top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 1 day ago
  • 4 min read

Woensdag, 4 Februarie 2026

Koos Espach


Die verlossing van die heidennasies (10)

 

God se deur bly oop, Hy laat ons nooit in die steek nie

 

Rom. 11:23-24 – “En wat hulle betref, as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal hulle ook geënt word, want God is in staat om hulle terug te ent. 24As God jou uit die wilde olyf, waar jy van nature hoort, kon uitkap en teen jou natuur in op die mak olyf kon ent, hoeveel te meer sal Hy die mak takke op hulle ou boom ent.” (1)

 

Vergelyk ook Heb. 13:5b-6 – “God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie. 6Daarom kan ons met vertroue sê: ‘Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?”

 

Die bekende prediker Charles Spurgeon het gesê: “God waak oor die genade as sy ‘genade van die verlossing’, en daarom word slegs diegene wie in sy genade bly, gered.” Dit is dan ook ‘n uitgemaakte saak dat die “uitgekapte mak takke (Israel) op hulle ou boom terug geënt” kan word. God se goedheid bly dus vir Israel ‘n werklikheid. As Israel, en ál die ander afgedwaaldes, maar net kan begryp “om nie in hulle ongeloof te volhard nie, is God in staat om hulle terug te ent.” 

 

As dit vir God moontlik is om die heidene “uit die wilde olyf, waar ons van nature hoort”, téén die natuur kon inbring in die volk van God in, hoeveel te meer kan Hy die ‘kleiner wonder’ van Israel, wat nog steeds ‘n bepaalde band aan “die wortel van die boom” behou het, weer terugbring in die gemeenskap van sy verloste volk. Die verwerping van die Jode in Jesus se tyd was nie finaal nie. Hulle sal weer op hulle eie stam geënt word as hulle net vir Christus as hulle Messias wil aanvaar. En dit kan makliker gebeur as met ons, want Christus is Messias van die “mak takke”. Die bottom line is: Ons mag nie ‘n deur as toe beskou, wat God oophou nie!

 

En dit is die misterie van God – God laat ons nooit in die steek nie: “God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” En dit bring ons by die vraag: In watter rigting loop ons gedagtes? Bedink ons die dinge wat God sê of is ons gedagtes gevul met ons eie dinge? Herhaal ons maar net God se woorde of leer ons om werklik te luister wat God sê?

 

God het gesê: “ ... Ek sal jou nooit verlaat nie ...”. Dit sluit in dat Hy ons nie sal verlaat om énige rede nie; nie oor ons sonde, selfsug, koppigheid of eiesinnigheid nie. Indien ons nog nie gehoor het dat God dit vir ons gesê het nie, moet ons weer luister! “Ek sal jou nooit in die ... steek laat nie.” Hoor ons God se versekering wanneer die een curveball na die ander ons lewe versuur? Dit is nie maar net woorde wat in die Bybel staan nie, dis God se woorde! Solank ons net “nie volhard in ongeloof nie, sal ons geënt word.”

 

“God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” My en jou versekering moet op God se versekering gegrond wees. God sê Hy sal ons nooit verlaat of in die steek laat nie, sodat ons met vertroue kan sê: “Die Here is my helper, ek (en jy) ken geen vrees nie.” Met ander woorde – wanneer dit vir ons voel dat alles skeef loop en daar niks of niemand is om ons te help nie, kan ons God se versekering onthou en vir onsself sê: “Die Here is ons helper, ook op hierdie einste oomblik in selfs ons huidige slegte omstandighede.”

 

Wanneer ons fisiek of emosioneel ongesteld is, kan ons met vertroue God se teenwoordigheid soek en beleef. Sy teenwoordigheid is nie afhanklik van ‘n besondere plek of omstandigheid nie, maar slegs van ons vasberadenheid om sy versekering voortdurend te onthou. Ons probleme ontstaan wanneer ons weier om ons vertroue in die realiteit van God se teenwoordigheid te plaas. Eers wanneer ons bou op die realiteit van God se teenwoordigheid, nie net op die bewustheid daarvan nie, kan ons saam met die psalmis in Psalm 46:3 sy ervaring deel: “Daarom is ons nie bang nie ... al gee die aarde pad ...” En selfs dan erken: “Ai, maar ek was simpel. God was dan nog die hele tyd hier by my!”

 

“God se genade beteken nie dat Hy altyd ons moeilike situasies verander nie, maar dat Hy altyd teenwoordig is om ons swaarkry raak te sien, en afbuig en ons ín ons situasie vashou” (John Stott).

 

Gebed: Hemelse Vader, help my om te onthou dat U “my nooit sal verlaat of  ooit in die steek sal laat nie.” Dankie dat U my in tye van verwarring lei en weer rigting gee; in tye van droefheid vertroos en bemoedig; in tye van versoeking versterk en inspireer; in tye van eensaamheid opbeur. Dankie dat daar niks is wat my van U liefde kan skei nie. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page