesus dat U my alles gee wat ek nodig het om U te volg. Dankie dat U nie net die bekwames roep nie, maar dié bekwaam wat U roep. Dankie dat U vir my tyd en die vermoë gee om in U diens te kan staan. “My gees, my siel, my liggaam wy ek aan U, o Heer; ek lê my as ‘n offer voor U vir ewig neer” (Hall. 294:1). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page