top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS GENEES ‘N MAN WAT BLIND GEBORE IS (10) – DIE FARISEËRS SE REAKSIE; MY REAKSIE.


Joh. 9:13-16 – “Daarna het die mense die man wat eers blind was, na die Fariseërs toe gebring. Dit was op ’n sabbatdag dat Jesus die klei aangemaak en die man se oë genees het. Die Fariseërs het hom ook weer gevra hoe dit gekom het dat hy kan sien. Hy het hulle geantwoord: ‘Hy het klei op my oë gesit en ek het my gewas, en nou sien ek.’ Party van die Fariseërs sê toe: ‘Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die sabbatdag nie.’ Maar van die ander het gesê: ‘Hoe kan iemand wat ’n sondaar is, sulke wondertekens doen?’ En daar was verdeeldheid onder hulle.”


Vergelyk ook Matt. 5:7 – “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”


Die geneesde, blindgebore man se bure is nie tevrede dat hy nie weet waar sy geneser hom bevind nie en wie hierdie Jesus eintlik is nie. Waarskynlik was hulle onder die indruk dat net God alleen wonders kan doen en nou tog deur hierdie ander man, Jesus, gedoen is. So wat maak hulle? Kom ons vat hom na die dominees toe om uit te vind wat hier aan die gang is. Oor hierdie saak wil hulle dus van die “uitleggers van die wet” ’n verklaring vra. En wat is die Fariseërs se reaksie? Ja, dit is waar – dit lyk tog of die man nou weer kan sien.


Maar daar is tog ‘n probleem. Eerstens het Jesus nie die genesingshandboek geraadpleeg nie. Jy kan tog nie op die Sabbatdag klei aanmaak nie, so iets word in die wetsverklaring verbied. Om met sekerheid vas te stel wat Jesus gedoen het, ondervra hulle die blindgeborene indringend na wat gebeur het, en hy gee hulle ’n kort beskrywing waarin hy wéér die aanmaak van die klei melding maak.


Die resultaat van die ondersoek is onderlinge verdeeldheid van die Fariseërs. Dié wat die klem op die onderhouding van die sabbat lê, is oortuig dat Jesus nie ’n gesant van God kan wees nie aangesien Hy die sabbat geskend het. Hulle sien ’n bedreiging vir hul godsdienstige mag – hierdie man Jesus dien nie God soos hulle God dien nie. Hulle sien die reëlboek en hulle sien die bekende raamwerk waarbinne hulle God se openbaring verstaan. Daarin is daar geen kapasiteit om deur God verras te word, of om te aanvaar dat God iets nuuts kan doen in Jesus nie. Hulle sién álles, behalwe, hulle sién nie regtig die blindgebore man wat weer kan sién nie.


Dit was wel toelaatbaar dat genesing in ‘n noodgeval op die sabbat gedoen kon word, maar hierdie is beslis nie ’n noodgeval nie want sy lewe was nie in gevaar nie. Deur klei te “knie”, het Jesus een van die 39 kategorieë van werk wat verbode was op die Sabbat, oortree. Daar was darem sommige van die Fariseërs wat die klem op die wonderteken gelê het. Hulle was oortuig dat Jesus nie ’n gewone oortreder van die Sabbatswet is nie, maar wel ’n gesant van God. Hulle was egter in die minderheid en bly verder stil. Ons hoor nie weer van hulle nie.


Jesus het Sy prioriteite reg gehad. God se barmhartigheid en almag was op die Sabbatdag beskikbaar net soos op elke ander dag van die week. Die wet op genesing op die Sabbat was vir Jesus ‘n nietigheid teenoor God se koninkrykshandelinge. Jesus het nie aarde toe gekom en toe geïsoleerd en afgesonderd gaan leef nie. Die Prins van die hemel het as volkome mens aarde toe gekom om juis die dinge van mense te ervaar, te kyk deur mense oë, te voel soos mense voel, dink soos hulle dink. Hy weet wat die lewe van mensheid beteken want Hy het reg in hulle lewe ingekom (1:14).


Hoe gaan ons as dissipels oor in aksie wanneer ons ellende waarneem? Ons kan tereg nie blindes se sig herstel nie, maar ons kan barmhartigheid toepas. Bybelse barmhartigheid bestaan nie uit ‘n gevoel of ‘n houding nie, dit is gedagtes wat in medelydende aksies verander. Dit help niks om net te vertél hoe mens omgee en hoe barmhartigheid toegepas moet word, en dit verander nie in fisiese aksie nie. “Mens, die Here het jou bekendgemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, en dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God” (Miga 6:8).


“Ons word geroep om getuies vir Christus te wees, nie advokate nie” (Donna Maddox).


Gebed: Here, dankie vir U voorbeeld van barmhartigheid. Skenk my die krag om barmhartigheid te dóén soveel ek kan, op soveel maniere ek kan, op soveel plekke ek kan en so dikwels ek kan. “As dit is om mense te bemoedig, laat ek hulle bemoedig. As ek gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ek leiding gee, dan met toewyding. As ek ander help, dan met blymoedigheid” (Rom. 12:8). Amen.

 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page