Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 13 minutes ago
- 4 min read
Woensdag, 11 Februarie 2026
Koos Espach
Die toekoms van Israel (1)
God se geheim is uit
Rom. 11:25-27 – “Ons staan hier voor ‘n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor ‘n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het; 26en op hierdie manier sal die hele Israel gered word. So staan daar geskrywe: ‘Uit Sion sal die Redder kom, en Hy sal die goddeloosheid van sy volk Jakob verwyder. 27En hierdie verbond sal Ek met hulle sluit wanneer Ek hulle sondes wegneem.”
Vergelyk ook Ef. 1:9-10 – “God het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 10en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus.”
Dit is goed om net mooi te kyk wat Paulus hier skryf. Die geheim waarna hy verwys, gaan nie oor ‘n geheim wat hy in ‘n paar uitverkorenes se ore wil fluister nie. Inteendeel, dit is iets wat “God kragtens sy besluit en voorneme van sy wil aan ons bekend gemaak het.” Verskeie Bybelverklaarders is dit eens dat hier nie staan wánneer die “hele Israel” gered sal word nie, maar hóé hulle gered sal word, en dit is “op hierdie manier.” Hoe is dit? Die verharding van ‘n gedeelte van Israel sal voortduur solank as wat die heidene tot geloof kom, en dit kan duur tot die wederkoms van Christus. Paulus bedoel hier ook nie dat “al die heidene” en die “hele Israel” eers tot bekering moet kom nie (“in die koninkryk ingaan”), maar die “volle getal”, ‘n gepaste hoeveelheid volgens God se wil.
Daar is dus geen sprake van ‘n “massa volks- of heidenbekering” nie. Hierdie vertolking word gesteun deur Paulus se aanhaling uit Jesaja 59:20-21: “Uit Sion sal die Redder kom, en Hy sal die goddeloosheid van sy volk Jakob verwyder. 27En hierdie verbond sal Ek met hulle sluit wanneer Ek hulle sondes wegneem.” “God se geheim” het te make met sý soewereine besluit, wat Hý beplan oor die einddoel van die wêreld en wat die uitkoms van sy wil gaan wees wanneer die wêreldgeskiedenis verby is en hierdie wêreld tot niet sal gaan. God onthul hierdie geheim deur die Gees aan Paulus en ons, alleen uit genade, want ons kan niks bydra tot alles wat God vir ons gedoen het nie. Trouens, “die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie” (1 Sam.15:29).
Prof. Wim Vergeer voeg die volgende by: “Deur die eeue was, en is daar steeds baie meningsverskille oor die betekenis van ‘die hele Israel’ waar ‘n grootskaalse bekering onder die Jode gaan plaasvind voor Jesus se terugkeer. Alhoewel só ‘n interpretasie nie onmoontlik is nie, (vir ons Almagtige Vader is álles moontlik), moet ons egter steeds begryp dat ‘die hele Israel’, net soos die ‘volle getal uit die heidennasies’, nié alle mense insluit nie. God het géén ander manier van redding openbaar as die redding deur geloof in Jesus Christus nie!”
“Op die tyd wat God daarvoor bepaal het”, sal God die wêreldgeskiedenis tot ‘n finale punt bring. Daardie dag sal God se “geheim van sy raadsplan”, ten uitvoer gebring word wanneer Hy “alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is onder een hoof sal verenig, naamlik onder Christus.” Dan sal daar weer harmonie tussen God en mens, tussen ons mense onderling, tussen mens en die skepping, uiteindelik op ‘n magtige eenheid van verlostes, saamgevoeg word onder Éen Hoof, Jesus Christus ons Here!
Soos ‘n kind wat ‘n geheim nie lank kan hou nie, maak Paulus bekend dat die evangelie nie net vir die Jode bedoel was nie, maar dat álle mense ook daaraan deel kan hê, dat Jode en nie-Jode mekaar bevoordeel. God het oorspronklik dit só bedoel dat Israel hulle seëninge met nie-Israeliete sal deel toe Hy vir Abraham meegedeel het: “In jou sal al die volke van die aarde geseën wees” (Gen. 12:3b). Dit het in die Nuwe Testament ‘n werklikheid geword met die geboorte van Jesus Christus.
Geen wonder ou Paulus kon hierdie geheim nie te lank vir homself hou nie – álle mense kan deel in God se mooi beloftes (Ef. 3:6). Omdat ek en jy vrye toegang tot die Bybel het, kén ons eintlik die “geheim” van God se genade wat vir alle mense beskikbaar is, maar anders as kinders wat nie ‘n geheim kan hou nie, hou ons dalk die geheim te lank vir onsself. Gelukkig het ons gelowiges ‘n “geheimverklapper” wat in ons leef – die Gees van God!
Kom ons vra die Gees om ons Leidsman en Gids te wees, sodat ander ook die geloofspad na Christus toe sal vind, hulle wat nog nie die regte pad ken nie, asook diegene wat die pad byster geraak het en telkens by die verkeerde adres uitkom. Ek en jy moet net met ontvanklike harte mooi luister na die Heilige Gees. Hy sal ons help om God se geheim aan ander te gaan oordra. Die adres van die ewige lewe is by die Vaderhuis en die Weg daarheen is deur Jesus Christus, ons Here! (Joh. 14:6). Jesus se “dit is volbring”, aan die kruis, is my en jou se nuwe begin!
“Die Gees van Christus is ‘n Gees van getuienis en hoe nader ons aan Hom leef, hoe meer passievol word ons getuienis” (Henry Martyn).
Gebed: Here, hoe kan ek ‘n getuie vir U wees? Ek raak huiwerig en sommer lam deur hierdie oorweldigende gedagte. Maar dan val dit my by dat U eenvoudige vissermanne en selfs Paulus, wat eers gelowiges vervolg het, deur die krag van U Gees, vreesloos standpunt laat inneem het, en miljoene tot geloof in U laat kom het. My Here en Saligmaker, besiel my deur U Gees sodat ek ‘n brandende getuie van U verlossing en liefde sal wees. Praat deur my sodat mense die eggo’s van U stem hoor, daar waar U my geplaas het om te werk, te leef en te getuig. Amen.

Comments