top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


"ONS HET DIE MESSIAS GEKRY"


DIE EERSTE DISSIPELS (2) – DEEL DIE GLORIE


Joh 1:40-42 – “Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: ‘Ons het die Messias gekry!’ Messias beteken Christus. Hy het hom na Jesus toe gebring. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: ‘Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.’ Sefas beteken dieselfde as Petrus.”


Een van hulle wat Jesus gevolg het, was Andreas, die broer van Petrus. Die ander een se naam word nie genoem nie maar dit kan aanvaar word dat dit moontlik Johannes, die skrywer van hierdie Evangelie, was. Die volgende oggend het Andreas sy broer gaan soek voordat hy iets anders gedoen het. Hy was so gretig om sy broer na Jesus te bring dat hy nie tyd verkwis het met ander dinge nie.


Aan Petrus sê Andreas: “Ons het die Messias gekry!”. (Messias=Hebreeus; Christus=Grieks). Die eerste dissipel van Jesus word sendeling. Andreas lei sy broer na Jesus. Daardeur bewys hy aan sy broer die beste diens wat ’n broer aan ’n broer kan bewys, en daardeur het Andreas ook aan die kerk van Christus ’n uitnemende diens bewys. Dit is opvallend dat Andreas in hierdie Evangelie telkens die een is wat iemand anders na Jesus bring en eerder op die agtergrond was (Joh 6:8; Joh 12:22). Dit is ook nie ongewoon dat Andreas na Jesus as die Messias verwys nie. Hy reageer op aanwysing deur die Doper en op grond van sy daglange gesprek met Jesus het hom oortuig daarvan.


Jesus kyk Petrus stip aan en noem hom “Simon, seun van Johannes” om hom van ander te onderskei, en kondig dan aan dat sy naam voortaan “Sefas” sal wees. Dit is dieselfde as die Griekse naam “Petrus” en dit beteken “die rots”. Dit is bekend dat Petrus nie juis ’n rotsvaste man was nie, maar eerder impulsief, veranderlik en onbetroubaar. Maar deur die genade van God word hy tog gevorm om aan die nuwe naam, “die rots”, te beantwoord en deur die krag van God te bou op die uitverkore hoeksteen, Jesus Christus.


Andreas het “eers sy broer Simon gaan soek.” Dit was nie net die eerste ding wat hy gaan doen het nie, maar die belangrikste. Rondom ons is daar gedurig mense wat wag en hoop om vir Jesus gevind te word. Sommiges is mense met bekommernisse, leë lewens of met verwarde denke. Daar is baie mense wat nie weet wat om te doen nie want hulle ken nog nie vir Jesus nie. ‘n Persoonlike ontmoeting met die Messias verander mense maar hulle het meer Andrease nodig om hulle te gaan soek en na Jesus toe te neem. Doen dit met eenvoud. Dit is die belangrikste gebeurtenis wat hul ooit gaan beleef.


Wanneer Jesus stip na ons kyk, sien Hy nie net wie ons werklik is nie, maar Hy sien ook wat ons kan wees. Hy sien nie net die werklike nie maar ook die moontlike. In Petrus het Hy nie net die Galilese visserman gesien nie maar ook die rots op wie die kerk gebou sou word. Jesus se uitnodiging is aan almal: “Kom saam, gee jouself as ‘n lewende offer aan my (Rom 12:1), en ek sal jou verander in wie jy graag wil wees.” Iemand het eendag vir Michelangelo gevra wat hy met ‘n stuk marmerklip doen terwyl hy met ‘n hamer en beitel daaraan kap. Sy antwoord was dat hy die verskuilde engel wat daarin vasgevang is, wil verlos. Jesus is die een wat die verskuilde verlorene kan verlos om ‘n regmatige plek in Sy Koninkryk te vind.


“Die diepste waarheid van die Christelike geloof is dat Jesus my gevind het. Het Hy jou al gevind?” (William Temple).


Gebed: Here, gee aan ons die woorde, die moed en die toewyding om van U te getuig. Laat ons die lewensveranderde boodskap van die kruis aan ander oordra met vertroue. Laat ons saam met Paulus ons “voorneem om met hulle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die Gekruisigde” (1 Kor 2:2). Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page