Gedagte vir Vandag
- 7 days ago
- 4 min read
Vrydag, 6 Februarie 2026
Koos Espach
Die verlossing van die heidennasies (11)
Jesus is óók altyd beskikbaar
Rom. 11:23-24 – “En wat hulle betref, as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal hulle ook geënt word, want God is in staat om hulle terug te ent. 24As God jou uit die wilde olyf, waar jy van nature hoort, kon uitkap en teen jou natuur in op die mak olyf kon ent, hoeveel te meer sal Hy die mak takke op hulle ou boom ent.” (2)
Vergelyk ook Matt. 28:18-20 – “Jesus kom toe nader en sê vir (sy dissipels): ‘Aan my is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Ons sluit aan by Woensdag se dagstuk met Jesus se belofte: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Matteus sluit sy evangelie af met hierdie kragtige bevestiging en vaste wete in die hart, dat Jesus Christus in sy volheid met sy kerk sal wees tot en met die voleinding van die tye. Dit is Jesus se gesagvolle teenwoordigheid wat sal verseker dat die opdrag aan die kerk, om alles wat Hy sy volgelinge geleer het, aan alle nasies te gaan verkondig, sal slaag. Daarmee word elke gelowige se lewe verseël met die heerlike waarborg van God die Vader wat bo ons troon, Jesus Christus wat by ons is, en die Heilige Gees wat in ons woon.
Jesus bemagtig sy dissipels om as die draers van God se boodskap van goedheid, liefde en genade, na al die nasies te neem. Dit was nie asof hulle die vooraanstaandes van die gemeenskap of enige spesiale eienskappe gehad het nie, inteendeel, meeste van hulle was vissers. Hulle het egter die bal aan die rol gesit en die “aflosstokkie” van geloof aan alle Christene aangegee om as getuies van die Evangelie, “tot aan die voleinding van die wêreld, mense te leer om alles te onderhou wat Hy ons beveel het.”
Die wonderlike versekering van Jesus se opdrag aan ons, is dat Hy ons metgesel sal wees tot aan die einde van hierdie tydvak. Dit is ‘n belofte aan elke gehoorsame dissipel van Hom. Dit beteken dat ek en jy nie nét elke dag op Jesus se teenwoordigheid kan reken nie, maar vir élke oomblik van élke dag. Ek en jy moet net ‘n gevoel van sy teenwoordigheid aankweek. Hy is onveranderlik en daarom behoort ons dankbaar te wees dat ons só geseënd is dat Hy dwarsdeur ons lewe, aan ons sy is, in elke situasie en omstandigheid, maak nie saak of dit goed of sleg gaan nie.
Ons pad wat ons loop moet ‘n ander storie vertel. As ons beweer ons is God se kinders, het ons immers ‘n verhaal van hoop om te vertel en uit te leef. Ja, ek weet, dis nie maklik nie. Ons Christene worstel ook baie met die vraag: “Hoekom laat ons God van liefde, slegte dinge met goeie mense gebeur?”
Ek haak baie keer by hierdie vraag vas en raak ook moedeloos en dan sing ek ook uit volle bors saam in die gewilde koor van klaers ons trefferlied: “Dis klaar met Suid-Afrika!” Ek is al by die vierde vers wat begin met: “Hier is geen toekoms meer vir ons nie!” Dalk ken jy wat hier lees ook ‘n vers of twee wat jy kan byvoeg. Wat moet ons maak met die swaar, die moeilikheid, die ongewensde lyding wat so nou en dan aan die deur van ons lewe kom klop, by sommige meer as ander? Dit wag nie eers dat ons die deur oopmaak nie, dit bars sommer onverwags in. Dan “flip” ons wêreld om en word ons gekonfronteer met vrae wat ons nie eers geweet het bestaan nie, wat nog te sê van die antwoorde? Dit is ‘n donker kruispad waarop ek en jy ons soms bevind en dan wonder ons hoe gemaak vorentoe? Wie sal ons help om hierdeur te kom?
Wel, Jesus gee die antwoord. Hy is ons Padbouer. Ek en jy moet net bereid wees om by sy voete te gaan sit. “Hy is by ons al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Hy gee ons krag. Die Heilige Gees sal saam met ons stap en ons die wysheid gee. Ons weet wie ons backup is. Hierdie belofte is ook ons s’n. Ons “moet dus nie toelaat dat daar ‘n krakie in ons geloofsvertroue in God kom nie. Wie op God bly vertrou, sal ‘n groot beloning by Hom kry” (Heb. 10:35).
Dit is ons Here se lied. Ons kan eerder ons stem as deel van God se koor voeg met “volharding wat ons nodig het om die wil van God te doen en ontvang wat Hy beloof het” (Heb. 10:36). Op ‘n wonderbaarlike manier sal Hy voorsien. Ja, dalk heel anders as wat ons verwag het, maar ons moet uithou, aanhou, vashou. Dit wek die versekering dat Hy vir altyd, tree vir tree, saam met ons is! Ek en jy kan op sy teenwoordigheid staatmaak! Ons is mos geënt op Hom.
“Jesus Christus is die grootste invloed in die wêreld van vandag. Daar word deur sy gesag ‘n vyfde Evangelie geskryf: Die werk van Jesus Christus in die harte en lewe van mense en nasies” (Griffith Thomas).
Gebed: Hemelse Vader, ek sukkel om te glimlag wanneer wanhoop by my deur inbars en my wêreld soos ‘n kaartehuis inmekaar tuimel. Dit is dan wanneer ek soos Jesus wil vra waarom U my verlaat het? Maar dan besef ek ook dat U belowe het U my nooit sal verlaat nie, maak nie saak wat oor my pad mag kom nie. Dankie dat ek my wanhoop by U kan laat, dat ek in elke krisis my toevlug tot U kan neem. “In al hierdie dinge is ek meer as ‘n oorwinnaar deur U wat my liefhet” (Rom 8:37). Amen.

Comments