top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS STERWE (4) – DIE BLYE BOODSKAP!

(Matt. 27:45-56; Mark. 15:33-41; Luk. 23:44-49)


Luk. 23:46 – “Jesus het hard uitgeroep: ‘Vader, in U hande gee Ek my gees oor.’ Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.” (Sewende kruiswoord.)


Vergelyk ook Mark. 15:37-39 – “Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur. Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: ‘Hierdie man was werklik die Seun van God.”


Die sterwe van Jesus geskied volstrek strydig met die natuurlike gang. Gewoonlik sterf die gekruisigde as gevolg van volslae uitputting, bloedverlies en asemnood. Maar by Jesus was daar ’n finale kragsopenbaring en met ’n ontsagwekkende uitroep, gee Hy sy gees oor aan die Vader. “In u hande gee ek my lewe oor, want, Here, troue God, U het my vrygemaak” (Ps. 31:6), was die woorde wat elke vrome Jood van kleins af as deel van die aandgebed, opgesê is. Met daardie woorde vertrou hy hom in die aand aan God toe, en sien hy uit na die ontwaking op ’n nuwe lewensdag nadat die nag verby is. Dit was dieselfde woorde wat Jesus se moeder Hom ook geleer het en daarom kon Hy daardie Verskriklike Vrydag Sy “gees in die hande” van die Vader lê, “die laaste asem” uitblaas met die wete dat Hy Sondag deur Sy “troue Vader”, weer gewek sal word.


Jesus bly tot aan die einde in beheer van sake. Hy weet Sy aardse take is voltooi en besluit self wanneer Hy gaan sterf. Jesus “gee Sy gees oor aan Sy Vader”, beteken Hy is nie ‘n slagoffer van Pilatus, die priesterhoofde of die soldate en die volk nie, Hy bly waardig ten spyte van die onmenslike lyding. Sy vertroue in God bly onwankelbaar! Jesus se lewe is nie geneem nie, Hy het dit gegee! Ons kan ook met sekerheid ons lewe, ons gees, aan God gee, terwyl ons nog leef, en wanneer ons eendag sterf, want Jesus het daardie pad vir ons moontlik gemaak.


Dit is die einde van die marteling, en Jesus, alleen aan die kruis, praat vir die laaste keer. Eintlik is dit nie nodig om nou te praat nie, Sy Vader weet mos wat hy dink? Hierdie woorde was nie net vir God bedoel nie, maar ook vir almal wat daar by die kruis gestaan het: Die groepie vriende, Johannes en ‘n klompie vroue (Luk. 23:49), die paar soldate en ons vandag, bedoel. Dit is ‘n vaste wete en waarborg wat ons het om, soos Jesus, berusting en vrede te vind by God: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Rom. 8:38-39). Met ’n enkele woord sluit Jesus Sy aardse bediening af. Sy sterwenswoord is ’n oorwinningswoord wat sal bly voortklink tot aan die voleinding van die wêreld.


Johannes wat daar by die kruis gestaan het, was verslae. Sy Meester en Heiland hang doodstil aan die kruis. Hulle Jesus wat hulle kom wegroep het van die viswaters; wat die doderyk kon oopmaak en die dooies weer lewend daar kon uithaal; wat met een word die natuur kon beheer en storms stil maak; ‘n menigte mense kon kos gee deur twee vissies en vyf broodjies te verdeel; bose geeste laat wegvlug wanneer Hy naby hulle gekom het; blindes, lammes, siekes, melaatses, kon gesond maak, is nou dood. Hy het ná Sy laaste uitroep, Sy kop “vooroor laat sak”. Aan die kruis lê Hy sy kop neer; dit is Sy rusplek. En daar het Hy die laaste asem uitgeblaas. Met hierdie daad neem Hy afskeid van die lewe op aarde en vertrou Hy sy gees toe aan die Vader.


Die voorhangsel wat skeiding maak tussen die heilige en die allerheiligste in die tempel het op daardie oomblik in twee geskeur. Deur dié gebeurtenis is die oordeel oor die tempel bevestig. Dit dui ook aan dat die tempel sy bestaansreg verloor het: Jesus Christus het die volkome offer gebring deur aan die kruis te sterf: “Broers (en susters), ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur Sy liggaam” (Heb. 10:19). Deur Sy soendood het Christus as Hoëpriester ’n volmaakte offer ingedra voor Gods aangesig in die allerheiligste en sodoende die vrye toegang ontsluit, dit is nuut en dit lei na die lewe, die teenoorgestelde rigting as die dood! Waar God werk, lewe dit!


Gelyktydig met die getuienis in die tempel, word by die kruis self ’n ander getuienis afgelê. Die Romeinse offisier het die hele verloop van die kruisiging meegemaak. Sy indrukke het hom verhinder om met die spotters mee te doen. Vir hom staan dit vas dat Jesus nie ‘n gewone mens was nie. As heiden spreek hy as belydenis, in die taal van die Christendom, deur te sê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.” Hierdie man is die voorloper van heidene wat by die kruis die Naam van Jesus sou bely. Sy uitspraak is voorts ’n aanduiding dat Christus, die Oorwinnaar, reeds begin het met Sy segetog deur die wêreld!


“Die essensie van liefde is vir alle eeue saamgebundel in daardie eensame, bloeiende figuur aan die kruis. Hy wat skares engele kon beveel om Hom te kom red, het gekies om daar te bly hang om in ons plek vir ons skuld te betaal. Omdat Hy ons liefhet!”

(Philip Yancey).


Gebed: Dankie Jesus, uit liefde vir my het U dié verskriklike lyding aan die kruis verduur. Aan die kruis het U die hoof gebuig en u asem uitgeblaas om my te red; sodat ek nooit weer my kop voor die sonde hoef te buig nie, nooit my laaste asem vir die verderf hoef uit te blaas nie. Ek roem in die kruis omdat U daar vir my gesterf het, omdat die kruis nou leeg is en U daardeur vir my die pad na God toe oopgemaak het, die ontoeganklikheid na God toe vir ewig beëindig het. U bloed is die onfeilbare toegangskaartjie na God toe. Ek en elke ander Christengelowige kan nou sonder vrees, sonder skuldgevoelens, met sekerheid, vrymoedigheid, vertroue en blydskap voor God gaan staan. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page