Gedagte vir Vandag
Vrydag, 19 Julie 2024
Koos Espach
Paulus se getuienis aan die Jode en aan die heidennasies (2)
Christusvolgelinge het die Lig wat lewe gee
Hand. 26:22-23 – “Omdat God my tot vandag toe bewaar het, staan ek hier as sy getuie voor klein en groot. Ek verkondig maar net waarvan die profete en Moses gepraat het: 23 Die Christus moes ly en die eerste wees wat uit die dood opstaan. Daardeur sou Hy die lig aan die Jode en aan die heidennasies bring.”
Te midde van die Jode se knaende vervolgings en moordpogings ervaar Paulus tot op hierdie dag die hulp van God. Hy is wel ’n gevangene, maar hy is deeglik bewus daarvan en stel dit duidelik dat hy deur God bewaar is om ’n getuie van Hom te wees voor alle mense, groot en klein – verwysend na almal in die saal wat na hom luister én na die ‘grotes’ soos Agrippa en Festus.
Hy verkondig ook niks anders as wat die Profete gesê het gaan gebeur nie. Dit gaan hier in die besonder oor die toekomsverwysings in die Ou Testament, en die verwagting van die koms van ’n Gesalfde (Messias in Hebreeus en Christus in Grieks): gesalf as ’n profeet soos Moses (Deut. 18:15,18; ’n koning soos Dawid (2 Sam. 7:13,16,19; die Seun van die mens se ewige heerskappy (Dan. 7:13-14); ’n Priester in die priesterorde van Melgisedek (Ps. 110:1,4). Paulus bring juis die goeie nuus dat die beloofde Messias van die Jode gekom het in die Persoon van Jesus Christus, die Here, God met ons (Immanuel van Jesaja 7:14, vgl. Matt 1:23).
Die Here het ook aan Paulus die opdrag gegee om aan sy volk en aan die heidene die Lig te verkondig, die Lig waarvan eeue tevore al voorspel is (Jes. 9:1-6). Jesaja beskryf hoe God as die Lig in die donkerte van die volk geskyn het: "Die volk wat in donkerte geleef het, het 'n groot lig gesien, oor die wat in die donker land was, het 'n lig geskyn" (Jes. 9:1) – “die Lig vir die nasies sodat die redding wat God bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik” (Jes. 49:6). So het Jesus as die Lig van die evangelie na ons gekom wat in die donkerte van sonde gehul was – “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh. 8:12). In plaas van die donkerte van die sonde, het die Lig van genade en redding ‘n totale ommekeer in ons lewe veroorsaak.
Al is die donkerte so dig dat dit spreekwoordelik “voelbaar” is, kan dit nie eens ‘n klein kersvlammetjie uitdoof nie, nog minder die lig wat Christus aangesteek het: “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie” (Joh. 1:4-5). Daardie lig skyn aanmekaar in die duisternis. Dit is veelseggend – toe die Lig op Golgota gekruisig is, was daar vir drie ure lank totale duisternis. Die son het opgehou om te skyn, want die Lig was dood; die Lig was uitgeblaas! En sonder die Lig was die wêreld verlore! Dankie tog dat die Vader in al sy Grootheid die Lig vir ewig weer kom ‘aanskakel’ het! Daarom is elke Sondag opstandingsondag, die fees van die Lig, waarin ons herinner word dat “die Christus moes ly en die eerste wees wat uit die dood opgestaan het.”
Jesus wil vandag binne my en jou hart en ons lewe kom staan soos Hy in die tempel gaan staan het en ‘n uitnodiging gerig het: “Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Hy wil kom staan daar waar dit donker mag wees. Hy wil ons vooruitgaan en gaan wag daar waar Hy weet dit dalk vir my en jou nag en donker kan raak! Hy wil gaan staan in ons donker om dit lig te maak. Hy wil Sy plek kom inneem in mense se lewens wat dalk donker geraak het, en wat smag na sy ewigdurende skynende lig.
Hoe skyn ons ligte? Is dit sigbaar in alle rigtings sodat almal dit kan sien? Jesus het belowe dat “ons krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom en ons Sy getuies in die wêreld is” (Hand. 1:8). Ons as Christen gelowiges moet dus daardie lig vir die wêreld laat skyn want die Heilige Gees het ons verander om in Jesus te glo (Ef. 5:8).
As ons al die ligte in die huis afskakel en ons steek ‘n kers aan, dan maak dit mos lig daar waar ons staan en kan ons rondom ons sien. Maar die lig van die kers gaan nie help as ons die kers in die kombuis los terwyl ons badkamer toe loop nie. Ons moet die lig saamneem! Voor ons uithou. En as ons die lig voor ons uithou sal ons kan sien waar ons loop. Dit help nie ons sê ons het die lig, maar ons los dit in die kombuis nie!
’n Dissipel van Jesus is iemand wat nie die lig Sondae in die kerk los nie, maar dit Maandag tot Saterdag, voor hom uithou! ’n Dissipel van die Lig is iemand wat elke dag die Lig kies! Iemand wat elke dag ’n doelbewuste keuse maak teen die donker van sonde en verleiding van die wêreld, omdat ons die Lig wil volg, wil saamvat, voor ons wil uithou! En dit is vir hierdie volgelinge vir wie die Here Jesus sê: “Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie.” Want Hy sal gaan staan op die plek waar dit donker is, of waar dit miskien eendag donker mag raak, om dit vir my en jou lig te maak.
“Een mens se gloeiende persoonlike getuienis van ‘n ontmoeting met die Here is net so goed soos ‘n biblioteek vol abstrakte argumente” (Vance Havner).
Gebed: Here, laat my lewe soos ‘n mens van die lig. Dankie dat U vir my wag waar dit donker is om dit vir my lig te maak. Amen.
Comments