Gedagte vir Vandag
- 42 minutes ago
- 4 min read
Vrydag, 13 Februarie 2026
Koos Espach
Die toekoms van Israel (2)
Luister na God se geheim
Rom. 11:25a – “Ons staan hier voor ‘n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie.”
Vergelyk ook Ef. 3:5a-6 – “Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekendgemaak ... 6En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.”
Ons wat hier lees en oor dié Pauluswoorde nadink, moet nie vergeet watter omstrede kwessie die sogenaamde vreemdelinge in daardie eerste Christusgemeentes was nie. Dit was mense wat voorheen afgode aanbid het – nie-Jode tussen Jesusvolgelinge en selfs tussen Jode wat nie Christus as die Messias wou aanvaar nie.
Aan vorige geslagte is die geheimenis nie in dieselfde mate bekendgemaak soos wat God dit aan Paulus bekendgemaak het nie. Deur die profete is verkondig dat die heidene deur Israel deel sou kry aan die verlossingswerk van God. Dat dit sonder die opname in Israel deur die besnydenis, en sonder dat wetsvervulling sou gebeur, is meer as wat ooit verwag was.
Dit is altyd lekker om in ‘n geheim te mag deel, nie waar nie? Dit is altyd vir my skreeusnaaks om te sien hoe kinders met geheime maak. Eers sê hulle vir jou: “Ek het tog ‘n geheim!” sodra hulle sien dat jy nuuskierig is, is hulle vinnig by met: “Ek mag dit nie vertel nie!” Maar wanneer jy belangstelling verloor, is hulle net so vinnig met: “Ek gaan jou vertel maar jy mag niemand sê nie!”
Dit lyk amper asof Paulus hier in ons leesstuk net so “kinderlik” met sy geheim omgaan. Maar amper soos ‘n kind dit om die dood nie lank ‘n geheim kan hou nie, kom hy uit daarmee. Die geheim is nie meer geklassifiseer nie. Die plakker op die hemelse lêer “Hoogs Geheim”, kan maar verwyder word. Paulus mag maar uitpraat. Of liewer, hy móét uitpraat. Hy moes God se geheim gaan verklap aan almal wat hy in die hande kan kry. En die geheim: “Álle mense is deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en almal kan deel in God se mooi beloftes.” In Christus het almal een geword. God se genade is vir baie meer mense bedoel as net vir Israel.
God het spreekwoordelik die deur van die hemel vir alle mense oopgemaak. God het eeue lank hierdie plan vir mense gehad. ’n Plan só groot, só genadig, só geweldig, só onpeilbaar in oorsprong, omvang en uitvoering dat die mensdom dit nooit sonder God se openbaring sou kon begryp nie. Dit is natuurlik ‘n tydlose boodskap, ‘n ewige waarheid: Christus het die skeidsmuur tussen God en mens afgebreek, én tussen mens en mens. Omdat ek en jy vrye toegang tot die Bybel het, ken ons die “geheim” van God se genade wat vir almal beskikbaar is, maar ken álmal dit?
Die hoogtepunt in Jesus se lering op aarde word saamgevat in die Groot Opdrag: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt. 28:19). Maar Here ... wanneer, waar, waarom, hoe en deur wie? Die eerste en mees vanselfsprekende antwoord by talle mense is dat die kerk die liggaam is onder leiding van Christus, en dit dus hoofsaaklik die taak van die leraar is om siele vir Christus te wen. Hulle is mos teologies en geestelik opgelei soos wat Jesus die dissipels gekies en opgelei het om die Ware Woord te gaan verkondig.
Dit is egter nie ‘n aanvaarbare verskoning nie. Dié opdrag is aan elke volgeling van Jesus gegee, nie net leraars en sendelinge nie. Wat beteken dit in eenvoudige Afrikaans? Jesus sê: “Neem My werk verder net daar waar Ek jou geplaas het om te leef en te werk. Moenie terugkyk na jou ou lewe waar jy My verloën het nie. Neem jou rentmeesterskap wat gaan oor jou loopbaan, jou tyd, jou bates, alles wat Ek aan jou toevertrou het, en laat My toe om Heer en Koning te wees daaroor.”
Om te getuig vír Jesus en óór Jesus, is nie ‘n eenmalige heldedaad nie, dit is ‘n jare lange volgehoue doen van dade, liefde en opoffering wat dikwels heel onsmaaklik is. Ons kan dit ook nie alleen doen nie, maar "Omdat ons Sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur” (Gal. 4:6). Ons word inderdaad hemelse sout vir ‘n smaaklose wêreld! Ek nooi jou graag uit, bid saam met my: “Here, wie het U vandag in my lewe geplaas sodat ek hom of haar van U kan vertel?”
“Getuienis is om die verskillende struikelblokke van ons selfliefde te verwyder, sodat Christus wat in ons woon, Homself aan ons medemens kan vertoon” (Paul Frost).
Gebed: Here, laat my omgee vir dinge waarvoor U omgee, en ja, waarvoor U die meeste omgee, is die redding van die mense wat U geskep het. Ek kan hulle nie red nie, maar maak my hande nou die hande waarmee U, U werk wil doen; my voete die voete waarmee U in hierdie wêreld wil rondgaan; my oë die oë waarin mense nou U deernis en ontferming kan sien uitstraal na hierdie hartseer wêreld. Here, ék is nou U liggaam hier op aarde. Gebruik my soos U goeddink! Amen.

Comments