E-Kerk - Gedagte vir Vandag

DIE TWEE FONDAMENTE (5)
Die Hoorder wat Gehoorsaam is (3)
Matt 7:24-25 – “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.”
Vergelyk ook Heb 3:14 – “Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.”
Derdens verduidelik Jesus wat die gevolge van die verstandige man se gehoorsaamheid was: Sy huis het die storms weerstaan. Jesus vertel ons nie hoe die huis gelyk het nie. Wat ons wel weet is dat die huis stewig was want dit was op ‘n rots-fondament gebou. Die huis het dus ‘n standvastige toekoms, veral teen die aanslae van die vernietigende storms wat dit uitmekaar kan ruk.
Wat verteenwoordig hierdie verwoestende storms? Wat veroorsaak dat die huis die toets van tyd sal deurstaan? Jesus verskaf die antwoord – “want die fondament was op rots.” Die tydelike toetse van die storms in ons lewe soos versoekings, vervolging, tragedies, swaarkry en alle negatiewe dinge wat menslik moontlik met ons kan gebeur, kan nie opweeg teenoor die permanente toets nie – die toets van die ewige lewe.
Die “verstandige man” hou die toekoms in gedagte. Hy grawe diep in tot op die rotsbed van die Skrif en volhard in geloof. Wanneer die versoekings van die lewe hom bedreig, kan hy dit weerstaan want hy is "beskut met die wapenrusting van God om staande te kan bly teen die aanslae van die duiwel" (Efes 6:10-18). Hy luister na die woorde van Jesus Christus en pas dit toe in sy daaglikse bestaan. Hy gordel hom vas met die Waarheid sodat hy nie struikel oor sy klere (leuens) nie; Die gordel van betroubaarheid (Bybel) hou die klere (gelowige) op sy plek sodat hy sonder belemmering kan veg teen die leuen (duiwel). Sy skild (geloof in afhanklikheid aan God) veroorsaak dat die brandpyle van die bose (storms) hom nie verwoes nie. Hy plaas die helm van verlossing, (oortuiging van verlossing), op sy kop want hy weet en glo wat God gedoen het om hierdie verlossing moontlik te maak. Hy neem die swaard van die Gees (Bybel) op om te verseker hy wandel in God se wil.
Die “verstandige man” se toekoms is verseker want hy is deel van God se huisgesin. Sy huis het behoue gebly ten spyte van die aanslae van die “storms.” Sy “fondament was op rots.” Die algemene ontberings, vervolging en lyding wat Christene moet deurgaan, kan mens maklik negatief stem en die geloofsvertroue skaad. Met ontwrigtende en verwarrende situasies wat die “storms” veroorsaak, is dit nie altyd maklik om te “volhard in die geloofsvertroue” nie. Hoe meer die “storms” word hoe moeiliker word dit om op Jesus se stem te reageer. Ongeloof is ‘n verskriklike toestand omdat dit neerkom op die versmaaiing van die beloftes van God. Indien ons “fondament op rots is” weet ons dat God al Sy beloftes uitvoer vir hulle wat getrou bly aan Hom, ten spyte van die “storms.” Daarom sal ons “huise ook die storms weerstaan.” Tydens die “storms” van ons lewe, het ons Christene net vir God en mekaar. Jesus maak ons denke nuut daarom dink ons nuut. Dit is genoeg om die permanente toets – die toets van die ewige lewe te deurstaan.
“JY IS WAT JY DINK – DINK NUUT. HERE EK GRYP NA U, GRYP U MY.”
Gebed: Dankie Here dat ons nie moedeloos hoef te raak wanneer die storms om ons woed nie. “Al is ons uiterlik besig om te vergaan, word ons innerlik van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en ewig bly” (2 Kor 4:16-17). Dankie vir daardie versekering, want ons fondament van geloof is op rots gebou. Amen