top of page

Gedagte vir Vandag

  • 2 hours ago
  • 4 min read

Woensdag, 11 Maart 2026

Koos Espach


Aan God die eer (2)


Ewige teenwoordigheid van God

 

Rom. 11:33b – “Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!”

 

Vergelyk ook Ps. 145:3 – “Die Here is groot, alle lof kom hom toe, sy grootheid is ondeurgrondelik.”

 

Paulus besing selfs God se oordele, en hier verwys hy nie na God se oordeel en straf oor sonde nie, maar aan God se beskikking en leiding in die geskiedenis van die mens. God se “weë is onnaspeurlik” daarom sal ons nooit begryp presies hoe en waarom God handel soos Hy handel nie, ons sal nooit tot op die bodem van God se handelinge kan sien nie. God se gedagtes is ver verhewe bo ons gedagtes en Hy is vry in sy besluite, niemand kan Hom daarin beïnvloed nie. Ons kan telkens net verbaas staan wanneer God ons onverwags verras met sy goedheid en genade.

 

Dawid voeg by dat God se “grootheid ondeurgrondelik is.” Wat bedoel Paulus en Dawid wanneer hulle sê God se grootheid is “ondeurgrondelik?” Die woordeboek gee definisies soos “onbegryplik vir die menslike verstand,” dis “onverklaarbaar”, “onmeetbaar” en “geheimenisvol”. Sy grootheid is verby ons vermoë om uit te vind. Daar is geen beperking nie. Dit is onmoontlik om te verstaan. Ek en jy moet dus nie eens probeer om ‘n poging aan te wend om God met ons vermoëns te beperk óf te bedink nie. 

 

Niemand kon God leer om dinge te doen nie. Hy het geen raadgewer gehad toe Hy soos ‘n Boumeester die skepping beplan en die bouwerk perfek voltooi het nie. Hy het met die skepping elke keer net ‘n woord gespreek en alles het ontstaan. Hy is groter as die heelal en is orals teenwoordig. Ons sal nooit alles van God weet of sy weë verstaan nie. Indien dit moontlik was, sou “ons soos God wees deurdat ons alles ken” (Gen. 3:5b). En ons weet wat het met Adam en Eva gebeur toe hulle soos God wou wees. As ons God se handelinge kon verklaar, was Hy nie God wat in beheer is van álles nie.

 

God weet die beste! Ons besef dit en getuig ook daarvan wanneer dit goed gaan. Maar wanneer ons oorval word deur twyfel en verwarring, deur moeilike finansiële krisisse swoeg, moord-, roof-, verkragtings-, droogtes in die gesig staar, deur swak gesondheid geteister word,’n geliefde deur die dood weggeruk word, verander ons lofliedere in ‘n treurmare en klaagliedere. En ons wil dan weet: “Hoekom gebeur dit met goeie mense, ons verdien dit mos nie?” Een van die geloofstoetse is om onvoorwaardelik te aanvaar dat God die beste weet, dat Hy by ons is, al voel ons soos ‘n stoffie op aarde, Hy gee om, Hy is altyd by ons. Hy het dit selfs beloof: “Hy is by ons ... (Jes. 41:10).

 

God is altyd dieselfde. Hy is dié bron van goedheid, genade en redding, daarom kan ons Hom elke dag loof. God is nog steeds in beheer waar daar op die oog af geen beheer is nie. God is bestendig, Hy verander nie saam met rampe en onsekerheid van mense nie. Moet Hom nie soek in die dinge wat skeefloop nie, maar in sy onveranderlike goedheid; in sy standvastige goedheid wat deel is van elke neerdrukkende situasie wat ons waarneem. God belowe ons dat Hy altyd by ons is, ook daar waar ons harte breek en die pyn ons oorweldig. Die tragedie is nie mislukking nie, maar onwilligheid om op te staan en met die hulp van die Heilige Gees, wat in ons woon, weer te kan begin.

 

Afgesien van wie ek en jy is en wat ons verkeerd gedoen het, is dit nooit te laat om na Jesus te draai nie. Sy arms wat uitgestrek was aan die kruis, en sy spykerdeurboorde hande, is steeds uitgestrek om ons vas te gryp. Ons kan ons arms na Hom toe strek, Hy sal ons optel. “Sy weë is onnaspeurlik”, Hy sal ons oplig uit die modder van wanhoop waarin ons verval het, totdat ons êrens tussen hemel en aarde sweef en ons in die heerlike werklikheid van sy teenwoordigheid bevind. Dáár kan niemand my en jou benadeel nie want dáár is die volheid van God se genade. Dáár vind ek en jy die Heilige Gees se leiding. Wanneer ons voor uitdagings te staan kom, moet ons bid asof alles van God afhang en Hom vertrou vir die uitkoms daarvan.

 

“Daar is geen moment waarin ons God nie kan en behoort te dank vir sy teenwoordigheid by ons en die liefde waarmee Hy ons voortdurend dra en omring nie” (Prof. Wille Jonker).

 

Gebed: Dankie Here dat U altyd die beste weet. Dankie Gees dat U altyd by my is, dat ek as verloste mens in U goeie hande is. Al “klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei U hand my, hou U regterhand my vas” (Ps. 139:8-10). Here, ek sal U loof, U weldade roem, want ek vertrou op U goedheid, nabyheid, getrouheid en liefde. Dankie vir gemoedsrus Heer. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page