top of page

Gedagte vir Vandag

  • 3 hours ago
  • 4 min read

Vrydag, 20 Februarie 2026

Koos Espach


Die toekoms van Israel (4)

 

Die Here hou my vas

 

Rom. 11:29 – “As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.”

 

Vergelyk ook Joh. 10:28-30 – “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30Ek en die Vader is een.”

 

Baie mense neem vandag se twee teksverse uit God se Woord, as ‘n vrypas vir die lewe aan. Baie sal ook bevestig dat wanneer hulle sterf, hulle honderd persent seker is dat hulle hemel toe gaan want Paulus beklemtoon dit in Romeine 11:29 én Jesus bekragtig dit in Johannes 10:28. Sommige sien selfs Johannes 10:28-30 as Jesus se lewenspolis aan ons. Dit klink alles goed en reg en God is mos onveranderlik in sy trou. “God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie, ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?” (Num. 23:19).

 

Die vraag bly egter: Gee dit ons die reg om nou maar op aarde te leef soos ons wil? Spot ons nie dalk met God nie, sal ons nie dalk oes wat ons saai nie? (Gal. 6:7). Dit klink mooi om te sê ek is ‘n Christen, maar is ek ‘n dissipel? Indien wel, van wié? Jesus dra my as een van sy “skape” in sy hande en “niemand sal (my) uit sy hand ruk nie.” Maar wanneer sit Hy my neer sodat ek self kan loop en wat gaan gebeur as Hy my neersit?

 

Die “ewige lewe” is ’n lewe waaraan die dood nooit ’n einde kan maak nie, en wat deur blywende geluksaligheid gekenmerk word. Dit is nie net in die toekoms weggelê nie, nee, Jesus gee dit nóú reeds in hierdie lewe. Met hierdie toesegging bevestig Jesus dat Hy veel meer vir sy skape kan doen as ’n aardse herder. Hy beskik oor die mag om lewe te skenk wat oor die dood heen strek, en so iets kan alleen God doen, en “Hy en die Vader is een!” Jesus bevestig sy goddelikheid deur weer na sy eenheid met sy Vader te verwys.

 

Die “skape” wat so begenadig is, sal “nooit verlore gaan” nie. Hulle kan nie “van die herder afgedwaal raak” en buite sy bereik en bewaring beland nie. So iets sal nooit gebeur nie. As iemand eenmaal in wáárheid die “skaap” van hierdie goeie Herder geword het, sal die Herder sy eiendom bewaar. Hiervolgens wys Jesus weer op die verkiesende genade van God en met nadruk word hierdie versekering herhaal: “Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” Geen dief of rower kan so slu en sterk wees dat hy ’n kind van God uit die mag van Jesus Christus kan ruk nie.

 

Dit is die enigste ware basis van sekerheid in hierdie lewe – dat Jesus sy skape, ons Christen-gelowiges,  vashou. Geen gelowige wat weet hóé sterk die Here hom of haar vashou sal ooit wil los nie! Geen gelowige wat weet hóé sterk die Here hom of haar vashou sal ooit sê: “Ag nou hoef ek nie meer om te gee nie, Hý hou my mos ...” Nee! Daarom sê die Here uitdruklik: “Dit is húlle wat My volg” (Joh. 10:27). Dit gaan oor hoe sterk ons sy hand vashou en Hom volg. Dit is Jesus Christus se vashou, wat ons vashou tot gevolg het en aan die gang hou. ons mag nie nou maar maak en leef soos ons wil nie, maar uit dankbaarheid vashou sodat ons nie uit sy hande val nie.

 

Juis die feit en die wete dat Jesus my en jou nie los wanneer ons Hom los nie, wanneer ons struikel of verval in een of ander sonde, maak dat ons Hom nie wíl los nie! Natuurlik voel dit soms asof ons uit Jesus se hande gly, maar dit is net ‘n gevoel van kleingeloof wat in ons posvat. Die feit dat Jesus Christus as Plaasvervanger vir ons sondes vasgespyker is aan ‘n kruis, gee ons die versekering Hy sal ons nie neersit sodat ons ons knieë nerwe af val nie. Hy ken ons en verkies om ons liewer vas te hou want Hy weet dit is die veiligste plek vir ons. In sy deurboorde hande is ek en jy veilig en kan Hy elke oomblik ‘n ogie oor ons hou. Dankie tog, al verander alles rondom ons, God gaan nooit terug op sy planne nie: “Die planne van die Here staan vir altyd vas, sy besluite van geslag tot geslag” (Ps. 33:11). Ons kan met ons lewe daaraan vashou – ons het ‘n Anker – Jesus Christus! 

 

“Wat waar was in Paulus se dae, is steeds waar vandag. God verander nie soos die jare verander nie, sy beloftes staan vas” (Charles Spurgeon).

 

Gebed: Dankie Here dat ek van een feit seker kan wees, U verander nooit. Hou my asseblief styf vas sodat ek nie kan verdwaal nie. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page