top of page

Gedagte vir Vandag

26 April 2021

Koos Espach


Die oes is groot ,maar die arbeiders min!

JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (72)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (18).

(Matt. 21:1–22:46)


Die gelykenis van die twee seuns (1)


Sê én doen!


Matt. 21:28-32 – “Wat sê julle hiervan? Daar was ‘n man met twee seuns. Hy het vir die een gaan sê: ‘Seun, gaan werk vandag in die wingerd.’ ‘Ek wil nie!’ antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan.’ Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: ‘Goed, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?’ Hulle sê: ‘Die eerste.’ Toe sê Jesus vir hulle: ‘Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in. Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo. Maar selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en hom geglo nie.”


Jesus sit sy veroordelende gesprek met die Joodse leiers voort nadat hulle geweier het om te antwoord op Sy vraag “waar die doop van Johannes vandaan gekom het: van God, of van mense af?” Ek dink Jesus het eervol uit die vorige gesprek gestap met Sy afsluitingswoorde: “Dan sê ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie” (v. 27b). Maar om die leiers se onkunde en verwerping van Hom te ontbloot, illustreer Hy eerstens hulle optrede met die “gelykenis van die twee seuns.”


Die indruk kan ontstaan dat die pa na die tweede seun (jonger) gaan omdat die eerste (ouer) seun aanvanklik eers weier en nie aan sy opdrag gehoor gee nie, “maar later het hy spyt gekry en tog gegaan.” Die “pa” beeld God uit wat vir Johannes die Doper na Israel stuur om hulle die regte pad, die weg na God se koninkryk te wys. Die ouer seun wat aanvanklik weier en daardeur in die Joodse wêreld, die eer van sy pa ingrypend aantas, beeld die “tollenaars en prostitute” wat in Israel nie in gehoorsaamheid aan God wou lewe nie, uit. Die tweede seun wat baie maklik “goed, pa,’ antwoord maar nie gegaan het nie”, beeld die godsdienstige leiers in Israel en die res van die Joodse volk wat God bely, maar nie gehoor wil gee aan sy roepstem in Jesus, as Verlosser nie.


Die “tollenaars en prostitute” het egter wel later positief reageer op die bekeringsprediking van Johannes die Doper en “gaan daarom die koninkryk van God binne.” Die blindes en kreupeles onder die skare van wie daar nie veel verwag kan word nie, het Jesus reeds as Messias bely (Matt. 21:14). Die hele volk Israel van wie daar as “vyeboom en wingerd” soveel verwag is in die verbond, kan by monde van hulle leiers egter nog geen bekering en ware oorgawe aan Jesus openbaar nie (vgl. Matt. 11:16-21 en Luk. 7:28-29). Al hulle vroom vrae aan Jesus was maar net deel van 'n onheilige spel waarmee hulle Hom wou vastrek sodat hulle van Hom ontslae kon raak (vgl. Matt. 26:3-5).


Jesus se vraag: “Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?”, kan derhalwe geen ander antwoord verwag as dat die geloof wat tot verlossing lei, méér is as net ‘n belydenis dat Jesus ons Verlosser is. Wie Hom as Verlosser bely sal ook doen wat Hy van ons vra. Ongelukkig is dit so dat daar vandag nog, soos in die gelykenis, mense is wat sê: “Goed, Pa,” maar tog nie gaan doen wat hulle beloof het nie, mense in gevestigde kerke wat eg Christelik leef wat ja sê, maar nee doen, of niks doen nie. Daarenteen is daar mense wat nee sê en tog ja doen! Ek en jy kan ons maklik met die gelykenis identifiseer. Ek is seker julle wat hier lees ken ook lui mense, wil-nie mense of ek-sal-maar-ek-doen-dit-nie mense.


Soos reeds genoem, sê Jesus daar is twee groepe mense: Dié (onreine prostitute en tollenaars) wat die boodskap van verlossing aanvanklik eers die Vaderhart verwond met ‘n “ek wil nie” antwoord, daarna berou kry, tot bekering kom en as ywerige dienaars in God se koninkryk vir Hom leef. Dan is daar dié volksleiers: (Fariseërs, skrifgeleerdes, priesterhoofde en familiehoofde) wat die boodskap van verlossing skynbaar aanvaar, en skynheilig voortleef asof hulle God liefhet en tog niks vir Hom doen nie.


Die veragtelikes van die volk word uiteindelik voor die vroom en vooraanstaandes geplaas omdat hulle wel hul gelowige oorgawe openbaar – “die laastes wat eerste is en die eerstes laaste” konsep (20:16). (Ek glo die leiers het nie verlief geneem met Jesus se illustrasie nie, maar as ons onsself die reg toeëien om “kinders van God” te noem (Joh. 1:12), sal ons beslis besef wat die woorde “ek wil nie” aan God se Vaderhart doen!


Die Here dwing Sy wil op niemand af nie! Wat ek en jy met Sy wil doen, bly elkeen se eie keuse. Wat ons wel aan kan dink, is die feit om te beweer dat ons lewende lidmate is wat waarlik in Jesus Christus glo, maar nie toelaat dat sy Gees met Sy krag deur my en jou werk nie. Is dit nie eintlik maar verloëning van ons geloof nie? Feitlik elke Sondag (nie verwysend na die inperkingstyd nie), of ten minste wanneer ons wel in die kerk is, bely ons die geloofsbelydenis saam as gemeente. Ons bely dit in die almag van God; Sy uitwaartse beweging na ons mense; Sy teenwoordigheid in die Gees; die bestaan van één heilige kerk; vergewing van sonde, verandering van die kwaliteit van lewe en ons persoonlike, ewige voortbestaan. Omdat dit al só gewoontevormend geraak het, het dit nie dalk net lippetaal in plaas van doentaal geword nie? Dit help niks om dit Sondae te bely, en Maandag tot Saterdag doen ons niks daaraan nie.


Die Evangelie is soms oorbekend aan ons sonder dat ons die eise daarvan werklik na waarde skat. Al ons belydenisse, doopbeloftes, huweliksbeloftes en “Amen” sê op die Woord in ons binnekamer of die erediens, beteken niks sonder gehoorsaamheid aan God nie. In die geloof tel woorde alleen wanneer dit tot dade van gehoorsaamheid lei. Hoe lyk ons gehoorsaamheid aan die Woord? Is daar ware berou oor en bekering van sonde in my en jou lewe? Lyk ons verhouding met Jesus vandag beter as byvoorbeeld ‘n maand gelede? Ons moenie toelaat dat ons dade, ons belydenis weerspreek, soos hierdie twee seuns in Jesus se gelykenis nie!


“Deur die Heilige Gees is ons diens, as gevolg van ons geloof in Jesus Christus, ‘n diens aan God en ons diens aan ons medemens, een en dieselfde ding” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: My Verlosser en Heer, ek is magteloos alleen, help my asseblief dat my woorde en dade mekaar aanvul. Skenk my ‘n oog en ‘n hart soos U s’n vir die nood en lyding van my medemens. Heilige Gees, lei my na waar U my elke dag die meeste benodig. Die wêreld is só dikwels geneig om my te probeer weglei van U, daarom pleit ek dat U daardie dringende behoefte om by U te wees, nie sal taan nie en geïnspireer bly om te dien, te gee, lief te hê, te deel, te werk en voorbidding doen. Moenie toelaat dat my dade, my belydenis weerspreek, soos hierdie twee seuns in Jesus se verhaal nie. Amen.

Komentar


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page