top of page

Gedagte vir Vandag

  • 4 days ago
  • 4 min read

Maandag, 9 Februarie 2026

Koos Espach


Die verlossing van die heidennasies (12)

 

God se ompad

 

Rom. 11:23-24 – “En wat hulle betref, as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal hulle ook geënt word, want God is in staat om hulle terug te ent. 24As God jou uit die wilde olyf, waar jy van nature hoort, kon uitkap en teen jou natuur in op die mak olyf kon ent, hoeveel te meer sal Hy die mak takke op hulle ou boom ent.” (3)

 

Vergelyk ook Eks. 13:18 – “Daarom het God die volk met ‘n ompad laat gaan, met die woestynpad ...”

 

God se verhouding met die Ou volk Israel het eeue voor Paulus se geboorte al begin. Hulle verhouding met God was ‘n samehang van vrees en soms sonder vertroue en ongeloof, vertroue en ongeloof wat gelei het tot angstigheid. Tog was hulle soms vol selfvertroue wat gelei het tot selfverheffing en hooghartigheid. Iemand het gesê dat dit God een dag geneem het om Israel uit Egipte te kry, maar Hy veertig jaar gesukkel het om Egipte uit Israel uit te kry. Hulle het baie dae die barre woestynsand gesien en hulle lot bekla en terugverlang na Egipte se vleispotte. Die wonder van die lewende God van die woestynsand, het “verdwyn.”

 

Hulle het nie die ironie van God se genade besef nie. Hierdie beginsel word vir ons duidelik uitgespel in die benadering van die twaalf verspieders van Israel. Tien van hulle het ‘n verslag teruggebring van die beloofde land Kanaän dat dit onmoontlik is om teen die ‘reuse’ te veg (Num. 13:31-33). Dit terwyl God besluit het Kanaän is hulle erfporsie. Hulle moes net in geloof optree om Kanaän in besit te neem. Hulle het egter hierdie erfenis vir ‘n hele geslag verbeur omdat hulle op hulself staat gemaak het, en nie God nie (Num. 14). Israel sou egter geestelik meer arm gewees het as God hulle nie vir veertig jaar op ‘n ompad gelei het na die beloofde land nie, want dié ompad was ‘n ontdekkingspad, ‘n suiweringspad, ‘n ontmoetingspad!

 

Israel se ompad is vandag steeds van teologiese waarde vir ons. Die lewe loop soms liederlike en ongevraagde draaie met ons wat ons nie kan verstaan of wil verstaan nie. Ons hou nie van ompaaie nie. Ons is geneig om altyd die kortste en maklikste pad te soek. Wanneer ons swaarkry, dink ons God staan koud teenoor ons, Hy steur Hom nie aan ons gebede nie, Hy is onbetrokke teenoor ons nood en behoeftes.

 

Wat God destyds met sy volk gedoen het, doen Hy vandag nog met sy kinders. “As God ons uit die wilde olyf, waar ons van nature hoort, kon uitkap en teen ons natuur in op dié mak olyf kon ent,” het Hy beslis ‘n plan daarmee. Ons verstaan moontlik nie altyd nie, want ons insig sowel as uitsig is maar beperk. Ons sien net ‘n stukkie van die pad terwyl God ons hele pad ken. Daarom bewaar Hy ons van ons woestynpad, die onbekende gevare en versoekings wat ons op ons korter pad sal vind: “God het hulle nie die kortste pad laat vat nie, want as hulle in ‘n geveg betrokke raak, kan hulle dalk spyt kry en na Egipte toe terug wil gaan” (Eks. 13:17).

 

God wag vir die regte tyd, en dit behels nie ons tyd wat horlosietyd is nie, maar God se ewigheidstyd. Daar is sekere dinge wat ons eers moet leer en ondervind in hierdie tyd, wat ons vorentoe gaan nodig kry. God toets ons geloof op ons ompad, die woestynpad, die krisispad, die hartseerpad, die siektepad, die alleenpad. Dit voel asof God ons weghou van die volheid van die “Beloofde Land’-belewenis van die Nuwe Testament.

 

Maar, ons geloof word nie getoets as alles voor die wind gaan en ons hoogmoed ons laat glo ons het self daardie pad gevind nie – “Moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie ...” (Heb. 12:5). Ons self gevonde pad kan veroorsaak dat ons dink ons kan onafhanklik van God “operate” terwyl ons op die ompad gou leer dat ons God eintlik nodig het – “Op die woestynpad dra God ons soos ‘n man wat sy kind dra” (Deut. 1:31).

 

Ons moet God op ons ompad vertrou. Op daardie ompad ervaar ons God se teenwoordigheid, geniet ons sy beskerming, ondervind sy sorg en leer ken Hom as ons enigste ware God – “Weet dan nou en neem dit ter harte: die Here is God, In die hemel daarbo en op die aarde hieronder is daar nie nog ‘n God nie” (Deut. 4:39). Wat ons dink vir óns goed is, is nie altyd die beste vir ons nie. God wat ons reeds voor ons geboorte geken het, wil ons net die beste gee – al moet ons eers op die ompad al die probleme ondervind – “Ek weet wat ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting” (Jer. 29:11). Ons ompad, is God se op pad! Vertrou Hom ten volle daarmee.

 

“Die lewe het sy donker tye wanneer daar geen ander uitweg is nie as om aan te hou en uit te hou en vas te hou aan God, nee, meer: om toe te laat dat God jóú vashou’ (William Barclay).

 

Gebed: Hemel Vader, dit voel soms vir my of ek elke dag my op ‘n ompad bevind, veral wanneer alles nie na my sin verloop nie. Maar dankie dat ek weet ek is nie alleen op die ompad nie, U loop saam met my. Dankie dat U my krag gee om hierdie ompad te loop want ek weet, U ompad is my op pad. En op die regte tyd, U tyd, sal ek my regte bestemming veilig bereik want U het dit moontlik gemaak deur Jesus Christus. Ek bid ook vir elkeen wat hulle op die verkeerde pad bevind, “sodat hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, en ook geënt word.” Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page