top of page

Gedagte vir Vandag

  • 3 hours ago
  • 3 min read

Maandag, 25 Mei 2026

Koos Espach


Riglyne vir die Christelike lewe (1)

 

Hanteer versigtig - breekbaar


Rom. 12:9-10 – “Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. 10Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.” (1).

 

Paulus gee vir ons in die volgende paar verse, tien kort maar kragtige riglyne hoe om ons genadegawes prakties uit te leef in die gemeente en in ons daaglikse omgang met die lewe. Dit is opmerklik dat elke riglyn wat Paulus hier vir ons gee, kenmerkend was van Jesus se eie lewe op aarde. Jesus Christus was nederig en gewillig om sy regte as God, prys te gee om ons Vader te gehoorsaam en die vodde van die mens aan te neem, mense te dien en dit met onbeskryflike liefde te doen, want Hy ís liefde!

 

Elke gemeentelid het wel afsonderlike genadegawes ontvang, maar alle gemeentelede het gemeenskaplik één gawe ontvang, die “liefde”. Omdat ons daardie unieke nuutgemaakte deel van Christus is, deel van sy liggaam is, kan sy gedagtes ons gedagtes word en sy gesindheid, ons gesindheid. Christus moet nie net aanbid word vir alles wat Hy is nie, ons moet soos Christus word! Die beginsels wat deur Jesus geskep is twee duisend jaar gelede, is vandag nog waar, effektief en van toepassing.

 

“Die Boodskap” beskryf Paulus se woorde in vers 10 dat ons “in harmonie met mekaar moet leef. Ons moenie baklei nie.” Paulus het goed geweet waarvan hy praat. Hy het gesien hoe die Christene van destyds onderling kan twis en baklei, skinder en agteraf kwaadsteek onder mekaar.  Gelukkig is dit vandag darem nie meer die geval nie. Toe nie! In elke kerk is daar soms verskil van mening oor sake, meestal kleinighede. Ons is almal maar net mense, al is ons “nuutgemaak.” Dis onrealisties om te dink dat almal oor alles sal saamstem.

 

Rick Warren sê dit kos hoflikheid om gemeenskap binne ‘n gemeente te bou. En hier verwys hy nie na gemeentes waar daar gedurig konflik is nie. Wanneer daar groepe in die kerk is wat gedurig haaks is, is ‘n goeie dosis liefde broodnodig – God se liefde! Ons kan ook Paulus se raad aan Titus volg: “Wees inskiklik en bedagsaam teenoor ander” (Titus 3:2). Maar, ongelukkig is daar altyd minstens een “moeilike mens” in elke kerk. Iemand het hierdie tipe mens EGB-mense genoem: “Ekstra genade benodig.”

 

Petrus se raad teen sulke mense is dat “almal teenoor mekaar nederig moet wees en mekaar help” (1 Pet. 5:5). Nederigheid maak immers dat ons anders dink oor ander mense en anders teenoor hulle optree. En al is dit hóé moeilik, kán ons hulle met waardigheid behandel – “kill them with kindness.” Ons gelowiges is immers “familie” en familie beskerm mekaar. Die waarheid is dat ons almal gewoontetjies en irriterende dingetjies het, maar ons verhouding tot God maak die grondslag van ons gemeenskap uit. Dit is presies wat God in gedagte het wanneer Hy deur Paulus vir ons sê: “Betoon hartlike broederliefde (susterliefde) teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.”

 

Paulus se woorde in vandag se teksverse maak dit duidelik hoekom ons mekaar as gelowiges met respek en eerbied moet behandel – want die Heilige Gees woon in ons. Ons is Sy tempels, Sy aardse adres, ons is God se eiendom: “Julle moet mekaar soos eie broers en susters liefhê. Besef dat die Heilige Gees in julle woon; dan sal julle mekaar met groot respek en agting behandel” (Rom. 12:10 – Die Boodskap).

 

Stephan Joubert stel dit baie mooi: “Ek en jy moet ons geloofsoog instel. Ons behoort dan die nota op daardie ‘EGB-mense’ raak te sien: ‘Hanteer versigtig – Breekbaar!’ Hanteer met deernis – ‘betoon hartlike broeder-susterliefde.’ Vergewe hulle as hulle verkeerd gedoen het. Wees die Heilige Gees se sakdoek. Moenie bo-oor of om hulle stap nie, ‘bewys eerbied teenoor hulle en wees daarin tot voorbeeld vir hulle’ – Jesus se voorbeeld!” Terloops, wanneer konflik reg hanteer word, groei mense nader na mekaar.

 

“Die allerhoogste geluk in hierdie lewe is die wete dat iemand jou liefhet ter wille van jouself. Of meer korrek: ten spyte van jouself” (Victor Hugo).

 

Gebed: Here, gee dat U liefde sal maak dat ek na ander mense sal kyk deur die bril van U liefde vir my. Amen.   

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page