top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


VERSOENING

Die sesde gebod – Is jy ‘n moordenaar?


Matt 5: 23-24 – “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

Vergelyk ook Jak 1:26 – “As iemand dink hy is godsdienstig maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself.”


Jesus se luisteraars was baie bekend met die woorde van offers na die altaar. Die Ou Testamentiese Jode het by die altaar met God versoening gesoek. Hulle het deur hul skuldoffer en wydingsoffer by die altaar hul skuld bely en lewe opnuut aan God toegewy. Hierdie vermaning van Jesus het hulle weer laat besef dat daar nie aan God ‘n offer gebring kan word indien hul nie vrede gemaak het met ander mense nie. Jesus se uitspraak is om aktiewe vredemakers te wees. Hy het ons onlangs nog tydens Sy Saligsprekinge as vredemakers geseën (Matt 5:9).


Sonde is nie net ‘n muur tussen God en ons nie, maar ook tussen ons en iemand anders. Om te dink ons het met God vrede gemaak omdat ons in Jesus Christus glo, is nie genoeg nie. Dit is nie volkome vrede nie. Wanneer ons gawes na die plek van versoening met God toe neem en dit ons daar byval dat iemand iets teen ons het, moet ons eers die vrede gaan herstel. Ongelukkig is dit ‘n feit dat ons in ‘n verskeurde wêreld leef en daarom sal dit miskien nodig wees om hierdie herstel-proses baie te herhaal.


Ons wonder soms hoekom ons gebede nutteloos voel. Daar bestaan ‘n gevoel dat daar ‘n versperring tussen God en ons is. Is daardie versperring nie dalk deur onsself opgerig nie? Jesus sê hier vir ons dat ons nie ‘n gesprek met God moet begin as ons vir ons broers of susters kwaad is en nie met hulle praat nie. Dit is natuurlik nie verkeerd om enige tyd met God te praat nie maar dit is ‘n ander kwessie as ons skynheilig met God in gesprek tree en maak asof daar niks verkeerd is nie. Jesus sê ons moet eers bietjie wag met die gesprek met God en eers gou gaan regmaak, die versperring van agressie gaan verwyder – daardie versperring wat loop van die hart na die tong na die bloedige hand.


“Daar is nie ‘n maníér dat ek gaan vrede maak nie, ek is nie die oorsaak van hierdie twis nie!” Dit is gewoonlik die reaksie van menigte en eintlik ‘n kinderagtige argument. Iemand wat aan God behoort, reageer egter anders, al is dit hoé moeilik. Hy draai nie om en stap wipperig weg nie – hy stop en sê: “Ek is jammer.” Jesus se woorde om “eers reg te maak” is die uitstaande kenmerk van ‘n getroue dissipel wie se optrede positief is. Dit sluit die waarheid oop en die waarheid maak vry. Jesus se antwoord vir ons: “To serve our brother, to please him, to allow him his due and to let him live, is the way of the cross. Greater love hath no man than this: a man lay down his life for his friends. That is the love of the Crucified.” (Bonhoeffer)


Gebed: Here, U sê vir ons om na U te kom sodat ons die saak kan uitmaak: Al was ons skarlakenrooi van sonde, sal ons wit word soos sneeu. U is bereid om te vergewe! Maar Here, hoekom moet daar altyd ‘n maar in ons mense se woordeskat wees? Waarom is dit so moeilik om in vrede met mekaar te lewe? Waarom is dit so moeilik om te sê ek is jammer as die woordewisseling eers begin het? Open ons saamgeperste lippe dat die herstel van liefde en harmonie ál is wat saak maak. Help ons om soos U die uitnodiging te plaas dat ons die saak wil uitmaak sodat dit in vrede eindig.

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page