top of page

Gedagte vir Vandag

  • 2 hours ago
  • 4 min read

Vrydag, 13 Maart 2026

Koos Espach


Aan God die eer (3)


Die Groot Misterie

 

Rom. 11:34-35 – “Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? 35Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?”

 

Paulus vra vandag vir ons drie retoriese vrae (waarop geen antwoorde verwag word nie): “Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?” Die antwoord op al drie vrae is maklik: Niemand nie! Hoekom nie? God gee self die antwoord: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie; soos die hemel hoër is as die aarde, so is My optrede verhewe bo julle optrede en My gedagtes bo julle gedagtes” (Jes. 55:8-9).

 

God is die Gans Andere, het Karl Barth gesê. God is in misterie gehul, dié Groot Misterie. Ons kan nie probeer om die misterie op te hef of te verklaar nie, ons gaan ons vasloop. Ek en jy het raadgewers nodig, God nie. Tog dink ons soms dat ons beter weet as die Here, of ons wens dat Hy ons advies sou volg in ‘n bepaalde situasie. Soms wil ons selfs aan Hom voorskryf wat om te doen. Ons kan egter nie. Ons weet nie beter as God nie. Ons vra die vrae, Hy is die antwoord. Daarom moet ons nie vir Hom probeer voorskryf, of sy alwyse bevraagteken nie. Hoe gouer ons aanvaar dat Hy volkome wysheid en kennis het, hoe vinniger kan ons vrede vind in sy wil.

 

God soek niemand se raad nie. Hy het niemand se advies nodig nie. Hy het niemand se raad gevra toe Hy moes skep, of hoe Hy die skepping moet onderhou nie. Hy het ook nie iemand se raad gevra oor hoe Hy sondaars moes red nie. Die evangelie kom uit die Vader, die Seun en die Heilige Gees se gedagte alleen. “God se kennis is onbegrens” (Ps. 147:5), en sy optrede is belangrik. En hulle is albei onverstaanbaar. Dit is nie net wat Hy weet of wat Hy doen nie, dit is wie Hy is wat onverstaanbaar is.

 

Maar God self wil juis hê dat ons verby al ons denke en beelde van Hom, moet uitkyk in die onsigbare. Dit beteken dat ons verby al die geskape dinge moet kyk en Hom onvoorwaardelik glo. Daar ís Iemand verby die atome. Daar ís Iemand agter die swart gate in die heelal. Daar is Iemand se hand in die aardlae. “Hy besluit oor die getal van die sterre en gee elkeen ‘n naam” (Ps. 147:4). Ons kan Hom nie vind met ‘n mikroskoop of satelliet nie. Ons vind slegs alles wat in die hemel en wat op die aarde en wat in die waters onder die aarde is. En dit blyk oneindig baie te wees.

 

Mense neem foto’s van God se skepping, skryf boeke vol daarvan en vervaardig dokumentêre reekse vir die TV en media – ʼn Ongelooflike wonderlike “prenteboek” gevul met skitterende beelde. En ons erken: Dis ons wêreld! Dit is nou juis een van die belangrikste dinge wat ons as moderne mense moet vashou. Diep ontsag en nederigheid is nodig om hierdie gedagtes deel van ons lewe te maak! God styg bo ons uit – Hy is hoër. Hy styg ook uit bo die beeld wat ek en jy moontlik kan maak vanuit dit wat Hy geskep het.

 

Ek en jy moet laag buig voor God die Almagtige, wat ons nie kan sien en ook nie kan vind en ook nie vir onsself kan voorstel nie. Ons moet buig omdat ons sy handelinge kan sien. “Hy oordek die hemel met wolke, Hy voorsien reën vir die aarde en laat gras op die bergland uitspruit … As Hy die aarde ‘n bevel gee word dit uitgevoer. Hy gee sneeu so wit soos wol, Hy strooi ryp uit soos as. Hy laat dit haelstene reën …” (Ps. 147:8, 15-17).

 

“Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? 35Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?” Niemand nie! Ons kan maar net saam met Paulus Hom loof. Natuurlik is dit vir God goed om te hoor hoe ons lofgesange tot eer van Hom sing. Maar vir ons is dit ook broodnodig om dit oor en oor te hoor. Terwyl ons lofgesange sing, kry ons weer ’n duidelike prentjie van ons God. Ons besef wat Hy vir ons doen en ons kan enige steil bult uitbeur, want ons weet die grootste en sterkste God is aan ons kant.

 

“Hy is mos ons wonderlike en enigste Heerser. Hy regeer oor almal wat in hierdie wêreld regeer en Hy heers oor almal wat in die wêreld heers. 16Hy leef vir altyd ... Almal moet sy Naam grootmaak, want die krag wat nooit ophou nie, is Syne. Sowaar!” (1 Tim. 6:15-16 – Die Boodskap). Ten spyte van ons doen en late, bly God in ons en Hy sal nie toelaat dat die uitdaging voor my en jou, ons oorrompel nie. Nou kan ons weer kans sien vir die lewe daar buite, want ons God staan nog steeds gereed om orals saam met ons te stap. Hoe groot is ons God? Hoe groot is sy aandeel in my en jou dag? Hoe kan ons Hom meer deel maak van ons lewe? Vra Hom. Besef dat God in hierdie oomblik, hier waar ons nou is, kan ontmoet!

 

“Goeie môre, dit is God jou Vader wat hier praat. Ek sal vandag al jou probleme hanteer. Ek sal nie jou advies of hulp nodig hê nie” (Anoniem).

 

Gebed: Grote God aan U die eer, heerlik is dit waar U regeer. U is in beheer en U is by my in enige krisis. Ek wil daaroor sing en bly wees. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page