top of page

E-Kerk Gedagte vir Vandag


Matt 5:8 – “Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”

Vergelyk ook Matt 15:19-20 – “Die hart is die oorsprong van slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, valse getuienis, kwaadpratery. Dít is die dinge wat ‘n mens onrein maak”


Hierdie saligspreking verwag van Christen gelowiges om eers halt te roep, selfondersoek te doen en ‘n paar vrae te antwoord:

  • Is ek diensbaar met die motief om as dissipel te dien of om iets daaruit te kry?

  • Is ek heeltemal eerlik of hou ek ‘n front voor?

  • Word my lewe gekenmerk deur openheid en integriteit?

  • Gaan ek kerk toe om God te behaag of om my gewete te sus?

  • Is Bybellees en gebed geskoei om saam met die Drie-Eenheid te wees of om die gewoonte wat van kleins af ingedril is, voort te sit?

  • Is ons geloof in Christus gevestig deur die Heilige Gees of oëverblindery aan die wêreld?

Elkeen behoort bogenoemde vrae te beantwoord sonder om die menslike by-motiewe van “Ja, maar....” by te voeg. Jesus fokus op reinheid, heiligheid en skeiding van die bose en Hy beheer dit deur Sy Gees.


Die hart is die oorsprong van ons geloof (Rom 10:10), verbeelding (Eseg 13:2), verstand (Job 38:36), insig (1 Kon 3:9). Ongelukkig is die hart ook die oorsprong van slegte dinge (Matt 15:19-20). Sedert die ontstaan van die mens is sy hart al besoedel (Gen 6:5) en bedrieglik en onverstaanbaar: “Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? (Jer 17:9). Daarom fokus Jesus op die hart van die mens.



Indien die mens toelaat dat God die hart van die mens kan rein maak, is daar hoop. Dan word die mens verander van binne-af na buite toe.


Gebed: Saam met Dawid weet ons dat U opregtheid verwag diep in ons hart. Saam met hom smeek ons dat ons diep in ons binneste sal weet hoe U wil hê ons moet lewe. Skep vir ons ‘n rein hart, o God, vernuwe ons gees. (Ps 51:8; 12)

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page