top of page

Gedagte vir Vandag

  • 12 hours ago
  • 4 min read

Woensdag, 13 Mei 2026

Koos Espach


Die nuwe lewe in Christus (14)

 

Deel vol bakkies uit

 

Rom. 12:8b – “Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het ... 8bAs ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees.” (2)


Ons bure gee altyd iets terug as hulle iets van ons ontvang het. As ons ’n bakkie kos of ’n warm broodjie of ietsie lekkers oorstuur, kom die bakkie nooit leeg terug nie. Of dit nou ’n sakkie koekies is of vrugte,’n vetkoek of twee, hulle kan nie ontvang sonder om terug te gee nie. Daarom stel Paulus die volgende vir my so mooi: “Terwyl ons nog tyd oorhet, moet ons elke geleentheid benut om goed te doen aan almal wat op ons pad kom, maar veral aan ons broers en susters in die Here. Hulle is ons bloedfamilie” (Gal. 6:10 - Die Boodskap). 


Soos die bure nie huiwer om terug te gee nie, kan die mense wat God liefhet, hulleself nie keer om goed te doen aan ander nie. En dis deel van ons omgee vir mekaar as Christen-familie. Keer op keer, dag vir dag, ontvang ons bakke vol genade van God. Ons kan nie die bakke leeg terugstuur nie. Dit gebeur eintlik outomaties dat ons in reaksie op dit wat ons ontvang, nie anders kan as om terug te gee nie. Dis ’n ongeskrewe reël, en dis “sonder bybedoelings.”


In die begin van Covid-19-tyd hoor ek hoe ’n ou oom wat moes gaan vir toetse, vir die verpleegster vra of sy nie weet waar hy toiletpapier kan koop nie, want die supermarkte in sy omgewing het geen voorraad meer nie. Daardie aand daag die verpleegster en haar vriendin by die oom en tannie se voordeur op met ’n sak vol toiletpapier. Die vriendin was by verskeie winkels om toiletpapier in die hande te kry. Hulle het die toiletpapier afgelewer en het betaling daarvoor geweier. Hierdie eenvoudige daad vertel iets van die verpleegsters wat self baie ontvang het, en daarom hulleself nie kon keer om die bak vol te maak en aan te stuur vir ander in nood nie.

 

Tydens die Tweede Wêreldoorlog is die katedraal in die Duitse stad Strasbourg deur ‘n bomaanval vernietig. Ná die oorlog was mense besig om die rommel van die eens statige kerkgebou, op te ruim en ‘n lewensgroot standbeeld van Christus onder die rommel ontdek. Die beeld was ongeskonde behalwe dat albei hande van die beeld weg was. ‘n Beeldhouer het aangebied om die beeld te herstel en weer hande aan te bring. Die kerkraad het egter geweier en besluit om die Christusbeeld sonder hande in die nuwe kerkgebou te behou. Hulle het bygevoeg: “Ons Christusbeeld sonder hande sal ons altyd daaraan herinner dat Christus wel die harte van mense kan aanraak, maar dat Hy óns hande nodig het om sy dienswerk op aarde te verrig.” 

 

Ware diensbaarheid vra van my en jou die bereidheid om klein, eenvoudige takies vir ander mense te doen. Diensbaarheid behels ook hulp aan diegene wat nie hulp verdien nie; dit vereis dat ons soos Jesus, gewillig sal wees om die dinge te doen waarvoor ander mense hulle neuse optrek. Dit is ons taak as Christene om diensbaar te wees – vir Christus en ons naaste. En wanneer ons die bakkie vol aangee na die mense rondom ons wat dit so nodig het, is daar nog goeie nuus. God onthou elkeen van die dade. Nie dat ons dit doen om gesien te word nie. Ons doen dit mos maar net uit dankbaarheid.


Kom ons kyk rond om geleenthede raak te sien waar ons van die bakkies wat ons ontvang het, vol te maak en gaan uitdeel aan dié wat dit so nodig het. Kom ons wees Jesus se hande en voeg daad by die woord en dóén uit liefde, anders as dié: “Ek was honger en dors – julle het ‘n kommissie benoem om my nood te bespreek. Ek was in die gevangenis – julle het my stilweg vermy en gebid vir my ontslag. Ek was naak – julle het ‘n vergadering belê om die etiek van bedelary te debatteer. Ek was eensaam – julle het my alleen gelaat en vir my gaan bid. Julle bid só mooi en praat só baie – maar ek is steeds honger en haweloos en baie eensaam” (Uit Fyn en Silwer Woorde). Hoe kan ons ons hartsbegeerte uitdruk om te dien? Stel vas wat ons die graagste doen – waarvoor God my en jou ‘n hart gegee het – en doen dit tot sy glorie!

 

“Iemand wat nie sy gawes ten volle benut nie, is besig om kosbare lewenstyd te mors. Jy lewe immers om te dien” (Ds. Johan Smit).


Gebed: Vader, my bakke is altyd vol. Ek ontvang daagliks so baie van U af. Help my om geleenthede raak te sien waar U vir ander wil gee. Help my om U vol bakke daar te gaan aflaai. Maak my gewillig om diensbaar te wees, nie net sal bid en organiseer nie, maar aktief betrokke sal raak by die nood van ander. In Jesus se Naam. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page