E-Kerk : Gedagte vir Vandag
DIE JODE IS NIE VAN SY SKAPE NIE (1) – DROM SAAM MET GELOWIGES EN WEES VERSEKER.
Joh. 10:22-25 – “Dit was daardie tyd die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter. Jesus het in die tempel in die Pilaargang van Salomo geloop. Die Jode het daar om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: ‘Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit reguit vir ons.’ Jesus antwoord hulle toe: ‘Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die dade wat ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is.”
Vergelyk ook Jes. 35:3-5 – “Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het: Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier, Hy kom julle red! Blindes sal kan sien, dowes sal kan hoor, lammes sal kan rondspring soos takbokke, stommes sal kan sing!”
Tydens “die fees van die tempelwyding” was Jesus weer in Jerusalem. Die veronderstelling is dat ná afloop van die huttefees, Hy Judea verlaat het aangesien die Jode Hom wou doodmaak (7:1-2). Ongeveer twee maande later, in Desember, het Hy na Jerusalem teruggekeer om die viering van die fees van die tempelwyding by te woon. Hierdie fees is nie deur die wet voorgeskryf nie en word dus nie tot die hooffeeste van die Jode gereken nie, maar dit was wel ’n fees van groot betekenis. Dit is ingestel deur Judas die Makkabeër in 165 v.C. nadat hy die tempel bevry het uit die hand van die Siriese vors Antiogus Epifanes. Hierdie heidense heerser het die tempel aan die Griekse god Zeus gewy en dit op ’n gruwelike manier ontheilig. Hy het selfs ‘n vark op die altaar geoffer. Omdat die gebruik van fakkels vir beligting ’n groot rol speel, word dit ook die fees van die ligte, of in Hebreeus die Chanoeka, genoem. Dit sluit ook mooi aan by Jesus, die Lig vir die wêreld (8:12; 9:4-5).
Die identiteit van Jesus het nou ‘n brandende vraagstuk geword. Jesus word deur die vyandige Jode voorgekeer en só omring dat Hy van sy volgelinge afgesonder is. Hulle vra Hom reguit: “Moenie vir ons langer in onsekerheid hou nie, ás U die langverwagte Messias is, sê dit reguit vir ons.” Dit is waar dat – in die hele Johannes-evangelie tot op hierdie punt – Jesus nog nooit reguit vir hulle gesê het dat Hy die Messias, die Verlosser wie se koms sedert die Ou Testament al beloof is, is nie. Hy het dit wel aan die Samaritaanse vrou by die put van Jakob bekend gemaak (4:26) en aan die blindgeborene dat Hy “die Seun van God” is (9:37). Die feit is egter dat Sy herhaaldelike uitsprake oor sy unieke verhouding tot die Vader, vir hulle genoegsaam moes gewees het (5:17-47; 10:15,17).
Indien Jesus reguit sou verklaar dat Hy die Messias is, sou die Jode, wat die Messias as ’n staatkundige bevryder beskou het, Hom by die Romeinse owerheid kon aankla as die leier van ’n opstand. Indien Hy “Nee” sou antwoord, sou Hy nie aan die waarheid getrou wees nie. Hy bly egter volkome meester van die situasie, en wys die Jode daarop dat dit nie gaan om Sy getuienis dat Hy die Messias is nie, maar om hulle ongeloof. Vir elkeen wat glo, moet dit duidelik wees dat Jesus die besondere Godsgesant, die Messias, is. Aan die ongelowiges lewer Jesus geen verdere bewys om hulle te probeer oortuig nie.
Die mense van Jesus se aardse tyd was verward oor wie Hy werklik was. Hulle het ‘n Messias verwag wat hulle, soos Jesaja profeteer het, in ‘n goue era sou inlei (Jes. 35:3-5). Was Hy of was Hy nie die beloofde Messias nie? Die probleem was dat Hy God se Messias was maar nie hulle Messias nie. Jesus het net nie ingepas in die beeld wat hulle vir hulleself van die Messias geskep het nie. Hy het God se grootste gawe gebring – DIE EWIGE LEWE – maar hulle wou iets anders hê. Nog erger, hulle kerkleiers, het hulle mislei deur Hom nie te erken en te herken as die beloofde van God nie. Tog het die kerkleiers en ander mense oral “om Jesus saamgedrom” waar Hy geleer het, gelykenisse vertel het, siekes genees het, brode en vissies uitgedeel het. Maar die Jode het geweier om te glo dat Hy deur God gestuur en die “Seun van God is.” Dit is soms nie altyd nodig om bewyse te lewer nie. Dade praat harder as woorde – wat jy doen tel meer gewig as wat jy sê.
Vandag nog het baie mense ‘n skewe beeld en misplaaste verwagtinge van Jesus. Mense wil steeds van Jesus iets maak wat Hy nie is nie en baie eis Jesus op om hulle selfsugtige belange te dien. Die kernwaarheid is dat Jesus as mens gebore is om ons van ons sondes te verlos, dit was deel van God se plan. Jesus is God se enigste Leidsman na God toe en God se pad na ons toe: “Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as ‘n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God” (1 Tim. 2:5-6). Christenskap is nie ‘n private kwessie nie. Dit is veel meer as dit. Kom, wees deel van die “samedromming” vir die regte rede: Jesus Christus. Moenie nalaat om, solank dit moontlik is, saam met Jesus en ander Christen-gelowiges, te vergader nie. Maak Jesus jou Messias!
“Natuurlik glo ons in die onsigbare kerk wat alleen deur God gesien word, maar ons word geleer om die sigbare kerk te aanvaar en in gemeenskap daarmee te leef” (Johannes Calvyn).
Gebed: Here my God, versterk my deur my gemeenskap met ander gelowiges en saam te sing: “Hoe was ek gebonde, hoe was ek verkneg. U bevry tot lewe, baan vir my die weg. Jesus, ek eer U, opgestane Heer, nou het ek ‘n toekoms: lewe by my Heer! (Lied 417:2). U is my Here en my God, my Messias. Werk asseblief in die harte en lewens van mense en nasies wat nog nie hierdie waarheid herken en erken het nie. Amen.