Gedagte vir Vandag
Maandag, 24 Februarie 2025
Koos Espach
Die vrug van die vryspraak (11)
Gevolge van God se onbegryplike liefdesdaad op Golgota
Rom. 5:9-11 – “Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 10 Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 11 Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.”
Vergelyk ook Joh. 10:28-30 – “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit My hand ruk nie. 29 Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30 Ek en die Vader is een.”
Paulus het pas verwys na die verlede en vir ons herinner aan wat God se liefde vir ons gedoen het, toe ons nog vol sonde was. Vanuit hierdie verlede maak Paulus die gevolgtrekking dat God van die verlede, ook die God van môre, die God van die toekoms is. God se verbondsliefde verander nooit nie, daarom “staan dit soveel vaster dat ons” met geloofsekerheid kan vashou aan die feit dat ons gered is. Dit is ‘n vaste sekerheid wat meer is as verstandskennis, dit is ‘n vaste sekerheid dat God se versoeningsliefde, in ons harte moet wortelskiet. Dit is die enigste ware basis van sekerheid in hierdie lewe – maak nie saak hoe swaar dit met ons gaan nie, Jesus hou ons vas met sy spykerdeurboorde hande!
Swaarkry kán ook 'n tou-opgooi-mentaliteit kweek! As ons tou opgooi kán ons geloof knak; as ons geloof knak kán ons hoop verloor. Daarvoor moet ons veral bid, dat die Heilige Gees ons in staat sal stel om aan te hou hoop, aan te hou glo dat ons versoen is met God, en “noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word.” Een van die voordele van ‘n lewe met God is dat Hy ‘n vrygewige Vader is. God het tot die uiterste toe gegaan om ons sy kinders te maak, (Joh. 1:12), en omdat ons sy kinders is, het Hy vir ons sy Gees gegee om uit te roep en te kan bid: “Ons Vader …” God maak dit persoonlik – Hy ís ons Abba Vader!
Wanneer ons egter steeds moedeloos raak en tou wil opgooi, keer Paulus terug na vandag. Hy sê: “Maar dis nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.” Vergifnis is nie al waaroor ek en jy ons kan verheug nie. Dit is nie net in die toekoms weggelê nie, nee, Jesus gee dit hier en nóú reeds in hierdie lewe. Jesus bevestig dat Hy veel meer vir ons kan doen, want dit gaan nie nou meer oor die heerlikheid van die toekoms of die swaarkry van die hede nie, maar oor God sélf, die Gewer van die hoogste vorm van Christelike blydskap! God beskik oor die mag om lewe te skenk wat selfs oor die dood heen strek!
Jesus het in Joh. 10:28 self verklaar dat Hy vir ons die ewige lewe gee. En dan bevestig Hy sy woorde met nadruk: “Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.” Lees dit weer! Is dit nie elke gelowige in Jesus Christus, se lewenspolis nie? Die “ewige lewe” is ’n lewe waaraan die dood nooit ’n einde kan maak nie, en wat deur blywende geluksaligheid gekenmerk word, reeds nóú al, in hierdie lewe. Dit staan vas, ons is “deur die lewe van God se Seun gered.”
Ek het dit al gesê, maar wil dit graag herhaal. As ek en jy werklik wil weet hoeveel ons vir God beteken, moet ons net na Christus kyk waar Hy met sy uitgestrekte arms aan die kruis hang en sê: “Ek is só lief vir jou! Ek sterf eerder as om sonder jou te leef. Niemand sal jou uit My hand ruk nie, en niemand kan jou uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.” Verruklike onselfsugtige liefde!
Geen gelowige wat weet hóé sterk die Here hom of haar vashou sal ooit wil los nie! Geen gelowige sal daarom tou opgooi en ophou bid, of ophou glo nie. Die feit dat Jesus Christus as Plaasvervanger vir ons sondes vasgespyker is aan ‘n kruis, veroorsaak dat ons wil bly vashou, en nooit wil los nie. Ons moet nie tou opgooi nie, ons redding en behoud hang nie af van ons swak vashou-vermoë nie, maar van God wat Sy versoenings-liefde klaar op Golgota aan ons bewys het. Ek en jy kan “nou” en elke dag ons verbly in God se versoenings-genade!
“Gebed is soms net ‘n snik of ‘n sug, maar sal die God wat sy Seun aan die kruis hoor kreun het, dit nie hoor nie?” (Gwynneth Gibson).
Gebed: “En nou kan ek met vrymoedigheid na U gaan, omdat U my gebede verhoor as ek enigiets volgens U wil vra. En aangesien ek weet dat U my gebede verhoor as ek iets só vra, weet ek ook dat ek kry wat ek van U vra” (1 Joh. 5:14-15). En wanneer my gebede onvervuld terugkeer na my, sal dit my nie wegdryf van U af nie Here, maar in groter afhanklikheid voor U laat bly kniel. Dankie tog, “niemand kan my uit U en God se hand ruk nie.” Amen.
Comments