top of page

Gedagte vir Vandag

  • 2 days ago
  • 4 min read

Vrydag, 15 Mei 2026

Koos Espach


Die nuwe lewe in Christus (15)

 

Die Here beloon barmhartigheid

 

Rom. 12:8 – “Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het ... 8As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.” (1).


Vergelyk ook Matt. 25:40 en 45 – “En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen. Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.”

 

Prof. Willie Jonker het jare gelede gesê dat God aan die kant van die “underdog” is wat tjank en nie aan die kant van húlle wat hul medemens byt nie. Volgelinge van Jesus, wat Hy sy ‘skape noem’, sien die mense raak wat die mees basiese behoeftes ontbeer en doen wat hulle kán om ‘n verskil daaraan te maak. Die ‘skape’ is daardie volgelinge wat verstaan dat hulle genade ontvang het om genade uit te deel. Dit is hulle wat soos Jesus geleef het en steeds leef tussen Jesus se hemelvaart en wederkoms. Die bokke is daardie volgelinge wat hulle selfsugtig in Jesus se genade verlustig het en niks gedoen het en steeds niks doen, vir God se stukkende wêreld nie (vgl. Matt. 25:22-23).

 

Jesus is ernstig dat ons Christene ‘n doelgerigte funksie moet vervul. Oor die beslissende erns van ons dade is daar geen twyfel nie. Daardeur inspireer Hy ons om genadig, vriendelik en vrygewig te wees – ons medemens dien. Is dit dan nie presies hoe God teenoor ons optree nie? Wie daarom vandag, as volgeling van Jesus, die basiese nood van die medemens doelbewus miskyk of verontagsaam, mag hulle by die eindoordeel moontlik aan die verkeerde kant, die linkerkant van die koninklike troon bevind. Wie die naaste vandag in liefdeloosheid wegwys, miskyk of ontken, mag dalk dieselfde reaksie oor hom- of haarself bring by die wederkoms van die Koning.

 

Dit word vertel van ‘n verpleegsuster wat haar ontferm het oor ‘n pasiënt van ongeveer een jaar oud wat opgeneem is in ‘n hospitaal. Dit was ‘n klein seuntjie wie se lyfie oortrek was met kneusplekke, skrape en rowe. Sy toestand was toe te skryf aan die wreedheid van sy ouers. Sy interne beserings was só erg dat hy geen kos kon binnehou nie en die rowe a.g.v. sigaret brandmerke. Sy het hom elke dag liefdevol opgetel en sy stukkende lyfie teen haar vasgedruk tot die dag dat hy weer gesond was.

 

Hierdie baba is maar een van die lewende simbole van menslike wreedheid en alles wat God moet verdra in die wêreld van Sy skepsels se onbetrokkenheid. Wat doen ek en jy in sulke gevalle? Laat ons toe dat kinders gekneus, gefolter en beseer word, of gaan ons uitreik, hulle optel en vertroetel en in barmhartigheid naby aan ons harte hou? Die tyd vir betrokke raak en toewyding is nie eendag nie, maar nou! Elke dag! Jesus verwag van my en jou om ons te ontferm oor ‘n mishandelde kind, n arme sondaar, enigeen in nood. 

 

Jesus vra niks anders nie as wat reeds aan ons gegee en gedoen is. Die lys dade aan “die geringstes” bevat die "basiese" behoeftes van mense. Ek meen, wat is meer alledaags as ‘n honger mens, of iemand sonder klere, of ‘n gevangene, ‘n hospitaal pasiënt? Dit wat Jesus van ons vra, is doenbaar en eintlik maklik uitvoerbaar. Hy vra die eenvoudigste dade wat wys dat ons omgee, selfs al is ons sélf in ‘n hospitaalbed. Daar is niks gesofistikeerd daaraan nie. Dit vereis nie groot geleerdheid nie. Dit vereis nie rykdom nie. Net ’n omgee hart vol liefde. Dit is positiewe diens en omgee wat hulle weer hoop vir die lewe kan gee!

 

Natuurlik word opoffering vereis in terme van ons tyd en beskikbaarheid, maar verder niks wat buite my en jou vermoë is nie. Liefde, belangstelling, omgee en sorg kan almal gee. Om iemand se dag op te helder met ‘n gebaar van vriendelikheid en welwillendheid by ons werkplek of waar ook al, kan ‘n groot impak maak in ons dade van voed, klee, besoek ...! Ons liefdesdade teenoor ‘n behoeftige medemens dra krag. Dit dra nie reddingskrag om ons saligheid by God te verdien nie, maar dit gaan wel om die finale dinge van die lewe. Onthou, ons is nie déúr diens gered nie, maar vír diens. Ek en jy het ‘n doel en funksie in God se koninkryk!

 

“Een vriendelike daad kan drie maande se winterkoue verdryf” (Japanese spreekwoord).

 

Gebed: Here, U is vir my die volmaakte voorbeeld van vriendelikheid, barmhartigheid en omgee vir vreemdelinge, verdruktes en sondaars. Help my deur U Gees om U voorbeeld te volg. Laat my liefdesdade nie net woorde en lippetaal wees nie, maar dade wat in opregtheid bewys word (1 Joh. 3:18). Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page