E-Kerk - Gedagte vir Vandag
Gevaarpunt 12 : Moedhou (1)
Jak 5:7-11 – “Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en laat reëns gekry het. Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here. Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie veroordeel word nie. Die Regter staan al voor die deur. Broers, neem die profete wat in die Naam van die Here gepraat het, as voorbeelde van lyding en geduld. Ons noem hulle geseënd omdat hulle volhard het. Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming.”
Jakobus skryf sy brief aan gelowiges wat oor die hele wêreld versprei is a.g.v. vervolging van Christene. Hulle is meestal arm mense wat deur rykes uitgebuit, veroordeel en selfs vermoor is. Hy skryf aan mense wie se geduld tot die uiterste beproef word. Mense wat verdrukking, vernedering, onreg en oordeel beleef het. Wat moes hulle houding nou wees? Hoe moes hulle hierdie spanning hanteer?
‘n Mens sou verwag dat Jakobus die verdruktes gaan oproep om teenstand te bied want hulle het immers God aan hulle kant. Teenstrydig hiermee begin hy merkwaardig om hulle op te roep om geduldig te wees – “Wag dan geduldig, broers (en susters), totdat die Here kom.” Ons eerste reaksie sou wees dat dit nie waar kan wees nie, dit is verregaande! Dit is onmoontlik vir die onderdruktes om geduldig te wees, te wag en te hoop op ‘n beter lewe terwyl die magtiges in “weelde en oordaad” lewe en te “smul na hartelus” (5:5).
Wat bedoel Jakobus met sy oproep tot geduld? Dit is moontlik om geduldig te wees, soos hy bedoel, sonder om te swyg oor onreg of gelate aanvaarding van sosiale onreg en verdrukking. Christene is protestante en daarom protesteer ons teen alles wat indruis op God se grondwet. Dit het egter niks met stilbly oor die kwaad of onregverdigheid te make nie. Die geduld waarna Jakobus verwys is dat ons nie God se rol moet oorneem nie. Hy sal uiteindelik die Regter wees.
Jakobus bedoel nie ons moet passief wees en maar net tevrede terugstaan en kyk hoe dinge verkeerd loop nie. Inteendeel, gelowiges behoort te let op onreg in die gemeenskap, dit aan die groot klok hang en daaroor praat. Hy waarsku juis dat daar gewaak moet word teenoor onreg, diskriminasie, misbruik van die tong en konflik. Geduld is dus nie om niks te doen nie, maar om te besef dat die finale uitkoms nie in ons hande lê nie. Die uitkoms is vertroue op God alleen!
“As jy nie die lewe met vreugde kan leef nie, doen dit ten minste met geduld” (Thomas Kempis).
Gebed: Here, dankie dat U ons deur Jakobus waarsku dat innerlike ongeduld lei na onderlinge verwyte. Ons geduld met mekaar oor hoe om onreg te hanteer veroorsaak spanning, konflik en verdeeldheid onder mekaar. Help ons om geduldig en lankmoedig met mekaar te wees en die liefde wat Paulus vir ons voorskryf in 1 Kor 13 vers 4, toe te pas. Amen.