Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Jul 15, 2024
- 4 min read
Maandag, 15 Julie 2024
Koos Espach
Paulus vertel van sy bekering (2)
Die God van geloof, hoop en liefde
Hand. 26:15-17 – “Wie is U, Here?’ vra ek toe. ‘Ek is Jesus,’ sê die Here. Dit is vir My wat jy vervolg. 16 Maar staan op, staan regop. Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien. 17 Ek sal jou beskerm teen die volk Israel en die heidennasies na wie toe Ek jou stuur.”
In die saal is dit stil. Paulus is met geboeide hand in die lug. Besig om te getuig. Agrippa en die res van die gehoor luister aandagtig. Vir Paulus het die hooggeplaastes en aansienlikes egter verdwyn. Hy is weer op pad na Damaskus – en hy moet getuig van die dinge van Jesus Christus wat hy gesien het en wat Christus hom nog sal laat sien. Paulus laat sy gehoor verstaan dat hy gestuur is, ook na hierdie saal, ook voor hierdie gehoor! Sy geboeide hand is seker nog steeds in die lug, hulle moet luister na die opdrag wat hy van die lewende Jesus van Nasaret ontvang het. “Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking. Selfs in boeie soos ‘n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie” (2 Tim. 2:8-9).
Te midde van die omstandighede sê Paulus die volgende: “Dit (Jesus se oorwinning oor die dood) is die kern van die goeie boodskap wat ek vir julle vertel. Daarvoor kry ek swaar, al moet ek soos die een of ander krimineel geboei hier in die tronk sit. Gelukkig kan niemand ooit God se boodskap met kettings vasmaak en in ’n tronk gooi nie” (2 Tim. 2:9 – Die Boodskap).
As ek terugdink aan die besoeke wat ons gemeente se uitreikaksie ‘n klompie jare gelede in sommige van die tronke gedoen het, maak die swaar wat Paulus moet deurgaan vir my meer sin. Wat ek daar waargeneem het, is nie ’n mooi prentjie nie. Paulus se situasie was heel waarskynlik nog erger as wat dit vandag is. Soos ’n misdadiger word hy behandel. Hy leef die heeltyd in vrees. Sy lewe is niks meer werd as die bakkie koue sopwater en droë brood wat hulle vir ete kry nie. Tog fokus Paulus nie op die omstandighede nie. Ja, hy erken die swaar, maar hy laat nie toe dat dit hom onderkry nie. Sy fokus is op die verlossende boodskap van Jesus. En dit gee hom hoop. Dit gee hom krag om die volgende oggend na bitter min slaap, met ’n lied die dag tegemoet te loop. Hy sien kans vir wat ook al na sy kant toe gegooi word.
Paulus verstaan God se boodskap. Hy ken dit en hou dit binne sy hart vas. Hy weet dit kan nie met boeie vasgemaak word nie. Inteendeel! Daar is niks wat God se woorde kan vasbind nie. Dis eenvoudig te sterk, te groot, te lewegewend. En dit gee vir hom hoop in ’n hopelose plek. Dit gee hom krag, waar hy kragteloos in boeie sit. Dit motiveer hom waar ander ongemotiveerd is om op te staan en aan te hou lewe. Dit is wat God se boodskap doen. Dit trap die petrol waarmee ons vorentoe beweeg, al lyk die toekoms duister.
Dis vir ons ’n groot les. Dalk is die omstandighede waarin baie van ons gelowiges hulle tans bevind, ook duister. Dalk is daar vrees vir wat die toekoms inhou. Dalk is daar mense wat moeg geploeg en pap is van al die spanning ronddra. Dalk het jy wat hier lees al alles probeer, maar nêrens skyn daar ’n stukkie lig nie. Dan is dit nou juis die tyd om na God se Woord te keer. Daar is lig. Daar is liefde. Daar is hoop – en God se hoop is blywend want daar is ‘n ewige lewe by God; hoop dat môre ‘n beter dag sal wees want God is immers daarin. Daar is vrede. Daar is verlossing. Daar is die antwoord. Geloof, hoop en liefde vir God, bly ons leiding deur al ons lewensveranderinge.
Paulus se boodskap is vandag nog steeds van toepassing. Jesus Christus gee vir my en jou die waarborg dat daar kosbare dinge is wat blywend is. Die Hebreërskrywer bevestig dit: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb. 13:8). Daarom kan ek en jy met vrymoedigheid God en Sy Woord in ons lewe toelaat om só uit ons boeie bevry te word. Geloof in God wat alles ten goede laat meewerk; geloof in Christus wat by ons is tot aan die einde; geloof in die Heilige Gees wat ons Trooster is; geloof in God se Woord met sy vertroosting en beloftes.
“Die Woord van God lewe. Dit praat met my in elke nuwe lewensituasie. Dit het hande, want dit gryp my vas. Dit het voete, want dit haal my in wanneer ek probeer wegkom van wat dit sê” (Martin Luther).
Gebed: Here, U boodskap kan nooit deur enige iemand vasgebind en onaktief gemaak word nie. U Woord is lewend en het die krag en mag om lewens en omstandighede te verander. Herinner my asseblief daaraan in moeilike omstandighede. Amen.
Commentaires