top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


ANTWOORD OP DIE WOORD


Gevaarpunt 3 : Reaksie op die woord (4)


Jak 1:26-27 – “As iemand dink hy is godsdienstig maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos. Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.


Vergelyk ook Ps 68:6 – “ ‘n Vader vir weeskinders en ‘n beskermer van die reg van weduwees is God in sy heilige woning.”


Jakobus sluit hier aan by die Joodse kultuur van seremoniële eredienste en die onderhouding van die wet. Die gevaar was dat hulle gedink het hulle is baie godsdienstig deur die wet te onderhou maar hulle het die vernaamste deel daarvan egter gemis – die sonde van die tong, te gou praat en kwaad word (v 19), woede, beledigings en onnodige bitsigheid. Ons kan hierdie bordjie vandag ook om ons nekke hang. Sondae bid ons “Onse Vader” maar in die week tree ons op soos weeskinders sonder die Vader. Die tong word dan ‘n getuienis van die bose drifte wat innerlik in ons skuil en dit maak ons “godsdiens waardeloos.” Gevolglik bedrieg hulle wie skuldig is daaraan, hul eie harte.


“Egte en suiwer godsdiens” word deur ons optrede waargeneem. Die omsien na behoeftiges en verdruktes is deel daarvan – “weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan.” Ware godsdiens is rein en onbesmet want dit word deur God bepaal. God is die “Vader vir weeskinders en ‘n beskermer van die reg van weduwees.” Daarom het die huisgesin van God, die kerk en almal wat deel daarvan is, ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar. Diens van barmhartigheid hou ons weg van wêreldgelykvormigheid. Pragtige kerkgeboue en fantastiese eredienste beteken niks as God se liefde nie na ons naaste uitgebrei word nie.


“Egte en suiwer godsdiens” beteken om jouself te verdiep in dit wat in die spieël waargeneem word. God se woord raak dan ons tonge aan. Ons “tonge kan dan in toom gehou word.” Ons kan God se woord in menswoorde herhaal. Dit raak ons ore aan om die noodkrete van die “weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede,” te kan hoor. God se woord raak ons hande aan wat soms maar toe-erig kan wees om iets te dóén. God se woord raak ons harte aan om ons “skoon te hou van die besmetting van die wêreld” en van alle dinge wat ons van binne af besoedel. God se woord laat liefde vir ons naaste ‘n werklikheid word. Liefde vir ons naaste help ons om lief te bly vir God.


“Min dinge is so leeg soos ‘n godsdiens wat net uit godsdienstige gebare bestaan, sonder ‘n genadige gesindheid teenoor jou naaste” (Ferdinand Deist).


Gebed: Hemel Vader. Vandag wil ons saam met Johannes vir u graag sê: Ons wil nie hierdie sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie want as ons die wêreld liefhet, is U liefde nie in ons nie. Ons weet dat alles wat die wêreld bied, dit wat ons oë sien en begeer, ons ingesteldheid om te besit, kom nie van U af nie. Ons weet ook dat hierdie wêreld met al sy begeertes verbygaan maar dié wat U wil doen, bly ewig lewe (1 Joh 2:15-17). Dankie Here dat ons daardie wysheid van U ontvang het om te kan onderskei tussen die verkeerde en die egte. Help ons om ons “skoon te hou van die besmetting van die wêreld.” Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page