Gedagte vir Vandag
Woensdag, 17 Julie 2024
Koos Espach
Paulus vertel van sy bekering (4)
Van sondeslaaf na kind van God
Hand. 26:18 – “Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God.”
Die doel van Jesus met Paulus se sending na Israel en die heidennasies kan kortliks saamgevat word: Hulle moet hulle geloof en lewenswyse verander en na God toe draai. Kortom, hulle moet hulle bekeer. En ons is deel van die ‘hulle.’ Ons moet uit die mag en seggenskap wat Satan oor ons lewe het, padgee! Maar hoe doen ons dit, Paulus?
Paulus skryf aan die gemeente in Rome dat God se Gees ons gees lei om kinders van God te word: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15 Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader. 16 Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17 En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus...” (Rom. 8:14-17).
In sy brief maak Paulus die nuwe verhouding van die gelowiges tot God, met die begrip “kinders van God,” bekend – “almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.” Dié leiding beteken dat die Gees die bestuur van mense se lewe oorneem en hulle God laat dien in die nuwe bedeling van die Gees, die Gees wat nie ‘n slawegees is nie, maar die Gees van kindskap. Hy skep in ons ‘n kindergesindheid wat ons tot God laat roep: “Abba!” Die feit dat ons God as “Abba” mag aanspreek, beklemtoon hoe naby Jesus, die Vader regtig aan ons gebring het. As gelowiges staan ons dus in die intiemste kring van ons “Abba, Vader” en is ons daarom “ook erfgename van God, erfgename saam met Christus.”
Hoe beleef ek en jy vir God? Ons hoor gereeld van iemand wat ‘n besondere ervaring van God beleef het, ‘n droom, ‘n gesig of selfs dat God met hom/haar gepraat het? Ander weer beleef dat God die “Grootbaas” is wat jou voortdurend met arendsoë dophou om te kyk of Hy jou nie kan uitvang nie – Hy is die Baas en ek en jy die slaaf wat net gehoorsaam en getrou vir Hom moet tevrede hou. Van kleins af word ons met die bangheid van ’n slaaf teenoor sy Baas grootgemaak – “as jy stout is gaan liewe Jesus ...!” Ons is bang ons stel Hom teleur, bang ons maak Hom kwaad. En wanneer dit moeilik gaan is ons gou om te sê: “Die ‘Oubaas’ praat weer hard met my!”
Verkeerd! Eerstens is God nie ‘n familiêre ‘Oubaas’ of ‘Grootbaas’ of selfs ‘Baas’ nie, Hy is die Almagtige God! Byname vir God is hééltemal onbybels en God is die Bron van ons Gesag, Hy verdien respek! God het laaste by Golgota hard gepraat toe Hy sy Seun aan ‘n vloekhout laat vasspyker het omdat Hy ons sondaars liefhet! God is ‘n God van liefde! Hy is nie Baas en ons slaaf nie! Slawe doen goed omdat hulle moet, nie omdat hulle wil nie. Daarom is daar baie kinders van die Here wat ’n klomp goed doen omdat hulle dit maar móét doen – ons móét maar kerk toe gaan; ons móét maar Bybelstories lees; ons móét maar bid as ons iets benodig; ons móét maar ons kinders laat doop; ons móét maar belydenis van geloof aflê; ons móét maar ons dankoffer gee; ons móét maar gelowig wees; ons móét maar ...! ‘n Menigte dinge wat ons maar móét doen.
Hoe ek en jy oor onsself dink in hierdie verskeurde wêreld, is van kardinale belang. Slawe móét, kinders wil! God se teken, die kruis, is twee duisend jaar gelede al daar by Golgota gegee. Die kruis is leeg en die hemel vol! Die kruis is ‘n bewys van God se ongelooflike liefde en van die skrikwekkende prys wat Sy liefde die hemel gekos het. Ons het nie enige besoek van ‘n engel of ‘n gesig of besonderse ervaring nodig, om ons te verseker van ons kindskap van God nie. Die Gees van God, met ander woorde, God self, kom bied vir ons die versekering waarna ons soek: “Julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak,” en dan kom maak dit die waarheid waarna ons smag, aan ons harte vas: “Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.” Wow!
Die Heilige Gees wil ons laat besef dat ons kinders van God is, wat dit beteken om God werklik soos ’n kindjie aan te spreek en lief te hê, klein genoeg te wees sodat ons God kan aanroep soos ‘n kindjie: ‘Abba, Vader!’ Ons gaan dan nie kerk toe omdat ons móét nie, maar omdat ons wil. Ons gee ons dankoffer nie omdat ons bang vir God is nie, maar uit dankbaarheid en omdat dit ‘n voorreg is. Ons is nie getuies vir Christus omdat ons daartoe beveel word nie, maar omdat ek en jy ons Vader liefhet en ons van Sy alomteenwoordige en allesdeurdringende liefde wil getuig. Op sy beurt wil ons ‘Abba, Vader’ graag die intiemer sy van Homself kom wys, sy arms uitsteek en ons op sy skoot kom tel, ons vashou en sê: “My kind, Ek weet die lewe is soveel beter as jou Pappa naby is.”
“God is nie ‘n idee of ‘n definisie wat ons van buite geleer het nie: Hy is ‘n teenwoordigheid wat ons in ons hart ervaar” (Louis Evely).
Gebed: Hemelse Trooster, dankie vir U teenwoordigheid, ‘n teenwoordigheid wat anders is, soveel groter, soveel meer intiem en vertroostend. Dankie dat U my die versekering bied, die versekering wat alles oorskry: “Dat ek ‘n kind van God is!” Amen.
Comments