top of page

Gedagte vir Vandag

  • 23 hours ago
  • 4 min read

Vrydag, 8 Mei 2026

Koos Espach


Die nuwe lewe in Christus (12)

 

Aanvaar jou opdrag


Rom. 12:6-8 – “Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe is om God se boodskap te verkondig, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. 7As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. 8As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.” (1)

 

As nuutgemaakte mense, gee die Gees aan elkeen van ons bepaalde gawes. Party ontvang die gawe om te preek, ander om te dien, ander om ‘n woord van wysheid te spreek, ander om siekes te ondersteun, ander weer om met kinders te kan werk, ander om te kan luister, en ander weer om te lei, te volg of te administreer. En so kan ons aangaan. In wese kom dit egter daarop neer dat God deur sy Gees, gawes so uitdeel dat sy kerk kan werk en leef, en dat elkeen in die kerk sy plekkie het waar hy/sy kan dien en werk. Ons is deur God gered om te kan dien: “Hy het ons gered en geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het" (2 Tim. 1:9). 

 

Ons is geskep “om te dien, laat ons dien.” “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef. 2:10). Ons diens vir God is nie vir ‘n beloning nie, ons het dit reeds ontvang. Ons is nie déúr diens gered nie, maar vír diens. Ons is gered om God te dien en nie om net intussen rond te hang en vir die hemel te wag nie. Diens kan verskeie vorms aanneem, waarvan “onderrig gee en mense bemoedig”  maar enkeles is waar dit gaan om ander se behoeftes te bevredig. Om God te dien beteken ons soek ‘n plek waar ons kan dien en waar ons ‘n seëning vir ander kan wees, en nie ‘n kerk waar mý of jou behoeftes bevredig word en ons dan geseën word nie. Daarom neem God ons nie dadelik hemel toe wanneer ons sy genade aanvaar nie, Hy los ons hier om “ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

 

Om “leiding te gee en ander te help” is belangrik want ek en jy glo God het ons elkeen geskep om ‘n verskil te maak. Diens aan ons naaste is vir ons Christene nie opsioneel nie, iets wat ons opsy skuif totdat ons “besige” skedule dit eendag toelaat nie. Deesdae gaan menigte kerke agteruit omdat Christene op die kantlyn sit terwyl die Liggaam ly! Hierdie sewe voorbeelde van genadegawes beklemtoon dat ons gawes ontvang het om prakties diensbaar aan die Liggaam van Christus te wees. Daar is twee dinge wat elke mens móét doen, ons móét sterf en aan die einde van ons lewe op aarde, sal ons móét verskyn voor die Regterstoel, en dit is daar waar “elkeen van ons oor hom- of haarself aan God moet rekenskap gee” (Rom. 14:12).

 

Betrokkenheid en dienslewering is tasbare maniere waarmee ons “onsself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is, kan gee, en so die wesenlike van ons godsdiens beoefen” (Rom 12:1). As ons nie dien nie, bestaan ons net, daarom moet ons “elkeen, as goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien” (1 Pet. 4:10). Wanneer God eendag van ons rekenskap gaan eis, gaan verskonings van selfgesentreerdheid maar hol klink. “Ek was te besig met ... ” gaan by God die verkeerde antwoord wees – “Wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou” (Mark. 8:35), sê Jesus.

 

Wanneer ek en jy al ons Godgegewe vermoëns gebruik om ander mense te dien, vervul ons ons roeping. Elkeen van ons gelowiges behoort te vra: Vir hoeveel van die tyd is ek in diens van God nuttig? Kan ons eerlik antwoord: Nou het Jesus ‘n nuwe paar oë om mee te sien, nuwe ore om mee te luister, nuwe hande om te help en ‘n nuwe hart om ander mense mee lief te hê? Ek en jy het ‘n rol om in die kerk waar God ons geplaas het te speel, en elke rol is belangrik. Daar is nie so iets soos ‘n klein diens aan God nie, alles maak saak!

 

“In God se vreemde onderstebo waardesisteem kies Hy swak, verwonde, verwese, bang, sukkelende, volgens wêreldse standaarde oneffektiewe, kan-nie-die-mas-opkom-nie-mense en juis met hierdie hopeloos ontoereikende instrumente, doen Hy sy magtige werk op aarde” (Robert Girard).

 

Gebed: Hemelse Vader, maak my oop vir die werk van die Gees om my gawes te ontdek en tot U eer aan te wend. “U gee U gawes net soos U wil; almal is diensbaar, elk met verskil. Vul met U Gees my, breekbare kruik, dat U my oral nuttig gebruik” (Lied 528:3). Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page