Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 1 day ago
- 4 min read
Vrydag, 30 Januarie 2026
Koos Espach
Die verlossing van die heidennasies (8)
Hoogmoed kom tot ‘n val
Rom. 11:18-22 – “Moet jou dan nie bo die ander takke verhef nie! Moet jou ook nie verbeel jy is iets nie: dit is nie jy wat die wortel dra nie, die wortel dra jou. 19Jy sal wel sê: ‘Takke is uitgekap sodat ék daar geënt kon word.’ 20Dis waar. Hulle is uitgekap omdat hulle nie geglo het nie; jy is daar geënt omdat jy glo. Moenie daaroor hoogmoedig wees nie; hou rekening met God; 21want as Hy die natuurlike takke nie ontsien het nie, sal Hy jou dalk ook nie ontsien nie. 22Let dan op die goedheid en strengheid van God: sy strengheid oor die afvalliges, en sy goedheid oor jou. Maar dan moet jy uit sy goedheid lewe, anders kan jy ook uitgekap word.” (2)
Vergelyk ook Luk. 18:9-14 – “Met die oog op mense wat seker was dat hul eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10’Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander een ‘n tollenaar ...” (Lees asb die volledige gelykenis.)
Die gelowiges vanuit die heidennasies het geen grond vir selfverheffing oor Israel of rede tot hoogmoed nie. Trouens, niemand het nie! Ons moet rekening hou met God, in ootmoed alleen maar op die genade reken en in diepe ontsag vir God daaruit lewe. As God Israel nie ontsien het toe hulle uit hoogmoed nie van sy genade wou aanvaar nie, sal Hy ook die gelowiges uit die heidene dalk nie ontsien nie. Die verhouding tot God is nooit iets vanselfsprekends wat buite die geloofsverhouding om bestaan nie.
Wanneer ons die oorbekende gelykenis lees, van Jesus wat twee mense kerk toe bring – ‘n Fariseër en ‘n tollenaar – is die aanvanklike gedagte dat ons presies weet waaroor dit gaan – die hoogmoedige Fariseër teenoor die nederige tollenaar. In ons gedagtes het ons ook reeds kant gekies en klaar besluit ons hou nie van die verwaande en hoogmoedige Fariseër nie. Ons het heel moontlik hom ook al klaar veroordeel en die tollenaar as die held verklaar. Om die gedagte-prentjie te voltooi het ons heel moontlik reeds name van sekere mense in ons daaglikse omgang, by hierdie twee gevoeg. Dankie tog, ek is nie soos die Fariseër en dáárdie mense nie! Of is ek?
Jesus praat soos baie van ons dink – Hy veroordeel óók die Fariseër. Maar Jesus …, met respek, is dit nie vreemd nie want eintlik is die Fariseër nie so slegte ou nie? Hy aard in baie opsigte na baie van ons en is selfs ‘n voorbeeld vir baie Christene van vandag. Die Fariseërs was die godsdienstige mense van daardie tyd soos ons kerkmense die godsdienstige mense is van ons tyd.
Daarenteen is die tollenaars eintlik onverskillige mense, die wêreldse mense van ons tyd. Die Fariseër was die geestelike man wat nie geskroom het om enige plek die Here aan te roep nie, terwyl die tollenaar die vleeslike man is wat bekend was vir hulle skelmstreke en bedrog wat hulle gepleeg het. Die Fariseërs was meestal rein in hulle lewe en het hulle godsdiens en aanbidding van God met erns beoefen. Die tollenaars was volksverraaiers in diens van die Romeinse regering. Hulle het nie geskroom om hulle eie volksgenote in te loop en te verneuk nie.
Wat is Jesus se punt dan? Waarom het Jesus die uitspraak gemaak dat die tollenaar weggegaan het as iemand wie se saak met God reg is. Die geheim van Jesus se storie lê in die eerste vers daarvan. Daar lees ons: “Met die oog op mense wat seker was dat hul eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel …” Die Fariseër se fout was dat hy homself nie voor God gesien het nie, maar langs die tollenaar en toe lyk hy skielik baie groot in sy eie oë. Hy dank God eintlik net oor alles wat hy het en die mooi eienskappe wat hy besit. Hy gee homself 10 uit 10 vir sy godsdiens en geloof en in sy oë slaag hy die toets. Volgens sy godsdienstige lysie is al die boksies met selfvertroue, korrek afgemerk en net as ‘n kantlyn aantekening, dank hy God terloops daarvoor.
Is dit nie maar ‘n heenwyser na ons eie situasie nie? Is baie van ons nie soms ook soos hierdie Fariseër nie? Kan ons eerlik ontken dat ons nie onsself al gemeet het aan die lewe van ander mense nie? En so bepaal ons ons eie waardes – deur te let op die waardeloosheid van ander – en voeg ons by: o ja, dis net genade. Maar genade verdoof niks – dit vlek oop, dit ontmasker, dit lê bloot al wat ʼn skande en ʼn skaamte is wat ons om die dood nie wil hê ander moet van weet nie, veral nie kerkmense nie. Genade proe die ene kruis, lyk na bloed en ruik na die dood. Dit sit die ligte af op ons prestasie, ons trots, ons hoogmoed en fokus in op my en jou verleentheid. Genade is nie die gemaklike “default” opsie nie, dis nie die maklike uitweg nie, dis nie geloof se gemaksone nie.
Genade sê ek en jy is nie goed genoeg nie! Ons het so drooggemaak dat ons nie meer self daar kan uitkom nie. Genade laat ons besef ons sal elders ʼn regmaker moet loop soek. Ons het Iemand anders naas onsself nodig. Hier leer ons eintlik wat afhanklikheid beteken. Genade sit stukkende mense aanmekaar! Ek en jy moet egter eers stukkend wees voor genade soos medisyne voel, voor die regmaker “inskop”, en ons Iemand anders gevind het – Jesus Christus ons Here!
“Net die duiwel sien die hoogmoed wat in jou hart groei omdat jy tog só góéd is!” (C.S. Lewis).
Gebed: Hemel Vader, terwyl ek U dank vir U genade dat U my so ‘n modelmens gemaak het, moet ek nie vergeet van my eie misvormdheid, onvergeeflikheid en misgrype in die lewe nie. Weerhou my om my tydelike waardes teenoor ander te meet en eerder dit aan U waardes te koppel – ewigheidswaardes! Laat my onthou Here, dat U my gemaak het om my naaste lief te hê en nie hoogmoedig op hulle neer te sien nie. Amen.

Comments