Gedagte vir Vandag
Maandag, 22 Julie 2024
Koos Espach
Festus en Agrippa se reaksie (1)
Onbeskaamde getuie
Hand. 26:24-26 – “Terwyl Paulus hom nog so verdedig, skreeu Festus: ‘Jy’s mal, Paulus! Jou groot geleerdheid maak jou mal!’ 25 Maar Paulus sê: ‘Ek is nie mal nie, U Edele, maar onder die leiding van die Heilige Gees praat ek die waarheid wat elkeen kan verstaan. 26 Die koning weet van hierdie dinge, en daarom praat ek openhartig met hom. Ek is seker dat dit nie sy aandag ontgaan het nie, want dit het nie êrens in ‘n hoekie gebeur nie.”
Vergelyk ook Rom. 1:16-17 – “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. 17 In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: ‘Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”
Arme Festus. Hy soek informasie om Paulus se saak aan die keiser te gaan voorlê (Hand. 25:26), maar hoe langer Paulus preek, hoe minder verstaan hy wat aan die gang is. Hy hoor van ‘n Christus wat uit die dood uit opgestaan het; ‘n lig is vir die volke en nasies; bekering en sondevergifnis; gesigte in die hemel en stemme uit die hemel wat praat. Dit is volgens hom onverenigbaar met gesonde verstand. Volgens Festus se heidense opvatting is Paulus ‘n fanatieke persoon wat drome droom. Dat Paulus dit alles bewys uit die voorspellings van die Joodse geskrifte wat hy so goed bestudeer het, is vir Festus die sleutel tot Paulus se malheid. Sy baie studie en geleerdheid het hom mal gemaak.
Teenoor Festus se onbeleefde “jy’s mal” kom die beleefde “U edele” van Paulus. Wie voortdurend met die hemel in verbinding is, word teer van gevoel en fyn van taal. Daarby is die woorde wat die Heilige Gees vir Paulus gee, woorde van Goddelike waarheid en wysheid. Paulus roep die koning as getuie van die waarheid van sy woorde. Agrippa wat self ‘n Jood was, weet van Jesus se prediking en wonders en van sy kruisiging, want dit het in die openbaar in Jerusalem plaasgevind, en nie êrens in ‘n onbekende hoekie nie.
Festus se uitbarsting was om sy ongemak weg te steek. Niemand hou daarvan om aan sy sonde herinner te word nie. Paulus se preek was té hard en té duidelik! Die regters was skielik die beskuldigdes – Paulus se preek het ook met hulle te doen gehad – die verkondiging van ’n gekruisigde Christus is “vir die Jode ’n struikelblok en vir die nie-Jode ’n dwaasheid. Vir diegene wat geroep is … is Christus egter die wysheid van God, want die wysheid van God is wyser as dié van die mense …” (1 Kor. 1:23-25).
Vir talle mense was die kruisiging van Jesus ‘n skande, ‘n aanstoot en vernedering, want die kruis was die teken van God se vloek oor iemand (Deut. 21:23b). Vir die Jode was dit onmoontlik dat verlossing bewerkstellig kon word deur iemand wie die vloek van God gedra het. Vir die Grieke was dit onsin (Hand. 17:32); Jesus se eie broers het aanstoot in Hom geneem en met Hom gespot (Joh. 7:3-5); Jesus se eie mense in Nasaret het aanstoot geneem en wou Hom stenig (Mark. 6:1-6); die godsdienstige leiers (Fariseërs) het aanstoot geneem omdat Hy hulle die waarheid vertel het (Matt. 15:8-12); baie van Jesus se volgelinge was afgeskrik oor die dieper dinge van die evangelie wat Hy gepreek het, en het Hom verlaat (Joh. 6:57-66).
Martin Luther skryf die volgende: “Ek het geen liefde gehad vir daardie heilige en regverdige God wat sondaars straf nie. Ek het Hom gehaat omdat Hy nie daarmee tevrede was om ons arme sondaars met die wet en die ellendes van die lewe die skrik op die lyf te jaag nie, en ... ons pynigings nog vererger met die evangelie ...! Maar toe ek deur die Heilige Gees die boodskap werklik begin verstaan het – toe ek ingesien het hoe die regverdigmaking van sondaars voortvloei uit die genade van God deur die geloof ... het ek soos ‘n nuwe, weergebore mens gevoel ... Waarlik, Paulus se woorde in Rom. 1:17 was vir my soos die poort na die Paradys.” Hierdie skokkend-blye boodskap dat God elke mens wat glo, uit genade vryspreek, nie uit goeie werke nie, het die wekroep van die Hervorming, vyf honderd jaar gelede, geword.
Paulus kon vreesloos getuig wie Jesus regtig is en wat Hy gedoen het. Hoe rotsvas staan ek en jy vir Hom? Ons moet aan die wêreld wys dat God se Woord ‘n verskil in ons lewe maak. Die wêreld van ongeredde mense het lig nodig en ons as “ligdraers” van Christus, moet daardie lig wees. Jesus het ons verlos om die wêreld te belig met die evangelie. Om ons Christen-ligte te laat skyn, moet ons woorde deur ons dade bevestig word. Die belangrikste is egter dat ons getuienis alleen sal strek tot eer en verheerliking van God se Naam. Laat Hy ons enigste Hoop en Krag wees, dan sal ons staande bly onder alle omstandighede, selfs al dink sommige mense ons is “mal.”
“Getuienis is om die verskillende struikelblokke van ons selfliefde te verwyder, sodat Christus wat in ons woon, Homself aan ons medemens kan vertoon” (Paul Frost).
Gebed: Here Jesus, help my deur U krag en genade om U ambassadeur te wees in hierdie wêreld. Mag die Heilige Gees my voorgaan om ‘n onbeskaamde getuie van U te kan wees. Maak my onwankelbaar in U diens. Amen.
Comments