top of page

Gedagte vir Vandag

  • 2 days ago
  • 4 min read

Maandag, 11 Mei 2026

Koos Espach


Die nuwe lewe in Christus (13)

 

Doen alles om God te verheerlik

 

Rom. 12:8b – “Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het ... 8bAs ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees.” (1)


Vergelyk ook Matt. 6:1-2 – “Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie … 2As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.”

 

Die eerste van drie voorbeelde wat Jesus voorgehou het in sy bekende Bergpreek, is om in hierdie lewe geregtigheid te beoefen deur na armes om te sien. Die versorging van die armes was ‘n belangrike faset van die Joodse- en vroeë Christelike gemeenskapslewe. God het dit van die Ou Testamentiese Jode gevra om na die armes om te sien want daar was baie behoeftiges wat ontsettend swaar gekry het. Dit was egter afhanklik van individue se vrygewigheid, wat meestal ‘n probleem was. Sommiges, veral die godsdiensleiers, het uit eersugtige bymotiewe hulle bydraes met groot vertoon in die openbaar, gegee. Om aalmoese aan armes uit te deel, het gewys hoe vroom hulle is.

 

Jesus bring die kontras van omgee vir behoeftiges wat deur skynheiligheid gedoen word, in die reine. Jesus benadruk hoe die Fariseërs dit verkeerd gedoen het, teenoor die reg doen van ons, sy dissipels. Armsorg en hulpverlening is vandag nog steeds ‘n groot behoefte. Ongelukkig het dit in sommige gevalle ontaard in ‘n vertoonspel van “If you’ve got it, flaunt it!” Sommiges wat gee, wil in die kalklig wees – hoor hoe goed hulle is; hoeveel hulle doen vir behoeftiges; hoeveel tyd daar gespandeer word om ander te help; hoeveel ure vir behoeftiges gebid word; hoeveel ure spandeer word op uitreike om na behoeftiges om te sien. In die meeste gevalle gaan dit oor eersugtige selferkenning en waardering.

 

Wat is die motief daarvan? Sien dié wat liefdadigheid ontvang, God in die liefdesdaad raak? Word God wat sien wat “verborge is,” (Matt. 6:4) daardeur beïndruk? Gaan dit om God te verheerlik, of oor eie eer? Ons Vader ken almal se motiewe. Jesus verklaar nie ons moet nie indrukwekkend wees nie – meeste Christene is buitendien indrukwekkende mense. Jesus is ook nie teen publieke regverdigheid nie – getrou aan die wet; sout en lig vir die aarde. Jesus se belang is egter met watter motief en gesindheid dit gedoen word?

 

Is dit dan verkeerd om te gee sonder dat iemand daarvan weet? Geensins, die Bybel is vol voorbeelde daarvan: Gelowiges verkoop hulle besittings en verdeel dit onder mekaar volgens elkeen se behoefte (Hand. 2:45); Numeri 7 lys name van skenkers aan die Tabernakel; 1 Kronieke 29 beskryf presies hoeveel die leiers van Israel geskenk het om die tempel te bou. Indien hulle egter na status, reputasie en beloning gesoek het, was dit verkeerd. Die ergste natuurlik is wanneer hulle dan erkenning kry van ander, dan “skuld” die Here hulle niks meer nie. “As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees.”

 

Jesus se motivering is dat dit nie gaan oor wat “die mense” gaan sê, of om hulle te beïndruk nie, maar oor God. Jesus motiveer ons juis om te gee, om om-te-gee! Ons gee bloot omdat ons ons liefde vir mense wil betoon. Ons tem ons behoefte om ‘n goeie indruk te wek, om raakgesien en om bewonder te word. Ons hoef nie bekend te wees nie. Wanneer ons só lewe, gee ons ons hoogmoed die nekslag. Wil ons nie eintlik net die persoon wees uit wie se hart goeie dade vloei nie?

 

Wanneer ons gee, moet ons só draai dat die kalklig nie op ons val nie maar dat die lig na God toe draai sodat Hy verheerlik word. Wanneer mens te breed in die lig staan, is daar nie plek vir ander om in die lig te kan inkom nie en niemand kan dan vir God raaksien nie. Dis goed genoeg as net God sien wat ons doen en met watter gesindheid ons dit doen. “Ons het buitendien die  gawes (om te gee), uit genade van God ontvang. Daarom kan ons gee sonder bybedoelings.” Ons weet God weet, en dis al wat saak maak. Hy ken immers ons hart. 


“Wanneer mense vir liefdadigheid gee, wil die wêreld weet hoeveel hulle gegee het. Jesus vra egter nie hoeveel hulle gegee het nie, maar met watter gesindheid hulle gegee het?” (Andrew Murray).

 

Gebed: Here, maak my sensitief vir mense se behoeftes. Maak my hart soos U liefdevolle hart wanneer ek uitreik na ander en stuur my in die rigting waar iemand om hulp wag, nie waar ék wil en volgens my keuse nie. Wanneer ek daar arriveer om te help, maak my deursigtig dat mense skaars van my sal weet, maar agter my, om my, by my, binne my, U sal sien. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page