top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Matt 5:10-12 – “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want jul loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

Vergelyk ook Joh 7:7 – “Die wêreld kan vir julle nie haat nie; maar hy haat My, omdat Ek openlik verklaar dat sy dade sleg is.”


Hoekom is dit so maklik vir ongelowiges om Christene te vervolg en te beledig? Wat is dit dat Christen regverdigheid, ongelowiges aanstoot gee en selfs verag? Omdat Christene anders is as die wêreld! “In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle (1 Pet 4:3-4).

Hulle is kwaad omdat hul pelle nie meer saam kuier nie en beskou die pelle selfs as dwase wat die “lewe” verruil het vir ‘n onsienlike God. Christene word dan uitgeskel as vervelende snobs.


Vervolging vererger wanneer daar nie gedeel word in ander se korrupte lewenswyse nie. ‘n Broer-in-misdaad maak dit makliker om te erken dat “almal dit tog doen.” Die ongelowige staan dan skielik alleen wanneer “ander” Christene is of word. Die vervolgers se gode is hul sondige wellus en dit skei hulle van die “skynheiliges.”


Dissipels met hul getuienisse word verag want hulle het die groot leuen oor ongelowigheid ontbloot. Wanneer ongelowiges die lig gewys word, verkies hulle eerder die donkerte. Hulle is so diep ingedompel in hul verkeerde dade dat hulle nie daar gesteur wil word nie. “En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hul dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie” (Joh 3:19-20).


Hulle haat die lig en wil dit afgesit hê maar wil dit nie self afsit nie. Hulle soek fout by gelowiges en blaas dan alles op om ander op te sweep, om ook die lig af te kry. Hulle val die getuie aan om die getuienis uit te wis! Hulle haat die gelowiges want die gelowiges het hulle aan die lig ontbloot!


“The way to heaven is by way of thorns and blood” (Thomas Watson)


Gebed: Here, wanneer ons rondom ons kyk, lyk die wêreld deurmekaar. Die wêreld gaan gebuk onder skrikwekkende misdadigheid en haatdraendheid. Ons besef dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose magte in die lug. Dankie Here dat ons egter ook weet dat U Gees wat in ons woon, magtiger is as die gees van die wêreld. Laat ons stil word voor U en ons opnuut toewy aan U. Laat ons die goeie stryd stry om mense wat in die donker is, na die Ewige Lig kan bring.

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page